Terugslag vir seun (15) ná leukemie-diagnose

Daniël Beetge. (Foto: Verskaf)

Net toe Daniël Beetge (15) se ouers begin dink daar is ʼn gelukkige einde aan hulle seun se gesondheidstryd, is die mat weer onder hulle voete uitgeruk toe hy onlangs met leukemie gediagnoseer is.

Daniël is by geboorte reeds met Fanconi-anemie, ʼn seldsame, resessiewe beenmurgsiekte gediagnoseer en is sy hele lewe lank vertroud met die binnekant van ʼn hospitaalkamer, aangesien hy gereeld bloedoortappings en ander behandelings moet ontvang.

Vir 18 maande lank het Daniël die normale lewe van ʼn tienerseun wat hou van elektriese kitare en troetelslange gelei nadat sy beenmurg skielik weer self bloedselle begin vervaardig het.

Dié sorgvryheid was egter van korte duur en Daniël is nou met megakaryoblastiese leukemie gediagnoseer.

Hy ontvang tans behandeling in die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal. Volgens sy ma, Jeanette, gaan dit onder omstandighede goed met haar seun.

“Hy is baie positief, al lê hy net heeldag in sy bed. Sy energievlakke is laag, maar as hy wakker is gesels en lag hy,” sê sy aan Maroela Media.

“Hy het Saterdag met chemoterapie begin en het nog nie veel newe-effekte nie, maar sukkel wel met ʼn geswelde buik weens vloeistof tussen sy derms. Hy is erg ongemaklik en sy bene pyn as hy opstaan. Al is hy positief, bly die feit staan dat hy besonder siek is.”

Daniël en sy sussie, Julia. (Foto: Verskaf)

Jeanette vertel Daniël is van kleins af ʼn blymoedige kind wat homself nie sommer bejammer nie.

“Hy sê altyd dit help nie hy is bekommerd oor ʼn ding nie, want dit gaan nie die uitkoms verander nie. Hy het ʼn goeie houding.”

Dit was uiteraard vir die Beetge-gesin, wat op Lephalale, Limpopo, woon, ʼn massiewe skok toe Daniël met leukemie gediagnoseer is.

“Dit was ook maar vir ons gesin ʼn groot teleurstelling omdat ʼn mens gedink het hy is nou uiteindelik gesond.”

Jeanette is permanent aan haar seun se sy, wat beteken haar man, Willie, en hulle 11-jarige dogter, Julia, het alleen in Lephalale agtergebly terwyl die twee tans in Pretoria is.

“Dit is vir my dogtertjie erg. Sy was aanvanklik emosioneel. Dit is ʼn moeilike diagnose om te verwerk.”

Die Beetges kon tot dusver al Daniël se mediese onkostes self dek, maar die onkostes van sy jongste diagnose is vir die gesin net te groot om self te betaal.

“Daniël moet ʼn beenmurgoorplanting kry. Die werwing van die skenker – ons het een in Duitsland gekry – asook die oorplanting self en die hospitalisasie self word nie deur die fonds gedek nie.”

Om dié proses aan die gang te sit, kort die gesin altesaam R1,2 miljoen.

“Om plaaslik ʼn skenker te kry sou uiteraard goedkoper wees, maar ongelukkig is daar nie genoeg of ʼn gepaste skenker in Suid-Afrika nie.

“Mense besef nie hoe noodsaaklik dit is om beenmurg te skenk nie. Dit red mense se lewens. Dit is al hoe ons my seun se lewe gaan red. Dit is ʼn maklike proses om te skenk, al glo mense dit is ʼn gekompliseerde en pynlike proses. Dit is nie waar nie.”

Daniël het homself geleer kitaar speel. (Foto: Verskaf)

Volgens Jeanette is Daniël ʼn slimkop wat ʼn Rubik-kubus in onder 15 sekondes kan oplos en hy neem ook graag aan sogenaamde SpeedCubes-kompetisies deel.

“Daniël is ʼn slimkop en hy is gelowig. As hy ʼn ding wil weet, dan vind hy dit uit. Hy sit nie en wag nie. Hy wou leer elektriese kitaar speel en het homself geleer deur na YouTube-video’s te kyk.

“Hy is ook mal oor sy troetelslange, maar ongelukkig moes hy sy slange prysgee sodat daar na hulle omgesien kan word terwyl hy in die hospitaal is.”

Jeanette benadruk dat sy beïndruk is met die dokters wat Daniël behandel. “Hulle is ondersteunend en is werklik mense-mense wat ook omsien na die welstand van die pasiënt se ondersteuningsnetwerk.”

Om geldelik by te dra tot Daniël se behandeling, besoek die Back A Buddy-bladsy. Vir meer inligting oor Daniël of om sy storie te volg, besoek die Facebook-blad, Daniël in die leeukuil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Prinses Bella ·

My hart gaan uit na Daniel en sy gesin, veral hierdie moedige mamma. Ek is deur ‘n soortgelyke stryd en sukkel al vier jaar om vrede te maak met my seun se afsterwe. Dis net ‘n ma wat daardeur is wat werklik kan verstaan. My gebede vergesel julle.

Nettie ·

Ek is bitter jammer oor jou ontsettende groot verlies. Sterkte aan jou en jou gesin.

Nettie ·

Ai, dis verskriklik. Die arme seun, die arme sussietjie, en die arme ouers. Watte hel. Mag God julle dra hierdeur. Ons bid vir ‘n suksesvolle uitkoms.

Miskien moet daar weer ‘n veldtog geskied waar mense verduidelik word wat die skenking behels. Baie vrees die pyn. Soos ek verstaan, is dit net ‘n bloedtoes vir eers, tot iemand jou beenmurg benodig. Ekself is deur ‘n beenmurg biopsie, en dit was nie so erg as wat ek gevrees het nie. Hulle verdoof ‘n mens baie, baie goed.

Sterkte aan die gesin.

Papsak ·

Alle sterkte aan die jong seun en sy familie ek huil my dood as dit my kind was maar glo kyk na bo God sal seen sterkte ons bid vir hom

Antoinette ·

Kan die mense met kanker en gewasse ASSEBLIEF begin appelkoospitte eet. Dit genees kanker al het dit ‘die goeie arseen in”, Die wêreldgesondheidsraad WIL nie en SAL nie dit openbaar maak nie. Hulle hammer daarop dat dit arseen bevat. Hierdie arseen vreet net die kankersel en nie die gesondes nie. Ek en my ma gebruik die pitte al vir jare en ons lewe nog. Doen navorsing Youtube. God het dit in die natuur gesit vir ons om te gebruik.

Susanna ·

As ek mag vra Antoinette. Presies hoe weet jy dit genees kanker, is daar enige navorsing hiervan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.