Tesourie gee toe: Staatstenders kan voortgaan

(Argieffoto: Arnaud Jaegers/Unsplash)

Die direkteur-generaal van die nasionale tesourie, Dondo Mogajane, het Vrydag aan Sakeliga toegegee dat sy omsendbrief aan staatsorgane oor voortgesette SEB-voorvereistes en die stop van tenders nie bindend is nie.

Dit kom nadat ʼn landswye krisis die afgelope paar dae gedreig het waarin feitlik alle staatstenderprosesse tot stilstand sou knars, op grond van ʼn omsendskrywe van Mogajane op 25 Februarie. Staatsorgane het Mogajane se skrywe interpreteer as ʼn instruksie om nie nuwe tenders te adverteer nie asook asof hulle sou mog voortgaan om vir reeds-geadverteerde tenders SEB-voorvereistes toe te pas.

“Sakeliga het Mogajane vandeesweek aangemaan dat hy nie by magte is om sodanige instruksies aan staatsorgane te gee nie en dat staatsorgane wat ooreenkomstig Mogajane se skrywe optree hulself aan litigasie sou blootstel,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. Daar is geen rede om tendertoekenning of tenderadvertering te staak nie, mits dit geskied binne die Wet op Raamwerk vir Voorkeurverkryging (PPPFA) en derhalwe nie van SEB-voorvereistes gebruik maak nie.

Sakeliga het gewaarsku dat die nasionale tesourie ʼn skyn van wettigheid oor voortgesette toepassing van SEB-gebaseerde voorafdiskwalifikasie van tenderaars skep. Dit, terwyl die konstitusionele hof nou finaal die ongeldigheid van die SEB-gebaseerde voorafdiskwalifikasie in die minister van finansies se 2017-regulasies bevestig het.

“Die direkteur-generaal se skrywe aan Sakeliga vandag verwyder die noodsaak vir dringende litigasie en beteken dat staatsinstellings kan voortgaan met verkryging, ongeag nasionale tesourie se beskouing van die konstitusionele hof-uitspraak van 16 Februarie in Sakeliga se guns,” voeg Le Roux by.

“Wat sowel die Minister se regulerende rol as staatsorgane se interne beleide betref, bly Sakeliga van voorneme om toe te sien dat die uitspraak van die konstitusionele hof op 16 Februarie – die eerste groot terugrol van SEB deur die konstitusionele hof – eerbiedig word. Sakeliga staan gereed om weer te litigeer sou daar pogings deur die nasionale tesourie of ander staatsinstellings wees om die hofuitspraak te systap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.