Teel, uitvoer van tiere in SA ‘floreer’

Die teel van leeus vir kommersiële jag en die uitvoer van beendere is wettig in Suid-Afrika, maar die afgelope paar jaar het die teel van tiere vir soortgelyke doelwitte al hoe meer algemeen geword. (Foto: Four Paws/Facebook)

Suid-Afrika se wettige leeuteelbedryf het ʼn tierboerderybedryf vir kommersiële uitvoere tot gevolg gehad wat moontlik ʼn gevaar inhou vir ʼn spesie waarvan die getalle reeds afneem.

Die teel van leeus vir kommersiële jag en die uitvoer van beendere is wettig in Suid-Afrika, maar die afgelope paar jaar het die teel van tiere vir soortgelyke doelwitte al hoe meer algemeen geword.

ʼn Verslag deur die internasionale diereregtegroep Four Paws wys dat 359 tiere – byna ʼn tiende van die wêreldwye tierbevolking – tussen 2011 en 2020 deur Suid-Afrika uitgevoer is.

Omtrent 255 van dié diere is aan dieretuine verkoop.

Tiere is nie inheems aan Suid-Afrika nie en geniet geen wetlike beskerming in die land nie, sê die organisasie. Daar is “skuiwergate wat sakemodelle toelaat om te verander”, sê Kieran Harkin, ʼn wildlewekenner verbonde aan Four Paws.

“Die mark in Asië was reeds daar, die aanvraag was daar en dit het dus sin gemaak vir telers om oor te skakel na tiere, wat selfs meer winsgewend as leeus is,” sê hy.

Suid-Afrika het geen amptelike syfer oor die getal tiere in die land nie.

Four Paws doen nou ʼn beroep op Suid-Afrika om die kommersiële teel van die groot katte te staak. Die daling in tiere se bevolkingsgetalle word onder meer toegeskryf aan die verkoop van die diere aan Asiese lande.

“Ons vra Suid-Afrika om op te hou om die handel te ondersteun, natuurlewe te verdedig en nie die handel in ʼn spesie waarvan die getalle reeds afneem, te bevorder nie,” het Harkin uit Londen gesê.

Hy het Suid-Afrika daarvan beskuldig dat die land internasionale wetgewing – wat bepaal dat tiere nie geteel mag word vir die handel in hul liggaamsdele nie – verontagsaam. Die regering het onderneem om later op Four Paws se oproep te reageer.

As die grootste uitvoerder van die liggaamsdele van groot katte word daar by Suid-Afrika gepleit “om die rol om te keer en ʼn leiersposisie in die beskerming van natuurlewe” en “ikoniese spesies” in te neem.

Fiona Miles, direkteur van Four Paws in Suid-Afrika, het gevra vir nasionale wetgewing en internasionale ooreenkomste om “hersien te word omdat dit duidelik nie werk nie”.

Sy waarsku dat indien dié bedreigde spesie nie beskerm word nie, die mensdom die gevaar loop dat alle groot katspesies eendag net “agter tralies” sal bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nuustak ·

Alles gaan net oor geld. Daardie mense voel vere vir die diere

MakersMark ·

Agter dit sit ook bygelowe te doen met toordery en booshede. En natuurlik die geldhongeres wat die verskaffing doen. Siek bedryf, siek bygelowe siek mense.

casper ·

Maar ons kan seker hoenders invoer ne – Wat is die verskil??

Jacques ·

Dit is tragies dat diere wat op die drumpel van uitwissing staan nog gebruik word vir eie gewin. Of dit die teler of die gebruiker is. Die hele ketting is deel van die probleem. Dit verminder nie die druk op die natuurlike katte nie. Dit skep ‘n wettige handelsnetwerk en die onwettige handel gebruik die netwerke. Alle handel in tier en of leeuprodukte moet gestaak word. Die besit van sulke produkte moet onwettig wees. Onthou tog die vriendelike ou by Gholfklub wat met leeus of tiere boer. Hy is ook die ou wat die skelm regering kritiseer. Hy is nie minder skuldig nie al is dit tans net op ‘n morele basis

Casper ·

Nou hoe nou.As en ‘n kameelperd skiet wat nie ‘n bedreigde spesie is nie is die hel los.Ek mag nie eers ‘n bokkie skiet vir stukkie biltong en droë wors en lekker potjie of pastei nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.