Tembisa-10 het nooit bestaan – OB

Die OB bevind in haar verslag dat Gosiame Thamara Sithole van Tembisa nooit geboorte aan ‘n tienling gegee het nie. By Sithole is haar man, Tobogo Tsosetsi. (Argieffoto: Thobile Mathonsi/African News Agency/IOL)

Die verslag van die openbare beskermer (OB) oor die sogenaamde Tembisa-tienling bevat “diep leemtes” en het “ernstige tekortkominge”. Só het Piet Rampedi, redakteur van Pretoria News, Donderdag gereageer op die verslag wat adv. Kholeka Gcaleka, waarnemende openbare beskermer, oor ʼn ondersoek na die gebeure bekend gestel het.

Rampedi het self die berigte oor die kwansuise geboorte van die tienling geskryf.

Hy voer aan die OB het haar “ondersoek” gedoen sonder om sentrale partye daarby te betrek, of die insette van homself of sy werkgewers – Independent Media – te bekom. “Verrassend genoeg het adv. Gcaleka nie die moeite gedoen om my, as belanghebbende party in die saak, vir enige inligting te nader nie.”

Gosiame Sithole, volgens Rampedi se berigte die ma van die tienling, en haar man, Teboho Tsotetsi, het ʼn klag by die OB aanhangig gemaak oor onder meer die verwydering van haar ouer tweeling uit haar sorg, asook bewerings dat verskeie staatsdepartemente hulle aan wangedrag skuldig gemaak het.

Gcaleka het Dinsdag die verslag oor haar ondersoek bekend gemaak. Haar bevinding lui onder meer dat die bewering dat Sithole op 7 Junie 2021 aan tien kinders geboorte gegee het “onbevestig” is.

Rampedi sê die OB het die “deeglike, onpartydige en robuuste verslag” van adv. Michael Donen, wat in Augustus 2021 ʼn ondersoek na die gebeure gelei het, geïgnoreer.

Donen het luidens berigte egter in sy verslag onder meer bevind die publikasie van die berig was “roekeloos” omdat daar net op die pa se woord staatgemaak is en dat Rampedi versuim het om behoorlike ondersoek in te stel. Hy het bevind Rampedi het Independent Media se etiekkode oortree en dat die berig misleidend was.

Rampedi hou nietemin vol die OB het die kat aan die stert beet.

“Die noukeurige lees van die waarnemende OB se verslag laat dit lyk of daar ʼn sinistere poging was om die Donen-verslag te ondermyn, [ʼn verslag] wat die hoofstroommedia ook probeer ignoreer het.”

Rampedi sê ook hy staan steeds bankvas by sy beriggewing en glo dat hy mettertyd reg bewys sal word. “Die waarnemende OB se verslag lyk na niks anders nie as ʼn instrument om geloofwaardigheid te verleen aan die regering se vorige ontkennings en desperate toesmeerdery.”

Die verslag lyk ook na ʼn poging om bepaalde betrokkenes, onder wie amptenare, politici en mediese praktisyns wat voor en ná die geboorte verskeie foute begaan het, van aanspreeklikheid kwyt te skeld, sê hy.

Rampedi hou voet by stuk dat die tienling-berigte gegrond was op maande lange ondersoekwerk en eerstehandse weergawes van verskeie bronne na aan Sithole, ook vriende en familie, wat geen rede gehad het om hom te mislei nie.

“Die storie het geen duistere motief gehad toe dit ondersoek, bevestig en geskryf is nie en is gedoen om ʼn ongelooflike storie met die publiek te deel. Dit is dus hartseer om te sien hoe dit in ʼn politieke speelbal verander is om my goeie naam en professionele integriteit en ook dié van my werkgewers skade te berokken.”

OB se verslag

So is daar onder meer oor die tienling se geboorte berig. (Skermgreep: Pretoria News)

Die OB se ondersoek het spesifiek gehandel oor bewerings van wanbestuur en wangedrag deur die Gautengse departement van gesondheid, die provinsie se departement van maatskaplike ontwikkeling, die polisie, die Ekurhuleni-metro en die Gautengse provinsiale regering.

Tsotetsi het onder meer aangevoer dat Sithole nooit toegelaat is om haar tienling te sien nie, dat sy verkeerdelik by die Tembisa-hospitaal vir waarneming opgeneem is en dat haar mediese inligting in die openbaar uitgelap is.

Die OB het egter bevind die bewering dat Sithole op 7 Junie 2021 by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria geboorte aan ʼn tienling gegee het, is onbevestig. Bewyse wat tydens die ondersoek voorgelê is, wys ook dat Sithole glad nie geboorte gegee het nie en ook nie onlangs swanger was nie. Rekords wys ook dat Sithole nooit in 2021 in die hospitaal opgeneem is nie.

Sithole het boonop teenstrydige bewerings gemaak en onder meer aangevoer die geboorte het by die Steve Biko-, Sunninghill- en Mediclinic Medforum-hospitaal plaasgevind. Al die hospitale ontken dat sy daar opgeneem was. Sithole het glo ook by ʼn ander geleentheid aangevoer dat die babas in die Louis Pasteur-hospitaal gebore is.

Oor die bewering dat die departement van maatskaplike dienste onbehoorlik opgetree het deur Sithole se ouer tweeling in ʼn plek van veiligheid te plaas, het die OB ook bevind dit kan nie bevestig word nie. Die kinders is volgens die OB se verslag met Sithole se medewete en op haar versoek uit haar sorg verwyder en die Tembisa-kinderhof het die besluit bekragtig.

Geen bewyse kon gevind word vir die bewering dat daar onbehoorlik aan Sithole se familie gesê is om haar as vermis by die polisie aan te meld sodat sy teen haar sin in ʼn geestesgesondheidsinstelling opgeneem kon word nie.

Die OB kon geen bewyse vind dat die polisie Sithole onregmatig in hegtenis geneem en aangehou het nie. Sy het ook bevind die bewering dat die departement van gesondheid Sithole se mediese inligting onregmatig en sonder haar toestemming en medewete bekend gemaak het, nie bevestig kan word nie.

  • Berigte oor die beweerde geboorte van die tienling is aanvanklik deur Pretoria News geplaas en het onder meer foto’s van ʼn hoogswanger Sithole en haar man bevat. Die geboorte van die sogenaamde “Tembisa‑10” is egter uit die staanspoor uit verskeie oorde, onder meer deur die regering, as fopnuus bestempel. Dit nadat nie ʼn enkele foto van die babas opgespoor kon word en niemand hulle skynbaar met ʼn oog gesien het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kobus ·

Hoekom wys hulle nie die kinders nie? Hulle sou tog al lankal regte aan tydskrifte verkoop het asook borge gesoek het om te help met opvoeding

Johann ·

Is dit nie verbysterend dat Piet eenvoudig aanhou lieg nie? Doen die beroep van verslag gewing ‘n slegte naam.

Riaan ·

Dit is wat gebeur as die media nie meer die nuus wil vertel nie, maar eerder die nuus wil vervaardig

Nommer 7 ·

Piet, jy hoef nie Amerika toe te gaan om te kyk of Amerika wel bestaan nie!

kommentaar ·

Hoe stupid moet jy wees om dit in die eerste plek te geglo het…..

JohanR ·

‘n Mens kan sommer sien dis ‘n gimnasium bal wat daar sit. Soe hoeveel geld is in die vonds ingestort vir Ma/Pa en 10? En waar is die geld? Pretoria News voel nou seker soos…….

Veritas ·

Ja nee, wat het van al daai skenkings geword ? Hulle moet die hele spul aankla van bedrog.

Jacobus ·

Ek kannie glo dat die OPENBARE BESKERMER haar moet besig hou met sulke snert nie. Skokkend.

Jr ·

Hoekom hou julle net ophou bullshine en bly nou stil, maar julle hou aan om julle voete in julle monde te sit.

Milestone ·

Paar logiese goed hier wat vir my uitstaan. Met die geboorte van die negeling in Marokko was ‘n mediese span van 30 betrokke en die geboorte het via ‘n keiser gebeur. Die babas was almal onder 1kg in gewig…….wat te verstane is. Spesialis versorging was dus nodig vir die babas en die ma vir ‘n geruime tyd na die geboorte.
Nou sit ons met ‘n situasie waar beweer word 10 babas is gebore in verskeie hospitale (of nie) sonder dat ‘n spesialis span betrokke was. Verskeie hospitale vir my is ‘n aanduiding dat dit nie gebeur het via keisersnee nie, want ek glo nie ‘n persoon onder narkose sal toegelaat word om die teater te verlaat nie. Normaal geboorte aan 10 babas………ek glo meeste vrouens wat al ‘n baba normaal gekraam het sal vir jou vertel om iets met jouself te gaan aanvang. Plus sy is na die geboorte ontslaan? Ek dink nie dit sou medies moontlik vir haar gewees het om op te staan nie.
Te veel goed wat die storie totaal uit die lug skiet.

annie ·

Trek die Owee se kantoor nou eers hier? Daai bok wat by die plaashek uit is en toe deur die sloot oor die… Gaan julle asb nou hieraan aandag kan gee. Ons wag al tien jaar…

Nico ·

Die media luister na ‘n klomp vals berigte maar kan nie die waarheid en berigte wat iets beteken word nie gepubliseer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.