Thabo Bester glo weer vasgetrek 

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Die sogenaamde Facebook-verkragter en veroordeelde moordenaar Thabo Bester is glo in Tanzanië vasgetrek.

Bester se vriendin, Nandipha Magudumana, en nog ʼn ongeïdentifiseerde Suid-Afrikaner is volgens onbevestigde gerugte in die stad Arusha vasgetrek.

Bheki Cele, minister van polisie, en Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, sal om 14:00 die media toespreek rakende die jongste verwikkelinge.

Bester is sedert Mei verlede jaar op vrye voet nadat hy sy dood vervals en uit die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein ontsnap het.

Dit het egter eers verlede maand aan die lig gekom dat dit nie Bester was wat oorlede is nie, maar dat die liggaam van ʼn onbekende persoon glo in die gevangenis ingesmokkel is en in Bester se sel aan die brand gesteek is.

Die Gautengse polisie het vroeër die week op die herehuis in ʼn luukse Johannesburgse woonbuurt toegeslaan waar Bester vermoedelik weke gelede nog geskuil het.

Daar was egter geen teken van Bester met polisiebeamptes se aankoms by die huis in Hyde Park nie.

eNCA het berig die huis ter waarde van sowat R12 miljoen is die laaste bekende plek waar Bester hom bevind het.

Bester het glo saam met Magudumana, ʼn mediese dokter, by die vierslaapkamerhuis tuisgegaan voordat hulle weer op die vlug geslaan het.

Talle polisiebeamptes het Maandagmiddag by die huis opgedaag waar van die paartjie se besittings glo nog gevind is.

EWN berig forensiese ondersoekers het Maandagmiddag plastieksakke, vermoedelik met bewysstukke, in staatsvoertuie gelaai.

ʼn Tydelike bestuurder is einde verlede maand vir die maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein aangestel waaruit Bester ontsnap het. Die aanvanklike bestuurder was verbonde aan die veiligheidsmaatskappy G4S. Die tydelike bestuurder is Patrick Ali Mashabathakga.

Ondersoekers het tot die gevolgtrekking gekom dat Bester se ontsnapping “goed beplan en georganiseer was”.

ʼn Private voertuig het op die dag van Bester se beweerde dood en uiteindelike ontsnapping sonder ʼn geldige toegangspermit by die gevangenis se hek ingegaan. Ondersoekers vermoed dat die voertuig die liggaam vervoer het wat later in Bester se sel verkool het.

Die uitslag van die DNS-ontleding van die verkoolde liggaam het reeds bevestig dat dit nie Bester se oorskot is nie. Daar is glo ook met die gevangenis se kringtelevisie gepeuter.

Drie amptenare, onder wie die direkteur van kontrakbestuur by die departement se hoofkantoor, en twee ander bewaarders is reeds geskors vir hul beweerde betrokkenheid by die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.