Tien vas wat by Gift of the Givers steel

Gift of the Givers se kantore in Athlone, Kaapstad. (Foto: Google)

Altesaam 10 persone is in hegtenis geneem nadat hulle glo die hulplenigingsorganisasie Gift of the Givers (GOTG) se kantoor in Kaapstad leeg gedra het.

Imtiaz Sooliman, stigter en voorsitter van GOTG, het aan eNCA vertel dat die organisasie se werknemers Maandag by die kantoor in Athlone ingestap het en tot hul skok besef het dat hulle beroof is.

Weens beurtkrag het die kantoor se alarmstelsel onklaar geraak en nooit geaktiveer nie.

Skootrekenaars, ʼn televisie en donasies vir slagoffers wat hul besittings in onlangse brande verloor het, is van die goedere wat gebuit is.

As deel van ʼn multidissiplinêre span het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Stad Kaapstad se metropolisie daarin geslaag om die verdagtes kort nadat die rooftog aangemeld is, in hegtenis te neem.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê die span het inligting van gemeenskapslede ontvang dat die gesteelde goedere by vier verskillende pakhuise in Hanover Park gestoor is.

Wetstoepassingsowerhede het op die pakhuise toegeslaan en al die verdagtes vasgetrek. Hulle staan nou tereg op die besit van gesteelde goedere. Van die goedere wat gebuit is, is ook teruggevind.

“Ons salueer die prysenswaardige werk van ons metropolisiebeamptes en vennote, die SAPD,” het Smith gesê.

“Die suksesvolle inhegtenisnemings en die feit dat van die gesteelde goedere teruggevind is, wys wat moontlik is wanneer alle wetstoepassingsowerhede kragte saamsnoer om misdaad te bekamp.”

Volgens Smith is die polisie besig met ʼn uitgebreide ondersoek om te verseker dat die betrokkenes aan die pen ry.

GOTG het intussen op hul Facebookblad die polisie en metropolisie se pogings geprys.

“Die reaksietyd van die SAPD in Philippi was ongelooflik in ons tyd van nood en die bystand van die gemeenskap is net so prysenswaardig,” lui die plasing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frank John ·

Net soos in die dae van Noag, die afval raak net erger, maar dit dui daarop die koms van die Here is op hande – baie-baie naby.

Phillip ·

Weens beurtkrag het die kantoor se alarmstelsel onklaar geraak en nooit geaktiveer nie.. Dit wil se ne dat die battery nie kon laai nie wees beurt krag Peet

Casper ·

Peet, as jy nie iets positiefs kan sê nie, bly stil. Dis danksy jou regering met hulle “loadshedding”, wat veroorsaak dat batterye nie behoorlik kan herlaai nie Dit is ‘n nie wins organisasie, hulle het nie geld om dinge reg te maak nie. Hoekom bied jy dan nie aan om hulle veiligheids stelsel reg te maak en te onderhou nie. Hou op om met probleme en vinger wys te kom, kom eerder met oplossings. Ons raak almal moedeloos en gefrusteerd, maar lig net jou kop op en sien dat daar mense is, wat wel ‘n verskil wil maak. Ons land se leuse was altyd “Eendrag maak mag”, kom ons probeer dit ‘n bietjie.

TRP ·

Dom om nie die artikel behoorlik te lees. Indien u dit nie weet, ons land gaan tans gebuk onder beurtkrag.

Piet ·

Peet. Ek is jammer dat al die kommentators jou so invlieg net omdat dit die logiese ding is om te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.