Terugslag vir vrou wat deur hond aangeval is

Jaybee Cloete (Foto: Facebook)

Omtrent twee dae nadat Jaybee Cloete (62) uit die Life Suikerbosrand-hospitaal in Heidelberg ontslaan is nadat sy deur ’n hond aangeval is, moes sy weer weens sepsis opgeneem word.

Die hond van een van die huurders wat ’n huis op Cloete en haar man se kleinhoewe naby Heidelberg huur, het Cloete op 28 Junie beetgekry en verskeur.

Cloete het diep wonde aan albei haar arms en haar bene opgedoen. Die senuwees en spiere in haar regterkuit is afgebyt en die voet aan daardie been “hang net”. Die senuwees en spiere aan haar linkerbobeen is ook ernstig beskadig.

Die twee groot wonde aan haar kuit en bobeen kon nie geheg word nie. Die dokters het spesiale pleisters op daardie wonde geplak wat help om oorblywende etter te dreineer sodat sy nie sepsis opdoen nie.

Sy is Maandag toe ontslaan.

Gretha Prinsloo, Cloete se dogter, vertel haar ma is Woensdag na Life Springs Parkland-hospitaal aan die Oos-Rand geneem nadat die wondsuster opgemerk het dat die groot gat in haar kuit septies is. Sy is na die wondsuster toe wat haar wonde skoongemaak het.

Prinsloo het Donderdag angstig aan Maroela Media bevestig dat haar ma antibiotika vir die sepsis kry en dat sy die aand in die teater ingestoot sal word sodat die dokter die wond weer kan skoonmaak.

Cloete het diep wonde aan albei haar arms en bene opgedoen [Foto: Verskaf]

Prinsloo het ná die operasie ʼn sug van verligting geslaak omdat die wond toe stukke beter gelyk het. “Dit lyk darem nie of daar verdere skade is nie. So ons is weer waar ons was,” het Prinsloo gesê.

Teen Vrydagaand het die swelling in haar bene en voete ook beter gelyk en sy is gevolglik Saterdag ontslaan.

“Ma is by die huis, sy voel baie beter vandat al die gif uit haar lyf is,” het Prinsloo Saterdag gesê.

Net toe die familie begin positief word, moes Cloete Sondag weer terug teater toe gaan nadat die wond septies begin geword het. Sy is dieselfde dag nog ontslaan.

“Ons hoop al die gif is nou uit. Sepsis is blykbaar ʼn proleem met ʼn hondbyt.”

Die dokter beoog om oor vier maande met die veloorplanting te begin.

Maroela Media het vroeër berig Cloete is die dag na die huurder se huis om na die kragboks in die huis te kyk omdat hul krag af was. Die huurders se hond was buite en het Cloete bestorm. Sy het verbete teen die hond baklei.

ʼn Werker op die kleinhoewe het later met ʼn stok tot Cloete se redding gekom toe hy haar hoor skreeu het. Die hond het hom ook gegryp. Hy het geringe beserings opgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

En wie gaan volgende verskeur of gedood word? Wie gaan waag om die honde-probleem te definieer? En wat is die pro- aktiewe oplossings? Of het daardie soogdiere bekend as honde meer regte as daardie soogdiere bekend as mense?

Zoey ·

Dis nie die hond wat die probleem is nie. Dis die eienaars en wat hulle die hond geleer het. Net soos mense, het honde ook gedrags probleme. En soos wat ‘n mens ‘n berader kan gaan sien, is daar Dieregedrag kenners wat kan help om ‘n hond se probleem gedrag op te los. Hou op die diere die skuld gee. Hulle vra nie om daar te wees nie. Ons het al ons bure gewaarsku hulle kind met geen tug of war speletjies met hulle hond speel nie, dit leer ‘n dier dis reg om te byt en te trek, maar die kind hou aan daarmee. So as die hond eendag die kind beetkry, is dit daai ouers se skuld.

krodedil ·

Zoey, jy is reg —Diere het nie gevra om daar te wees nie. Dis waarom probleem diere en probleem rasse eerder uitgesit moet word. ‘n Mens se lewe is baie meer werd as ‘n hond sin.

Prikkie ·

Dit is altyd ‘n geval van “my hond sal nooit iemand byt nie” totdat dit gebeur en dan is dit te laat.

Uit die vorige berig het ek gelees dat daar ‘n Pitbull kruising betrokke is. Maak van die gras af. Die hond is ‘n gevaar vir die samelewing.

Swerwer ·

Prikkie

Ek het ook Pitbul/Skaaphond kruising en glo my hul het die mooiste geaardhede. Net soos kinders wat ordentlik opgevoed word, dwelms begin gebruik en mense moor , net so is ons honde kinders. Ongelukkig is die lewe vandag ‘n risiko. Ek self is deur ‘n boerboel aangeval en gebyt, maar dit het nie my vriendskap met die mense enigsins skade laat ly nie.

krodedil ·

Die eienaars van honde wat mense byt moet “Tronkstraf” kry. Dis al hoe sekere eienaars gaan leer dat hulle skoothondtjie iemand se lewe in gevaar stel deur iemand aan te val of te byt. Die eienaar moet verantwoordelik gehou word vir sy dier se optrede. Probleem rasse moet verbied word in SA

ooknetmens ·

Ek weet nie so mooi oor die tronkstraf deel nie. Ons het Duitse Herdershonde en hulle kan ook iemand byt, het nog nooit nie en glo nie hulle sal nie. Maar enige iets is moontlik. Vir so geval het ons R5 000 000 se versekerings dekking. Ek stem gevaarlike rasse moet verban word of jy moet n lisensie kry om so tipe hond te mag aanhou.

Sandra ·

Wat ‘n mooie vrou is die Jaybee Cloete nie. Ek wens jou alle sterkte toe met jou wonde en jou herstel proses.

Agtogwatnog ·

“Maroela Media het vroeër berig Cloete is die dag na die huurder se huis om na die kragboks in die huis te kyk omdat hul krag af was. Die huurders se hond was buite en het Cloete bestorm. Sy het verbete teen die hond baklei.”
My vraag is was die eienaar teenwoordig? Sy het binne gegaan om na krag boks te kyk. Infien sy in afwesigheid van eienaar haar eiendom betree het dan het die hond net gedoen wat van hom verwag is om eiendom te beskerm. Gee meer besonderhede en fiete dan kan mense meer ingeligte gevolgtrekkings maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.