Tender van miljoene vir firma met Zuma-bande

(Argieffoto: GroundUp)

ʼn Maatskappy met bande met die Jacob G Zuma-stigting het oor twee jaar byna R78 miljoen ontvang om padkontrakteurs in die Vrystaat as deel van ʼn gemeenskapsontwikkelingsprojek op te lei.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag onthul dat Nexor 312 (Pty) Ltd, wat as VNA Consulting handel dryf, deur die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer vir die 2019-’20- en 2020-’21-boekjaar gekontrakteur is.

VNA Consulting behoort aan die Durbanse sakeman Vikash Narsai. Die maatskappy het in 2014 ʼn voorafbetaalde R17 miljoen ontvang om ʼn duisend laekostehuise in Vrede in die Vrystaat te bou.

Dieselfde dag het die maatskappy R250 000 aan die Sizakele Zuma-stigting, wat bedryf word deur oudpres. Jacob Zuma se oudste vrou, Sizakele “MaKumalo”, oorbetaal.

Die joernalis Pieter-Louis Myburgh het in sy boek Gangster State onthul dat minder as 200 huise vyf jaar ná die aanvang van die projek, glo voltooi is. Myburgh het destyds ook geskryf dat oudpres. Jacob Zuma glo ʼn dankie sê-bedrag van R2 miljoen ontvang het.

Narsai het Myburgh later vir R10 miljoen vir naamskending gedagvaar.

Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, het na bewering verseker dat van die geld van die kontrak na Zuma deursyfer.

George Michalakis, die DA se woordvoerder oor veiligheid en justisie in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), sê in die geheel het die Sizakele Zuma-stigting byna R345 000 ontvang wat regstreeks met die behuisingstender verbind kan word.

Luidens die Zondo-kommissie se verslag het die Jacob G Zuma-stigting in 2015 altesame R1,8 miljoen ontvang wat glo ook na VNA Consulting nagespoor kan word.

“Tussen die 2019-’20- en 2021-’22-boekjaar is meer as R695 miljoen aan kontrakteurs van die gemeenskapsontwikkelingsprojek vir substandaard werk aan Vrystaatse paaie betaal. Ongekwalifiseerde kontrakteurs van die provinsiale paaiedepartement het dit afgeteken,” sê Michalakis.

Volgens hom is dit net nog ʼn voorbeeld van hoe die ANC en sy meelopers die Vrystaat ten koste van die plaaslike ekonomie – en lewens op die provinsie se paaie – gekaap het.

Michalakis sê die party sal al die bewyse insamel en dit dan aan wetstoepassingsowerhede vir ʼn moontlike strafregtelike ondersoek verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

GWS ·

En so gaan die korrupsie net voort!!!! Maak my warm onder die kraag!

Tante Toekie ·

Ek is net bly hulle sê ‘moontlike strafregtelike vervolging’, want eintlik weet ons almal dit gaan nie gebeur nie

Althes ·

Waarvoor moet opposisiepartye altyd die ANC se vrot werk doen. Dis om naar te raak

Prikkie ·

Ons kan dit verstaan dat die verdagte, voormalige Pres Zuma, se dag tot dag fondse besig is om uitgeput te raak, en dus moet die verdagte ‘n manier vind om sy fondse aan te vul.

Joggie ·

Ons moet seker aanneem dat Siril nou die voordele vanaf VNA Consulting ontvang? Hy is mos nou in charge van die diefstal organisasie ANC…

SjN ·

Wat het van Frikkie en Danny Jordaan se R10 milj omkoopgeld tydens die werelbeker sokker in SA geword toe hy minister van sports was?

Piet parys ·

Hulle moet almal net n tou kry. Al uitweg om die regerings kriminele ontslae te raak . Indiers is pal in die nuus vir korrupsie. Hulle moet terug indie toe gestuur word .

Althes ·

Pieter Louis Myburgh is ñ man van staal. Baie dankie vir jou ondersoekende joernalistiek.

Danie ·

Ek wil sommer vloek! Net as n mens dink nou gaan iets positief gebeur dan hit die popo die fan.Kan die AN cash niks reg doen nie.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.