Tiener verdrink by Muizenberg

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Ondanks die pogings deur ʼn weldoener het ʼn tienerseun Saterdag in Muizenberg verdrink nadat hy saam met sy vriende in die see geswem het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê ʼn Britse burger, wat tans in Kaapstad woon, het die oggend in Muizenberg branderplank gery toe twee tieners in die see om hulp geroep het.

“Die man het op sy branderplank na die twee seuns geroei, maar die sterk stroom het hulle van mekaar geskei,” sê Lambinon.

“Die man het na een van die seuns geroei en hom op sy brandplank gesit en na die ander tiener toe geroei. Die tiener het egter onder die water verdwyn voordat die branderplankryer by hom kon uitkom.”

Lambinon sê die branderplankryer het onverpoos na die tienerseun in die see gesoek, maar hy kon hom nie opspoor nie.

“Die man het later saam met die ander seun na veiligheid geswem terwyl nooddienste ontbied is om na die tienerseun te soek.”

Lewensredders het ʼn jetski in die see gestuur en helikopters is ontbied om na die tiener te soek. Een van die helikopters wat ontbied is, het die seun in die water gewaar en ʼn reddingsoperasie is van stapel gestuur.

Die tienerseun is in samewerking met verskeie reddingsdienste gevind en paramedici het probeer om hom te resussiteer. Hul pogings het egter gefaal en die 16-jarige seun is dood verklaar.

Die liggaam van die tiener is aan die gesondheidsdepartement se forensiese en patologiedienste oorhandig.

Die polisie het intussen ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

Die NSRI, lewensredders, die polisie, munisipale strandowerhede en die betrokke nooddienste het opnuut ʼn beroep op mense gedoen om slegs in afgebakende gebiede te swem waar lewensredders teenwoordig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antoinette ·

Is daar dan nie lewensredders nie. Ek kyk gereeld na Bondi Beach program en die seepgladde lewensreddingsinstansie met behoorlik opgeleide lewensredders wat konstante ogie hou oor die mense in die see. Daar is soveel werklose mense in die land. Kan hulle nie as sulks opgelei word nie. ‘n Gewilde strand soos Muizenberg behoort tog sekerlik behoorlike opgeleide lewensredders aan te stel.

Hector ·

Ken so’n bietjie Muizenberg en stem heeltemal saam, liewe Antoinette! Eindlik tog verbaas oor die onverskilligheid in hierdie kwessie! Gaan dit dan nie oor menselewens nie?!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.