Tiener dood in plafon gevind

Die toneel in Pietermaritzburg waar die seun se liggaam in die plafon van ‘n winkel gevind is. (Foto: SAPD)

Die liggaam van ʼn tienerseun is Maandagoggend in die plafon van ʼn winkel in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal aangetref.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is omstreeks 06:30 na die toneel in Kerkstraat ontbied. By hul aankoms was lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid reeds teenwoordig.

“Paramedici het in die plafon ingeklim en die beweginglose liggaam van die seun in die plafon aangetref. Beamptes van soek-en-reddingsdienste moes ʼn gedeelte van die dak oopsny om toegang tot die seun te kry,” sê Meiring.

Paramedici het die seun ondersoek en gevind dat hy brandwonde aan sy arms opgedoen en geen teken van lewe meer getoon het nie. Daar was niks wat vir hom gedoen kon word nie en hy is dood verklaar.

Meiring sê die seun is vermoedelik 17 jaar oud.

(Foto: ER24)

Volgens inligting wat deur die polisie op sosiale media gedeel is, word daar vermoed dat die oorledene doodgeskok het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ‘n skootrekenaar en ander items wat aan die onderneming behoort is langs die seun gevind. “Dit lyk asof die tiener na bewering by die winkel ingebreek het en doodgeskok het op pad uit,” het hy gesê.

‘n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Skoolgeld ·

Tienerseun?… Of inbreker? Wie probeer vir wie beskerm hier?

Linda ·

Inbreker wel n tiener seun maar inbreker hul word vroeg geleer om te moor roof en ander misdade

Oujongvrou ·

Niemand wil iemand beskerm nie. Dis n tiener inbreker. As jy 17 is dan is jy nog n tiener.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.