Teologiegraad met lof, nou wink medies vir jong pastoor

CJ van Niekerk in die preekstoel (Foto: Verskaf)

“Ek wil mense fisiek en geestelik genees.”

Só vertel die jong CJ van Niekerk wat op 18-jarige ouderdom sy teologiegraad met lof verwerf en nou boonop van plan is om sy mediese graad te voltooi.

CJ glo hy is van kindsbeen geroep om mense te bedien en sê sy droom is om eendag mense in nood as dokter te genees en terselfdertyd die woord van God te verkondig.

Die jong man is ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Volkskool in Potchefstroom en het sy eerste preek reeds as 15-jarige gelewer. Hy het ʼn week gelede sy teologiegraad aan die Emmanuel- Universiteit van Teologie in Pretoria voltooi. Hy het hierdie vyfjaargraad in minder as drie jaar voltooi en met ʼn punt van 98% geslaag. Dít terwyl hy nog sy aandag aan sy skoolwerk ook moes gee.

CJ beoog om aanstaande jaar medies te gaan studeer, mits hy keuring kry. Hy wil dan by ʼn organisasie soos die Rooikruis betrokke raak, mense in nood bystaan en só sy bediening uitleef.

Dié jong pastoor is tans ʼn sub-visepresident van die Emmanuel Pinksterkerk in Deelkraal, naby Carletonville. Hy is ook af en toe sélf op die preekstoel.

CJ is op jong ouderdom al vir die bediening geroep en reeds jare lank betrokke by uitreikprojekte by hospitale, kinderhuise en ouetehuise. Dit is hier waar die saadjie om ander mense te bedien, geplant is.

Hy vertel hy het van jongs af ʼn passie vir die Here en die Bybel ontwikkel en het van graad 1 af elke Sondag saam met sy ouma en oupa, Magrie en Johan Jansen van Rensburg, kerk toe gegaan.

CJ voor sy skoolgebou (Foto: Verskaf)

Dit was egter in 2018 dat hy bevestiging “van Bo” gekry het dat hy teologie moet gaan studeer.

“Ek het eendag by my skool se koshuisdeure ingestap en ʼn Bybel in die asdrom gewaar. Ek het die Bybel daaruit gehaal en die eerste vers wat my aandag getrek het, was 1 Timoteus 4:12, wat lui: ‘Jy is jonk, maar niemand moet dink daarom is jy nie belangrik nie. Nee, jy moet vir die gelowiges wys hoe hulle moet lewe.’

“Ek het besef dat ek as jongmens ʼn groot verskil kan maak en dat niemand my jeug moet onderskat nie.”

CJ sê hy het lank oor die vers besin en daarna tot bekering gekom. Hy is ʼn jaar later gedoop en het net daarna vir sy teologiegraad ingeskryf.

“Ek het twee bevestigings gekry dat ek teologie moet gaan studeer. Ek het ʼn keuringstoets afgelê wat ek met 100% geslaag het. Iemand van die universiteit het my ook uit die bloute gebel en gesê dat ek ʼn beurs, waarvoor ek nie aansoek gedoen het nie, gekry het om te studeer. Die beurs het al my studiegeld gedek.”

CJ vertel om te studeer en ʼn gewone skoolseun te wees, was uitdagend. Hy het kop bo water probeer hou deur balans in sy lewe te handhaaf. Hy moes in die proses ook baie dinge in sy lewe – soos kuier saam met vriende en selfs slaap – opoffer.

“Ek het deur die dag skoolgegaan en in die middae al my huis- en leerwerk probeer klaarmaak. Ek het in die aande gestudeer. Ek het nooit voor middernag gaan slaap nie.”

In sy vrye tyd speel hy ook graag klavier (Foto: Verskaf)

Hy het ook baie ondersteuning van sy musiekonderwyseres en ouma gekry. Sy is ʼn groot inspirasie vir hom omdat sy haar doktorsgraad in teologie op 63-jarige ouderdom verwerf het. Sy was ook een van sy dosente.

“Ek het gevoel as sy dit op so ʼn gevorderde ouderdom kon vermag het, kan ek dit op my ouderdom ook doen.”

Dit was vir CJ ʼn groot dryfveer om die jongste pastoor in die land te wees. Daarom het hy sy graad binne drie jaar klaargemaak.

“Ek wou die jongste pastoor word om aan die wêreld daarbuite te bewys dat die Here ook jongmense gebruik om ʼn verskil te maak. Soms het die samelewing hierdie idee dat ʼn mens gryser moet wees om dus as wyser beskou te word. Ek wil juis hierdie stelling verkeerd bewys.

“Ek wil eendag in ʼn groot stadion preek en as lewende bewys dien dat die Here ook jongmense gebruik om ʼn verskil te maak. Ek wil groot getalle mense wêreldwyd met hierdie boodskap aanraak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Maggies ·

Wat ‘n lieflike berig om so vroeg op ‘n Sondag oggend te lees. Dankie Anja van de Merwe.
Jong man jy is ‘n inspirasie vir ons ouer en ek glo ook vir vele jonger mense. Mag jou toekoms drome geseën word.

Mariana ·

Mag jou drome bewaarheid word en ander jongmense inspireer om dieselfde te doen. In ons deurmekaar ou wêreld kom die boodskap vanoggend deur soos ‘n lig wat skielik in die donker aangegaan het. Sterkte

Jaco ·

Watse teologie? Net Bybelkennis of ook Bybelse Grieks en Hebreeus?

Hester Wilhelmina ·

Nou hoe verwerf jy ‘n graad as jy nog nie skool klaar gemaak het nie?

Sarel ·

Geluk aan die jong man. Hier is baie werk vir jou onder SA se Jeug

Zacahara ·

Baie geluk, CJ, en mag jy ‘n blink toekoms hê!! Oorvloed voorspoed!!

Miskruier ·

LEES HIER TROTSE SUIDAFRIKANERS
Daar is met skok kennis geneem van die graad en wydverspreidheid van armoede onder blankes in Suid-Afrika, in besonder onder Afrikaners, met die sirkulasie op sosiale media van ‘n verslag deur Daniël Lötter van Front Nasionaal oor die toestande in die Munsieville blanke plakkerskamp te Krugersdorp. Uittreksels uit die verslag getiteld Waar ‘n volk sy skaamte weggegooi het, lees soos volg: “Nog nooit in my lewe het enigiets wat ek moes skryf, soveel van my geverg nie, dis wat in Munsieville by Krugersdorp aangetref word. Dit was op ‘n tyd ‘n ashoop – ‘n plek waar mense vuilgoed weggegooi het. Nou is dit mense wat daar weggegooi is. “Bejaarde mans met verrimpelde hande. Kinders met groot oë… net oë waarin daar niks uitdrukking meer is nie. Kinders wat na dinge kyk sonder om in te neem wat hulle sien, want dinge rondom hulle is maar net daar, dit het geen nut nie. “Uit die maalkolk van die menslike gang aan die Gautengse Wes-Rand het hulle hier uitgespoel.

Karina ·

Dit is bitter hartseer wat van ons wit Afrikaner geword het, uitgestoot en weg gegooi

Anton J ·

Ek wil niks van hom weg neem nie, baie geluk. Ek wou ook gaan teologie studeer het toe word ek afgekeur met n matriek sertifikaat omdat ek nie vrysteling gekry het nie. Nou hoe werk dit nou? Hy is nog op skool en kon gaan teologie studeer. Ek word af gekeur met n matriek sertifikaat om teologie te studeer. Maar in elkgeval, baie geluk en voorspoed met jou drome en roeping. Seënwense vir jou.

Karina ·

Baie geluk met jou deursettings vermoë, dit wys jy het ‘n sterk karakter en sterk geloof. Mag jy by die universiteit toelating kry waar jy graag wil gaan studeer. Alle sukses vir die toekoms. God het jou tot hier versterk en ondersteun, Hy sal jou deur die res van jou lewe ook dra. Dankie vir ‘n Ouma wat so ‘n goeie voorbeeld aan haar kleinseun gestel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.