Thabo Bester-dokkie laat rekords spat

(Foto: Instagram/dstvnamibia)

Die dokumentêre reeks Tracking Thabo Bester wat veral opslae gemaak het nadat regter Stuart Wilson Vrydag in die Johannesburgse hooggeregshof beslis het dat die dokumentêr wél uitgesaai mag word, het die meeste kykers nóg op die eerste dag vir ʼn dokumentêre program gelok, sê Showmax.

Maroela Media het vroeër berig die eerste twee episodes van Tracking Thabo Bester is op 15 Maart om 16:00 eksklusief op Showmax beskikbaar gestel.

“Die misdaad-dokkie was ook die meeste gekyk oor alle genres oor die naweek en het goeie resensies ontvang, met Oluthando Keteyi van IOL wat geskryf het dat ‘dit haar mond laat oophang’ het en Leon van Nierop, wat dit as ‘boos, bisar en briljant’ beskryf het,” lui die verklaring.

Showmax sê dié dokumentêr is presies waarvoor Suid-Afrikaners gewag het nadat daar in Maart verlede jaar bevind is dat die veroordeelde moordenaar en verkragter toe nie in sel 35 dood is nie, maar dat die liggaam van ʼn onbekende persoon in die gevangenis ingesmokkel en in Bester se sel aan die brand gesteek is. Bester is maande later betrap terwyl hy besig was om inkopies te doen by Woolworths in Sandton City.

Bester was sedert Mei 2022 op vrye voet nadat hy sy dood vervals en uit die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap het.

Hy was in 2023 die mens wat die meeste op Google in Suid-Afrika nagegaan is, met sy vriendin en medebeskuldigde, Nandipha Magudumana, in die vierde plek op hierdie lys.

“Die hele land was obsessief oor hul stormagtige verhaal van liefde, moord, korrupsie en misleiding. Daily Maverick het hul albei as ‘SA se skurk van die jaar’ aangewys.”

Tracking Thabo Bester bestaan uit vier episodes en handel oor een van Suid-Afrika se aangrypendste verhale van iemand wat uit die tronk ontsnap het. Die verhoor van die saak begin in Junie vanjaar. Die dokumentêr werp lig oor hoekom Bester die Facebook-verkragter gedoop is en hoe hy agter tralies beland het; hoe ʼn bekende dokter vir ʼn veroordeelde misdadiger geval het; en wie werklik in sel 35 gesterf het, sê Showmax.

Tracking Thabo Bester is deur die veelbekroonde IdeaCandy vervaardig. Die produksiehuis was ook verantwoordelik vir onder meer Rosemary’s Hitlist, Devilsdorp en Steinheist. Nikki Comninos (Convict Conman) was die regisseur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wondermaarnet ·

Ek het dit Vrydag gekyk en kan nie wag vir die laaste 2 episodes nie.

Delia ·

Ek wonder of die 2 nou geregtig is op vergoeding vir die dokumenter

George ·

Kan jy dink hoeveel miljoene sou Adolf se verlangse family dan kon kry.

miche ·

Wonder die ‘Dokter’ ooit
oor hoe haar kinders oor die hele situasie moet voel of gaan voel eendag?

Yolandie ·

@Miche te oordeel aan die Dr se optrede sou ek sê glad nie. Ek sal maar die dokkie kyk as al die episodes uiteindelike gelaai is.

Aai ·

So hoe voel dit nou om hard te werk vir iets en nie geld vir dit te kry soos die mense wat julle ingedoen het.Kry vir julle,julle verdien nie eers die grond waarop julle loop.

Dieter ·

Mense raak behep met die sensation. Jammer dat daar nie soveel bohaai en energies in ons land se water, Krag en voedsel krisis ingaan nie.
Mense gaan ook die heruitsending op 29 Mei kyk eerder as om te gaan stem.
Word wakker, daar is meer as televisie in ons lewes!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.