Tienjarige met seldsame siekte herstel ‘wonderbaarlik’

Megan toon beduidende verbetering (Foto: Megan Herbst – Gebedsblad, Facebook)

Die sportiewe tienjarige Megan Herbst van Ermelo, Mpumalanga, is twee weke gelede uit die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion ontslaan nadat twee seldsame outo-immuunsiektes sowat ’n maand gelede by haar gediagnoseer is.

Sistemiese jeug‑ idiopatiese artritis (SJIA) en makrofage-aktiveringsindroom (MAS) is op 11 Junie gediagnoseer. Dit beteken die selle wat haar liggaam moet beskerm, val haar aan. Die siektes is geneties oordraagbaar, baie skaars en gevaarlik.

Megan is op 8 Junie in Unitas opgeneem nadat sy van erge hoofpyn en keelseer begin kla en later ʼn koors ontwikkel het. Sy kon naderhand nie eers meer self toilet toe gaan nie. Byna drie weke later, op 26 Junie, is sy ontslaan.

Haar ouers, Joléne en Hennie Herbst, beskryf Megan as “hul klein wonderwerk”.

“Sy toon beduidende verbetering. Dit is ongelooflik om te sien hoe sy daagliks fisiek en emosioneel sterker word,” vertel Joléne.

Joléne sê Megan het verlede week – die eerste week wat sy tuis was – daagliks koors gehad, maar het vandeesweek nog nie een keer koors gehad nie. “Dit beteken die infeksie in haar liggaam is besig om af te neem.”

Hoewel sy nog pyn in dele van haar lyf ervaar, waaronder haar rug, skouer en hande, beweeg sy al baie meer rond.

Megan kan al 17 minute lank op die tredmeul stap (Foto: Megan Herbst – Gebedsblad, Facebook)

“Sy het hierdie week elke dag vir ’n paar minute op ’n trapmeul – wat my tannie vir ons leen – geloop. Waar ons met vyf minute per dag begin het, trek ons nou al by 17 minute per dag. Aan die begin was sy huiwerig om op die trapmeul te klim, maar doen dit nou al met soveel selfvertroue.

“Sy doen ook daagliks balanseringsoefeninge en ons stap in die tuin. Ons het gister (Donderdag) ’n bal vir haar gegooi om te vang. Sy het soos ’n soutpilaar gevries toe sy die bal sien. Sy was altyd die een wat saam met die seuns rugby gespeel en vir hulle ore aangesit het.

Sport is ’n groot passie vir Megan en sy was bekommerd of dié siektes haar sportdrome sou kelder. Sy het verlede jaar die SA Skolesport se toptienlys in 60 m en 80 m behaal. Vanjaar sou sy jare oue rekords in haar visier gehad het.

Die dokters het gesê sodra Megan se infeksie verminder en sy uit isolasie kan kom, moet sy so gou as moontlik terugkeer na die sportveld en haar normale roetine vind.

Joléne sê Megan is nog bang om tussen mense te wees en uit die huis te gaan omdat sy bang is sy word weer siek en moet teruggaan hospitaal toe. “Sy hou nie van die hospitaal en die siek kinders daar nie.”

Megan se gemoed verbeter ook daagliks.

“Sy word al meer haar ou self. Net nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, was sy vir ’n paar dae in ’n emosionele gat. Sy wou net lê en niks doen nie. Ons is besig om haar uit daardie gat te kry.”

Die dokters het aanvanklik gesê spesiale biologiese medikasie moet van die VSA vir Megan se behandeling ingevoer word. Megan sou een keer per week moes ingaan hospitaal toe waar dié medisyne binneaars toegedien sou word. Die beraamde koste vir die medisyne sou R3 000 per week per spuit beloop het.

Volgens Joléne het Megan egter nie meer hierdie medikasie nodig nie omdat haar lyf goed op die behandeling wat sy tans kry, reageer.

“Sy gaan biologiese medikasie gebruik wat in Suid-Afrika beskikbaar is. Sy moet een keer elke twee weke gespuit word, maar ons kan dit sommer vir haar by die huis spuit.”

Vir Joléne en Hennie is Megan se siekwees ’n leerproses en is hulle positief oor die toekoms.

“Ek is rustig omdat ek Megan voor die Here se voete neergelê het. Ons besef ook weer eens daar is soveel krag in geloof en gebed.”

Joléne het ’n gebedsblad op Facebook vir Megan gestig om ander ouers bewus te maak van dié soort siekte. Sy sê sy wil met dié blad mense ook weer in wonderwerke laat glo. Sy sê sedert die blad op die been gebring is, het gebede, ondersteuning en hulp van oraloor ingestroom.

“Megan se glimlag gee hoop en daarom glo ons daar is ʼn groter doel met haar siekte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

Wonderlike nuus. Hoop en bid dat jy weer spoedig kan terug wees na normaal.

Belinda ·

Darm bietjie goeie nuus om te lees as net om van crime en tronkvoels die heeltyd te lees. Mag jy sommer vinnig weer gesond word en lekker met jou maatjies kan speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.