Tien sterf in skietvoorvalle in KZN

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Altesame tien mense is die afgelope naweek in twee afsonderlike voorvalle in KwaZulu-Natal doodgeskiet. In albei voorvalle het die aanvallers glo onverwags op die slagoffers losgebrand.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoeder, sê die eerste voorval het Saterdag helder oor dag by ʼn winkel in Ndwedwe Mission plaasgevind.

“ʼn Groep mans het om 13:30 op die stoep van ʼn winkel gesit toe hulle deur ʼn groep onbekende mans aangeval is,” sê Naicker.

“Die groep [slagoffers], almal tussen 21 en 43 jaar oud, was glo besig om te drink en skuiling teen die reën te soek toe die gewapende mans op hulle toegeslaan het.”

Vier van die mans is op die toneel dood verklaar, terwyl nooddienste drie mans na ʼn hospitaal geneem het. Een van die slagoffers het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar volgens lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris, is ʼn span gespesialiseerde ondersoekbeamptes besig om elke leidraad op te volg.

“Ek het opdrag gegee dat ʼn span bestaande uit gesoute speurders van die georganiseerde misdaadeenheid die saak ondersoek. Ek het die volste vertroue dat die span ʼn deurbraak sal maak.”

ʼn Dag later is die provinsie geruk deur nog ʼn noodlottige skietvoorval. Dié keer by ʼn woning in Clermont, skaars 60 km van die eerste skietery.

Die kantoor van Nomusa Dube-Ncube, die provinsie se premier, sê Sondag om 22:30 was sewe mans in ʼn woning in die township byeen toe ʼn onbekende aantal aanvallers op hulle toegeslaan het.

Verskeie skote is in die woning afgevuur en ses van die mans is noodlottig gewond. Een van die mans het ernstige beserings opgedoen en sterk aan in die hospitaal.

Volgens Dube-Ncube het die aanvallers kort ná die skietery op die vlug geslaan en is die polisie nog besig om die vermeende aanvallers op te spoor.

Dube-Ncube het egter ʼn beroep op die betrokke ondersoekbeamptes gedoen om geen steen onaangeroer te laat in hul soeke na die verdagtes nie.

“Ons vra dat die polisie elke uithoek van die provinsie deursoek sodat die verdagtes voor die hof gebring kan word. Ons sal nie toelaat dat ons inwoners in vrees leef nie.”

Volgens die premier is daar ʼn geen-verdraagsaamheidsbeleid teen alle vorme van misdaad in die provinsie, veral met betrekking tot moord.

“Kwessies met betrekking tot veiligheid en sekuriteit vereis ʼn geïntegreerde benadering van alle sektore van die samelewing. Regering, sakelui en die burgerlike samelewing, insluitend gemeenskapspolisiëringforums, moet saamwerk om kriminele aktiwiteite en onstabiliteit hok te slaan ten einde ʼn veilige samelewing en florerende ekonomie te verseker.

“Ons sal nooit die oorlog teen misdaad wen as lede van gemeenskappe aanhou om misdadigers te beskerm nie.”

Die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid se ondersoek na ʼn saak van moord en poging tot moord duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marius ·

” Ons sal nie toelaat dat ons inwoners in vrees leef nie “

Grassie ·

Hierdie soort massa-skietvoorvalle gaan in die toekoms al hoe meer voorkom. Dit is een van die simptome van ‘n land wat besig is om in totale anargie te verval.

Laksman ·

Waar kry hulle so skielik al die kundigheid/kundiges om die spesialis spanne saam te stel na elke voorval?

Mariana ·

Mense in hierdie land leef daagliks in vrees, alle mense. Wens net hulle wil die gesoute speurders en polisie ook gebruik waar dit by plaasmoorde kom. Dink klink net of sekere gevalle meer belangrik geag word as ander.

Di ·

“Ons sal nooit die oorlog teen misdaad wen as lede van gemeenskappe aanhou om misdadigers te beskerm nie.” Die REGERING is DIE wat misdadigers beskerm in die land. Kriminele het MEER regte as ons landsburgers DAAROM het kriminele die land oorgeneem. Almal kry bortgtog – van moordenaars tot verkragters. Die Regering het GEEN BEHEER meer oor misdaad wat die land oorgeneem het, PUNT

Casper ·

Sê iemand net vir my hoekom word mense lukraak doodgeskiet en word nie eers beroof nie.Waarmee het ons hier te doen.Mense wat paniek wil saai of terroriste omdat ons troepe ontplooi het in Mosambiek.

Stephanus Hendrik ·

Wild west South Africa. Daar is meer onwettige vuurwapens as wat daar wettige wapens is. Waarvan hoeveel van polisie af kom. Land is onregeerbaar krimineel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.