Taxiraad moet bewys dat stappe gedoen is om geweld te stop

‘n Uitgebrande Golden Arrow bus in Kaapstad. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Daniel Steyn, GroundUp

Regter Patrick Gamble het Dinsdag gesê die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) moet bewys dat hy aan ʼn interdik gehoor gegee het wat Sondag deur die Kaapse hooggeregshof toegestaan is.

Dié interdik het Santaco opdrag gegee om redelike stappe te doen om te verseker dat die werknemers en passasiers van die Golden Arrow-busdiens nie aangeval, geteister of geïntimideer word nie.

Die interdik bepaal ook dat geen Santaco-lid skade aan hierdie busdiens se eiendom mag aanrig nie, en dat die raad se taxibestuurders nie met Golden Arrow se bedrywighede mag inmeng nie.

Santaco moes ook volgens die hofbevel ʼn verklaring aan sy lede uitgereik het wat hulle van die interdik in kennis stel en hulle vermaan om vreedsaam te staak.

Lede van Santaco lei al vir dae lank ʼn gewelddadige staking wat dele van Kaapstad lamgelê het, en reeds vyf menselewens geëis het.

Maandag was daar boonop nog Golden Arrow-busse wat in ligte laaie was en die busbestuurders is ook aangeval.

Die busdiens het hom dieselfde dag nog vir die tweede keer na die hof gewend, waar Gamble gesê het dat ʼn versperring op die N2 in die vroeë oggendure ongetwyfeld ʼn verontagsaming van die interdik is.

Gamble het Dinsdagmiddag beslis dat Santaco teen Donderdag om 12:00 bewyse moet lewer dat hy “redelike stappe gedoen het om die geweld en wetteloosheid” te stop.

Die regter het Santaco ook opdrag gegee om al die name van sy lede te verskaf wat vroeg Maandagoggend in hegtenis geneem is vir hul betrokkenheid by die versperring op die N2.

Wanneer Golden Arrow en Santaco later vandeesmaand weer na die hof terugkeer, moet Santaco ook bewys waarom hy nie skuldig is aan minagting van die hof vir sy oortreding van Sondag se interdik nie.

Gamble het ook Maandagaand ʼn interdik aan die Stad Kaapstad toegestaan wat enige persoon of voertuig verhoed om die metro se paaie “onredelik te versper” met die doel om passasiers wat ander openbare vervoer gebruik, leed aan te doen of te vertraag.

Lede van die taxibedryf word ook luidens hierdie interdik verhoed om binne 100 m van enige ander vervoerdepot te kom.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Breek santaco se rug en stel ‘n voorbeeld vir die res van Suid-Afrika dat as bevoegde leiers regeer ‘n land se vooruitgang verseker is.

TheSnake ·

Ek verstaan nie die interdik dinge nie. Beteken dit jy mag ander mense se eiendomme afbreek en afbrand, maar as daar ‘n interdik is, dan mag nie?

Pieter ·

Hoekom n interdik. Is daar nie wette om die tipe misdaad te stop nie.

Kobus ·

Is hierdie SANTACO nie ‘n groepering van narre nie? Hulle is die ene onskuld en die eise wat hulle stel! Lagwekkend maar ook kommerwekkend. Bid jou aan, die padreëls moet volgens hulle vereistes aangepas word. En dan is daar mense soos Cele en die minister wat hulle ondersteun. Liewe genade

Linda ·

Hoeveel keer nog moet Golden Arrow hof toe gaan en niks gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.