Tienjarige stap kilometers ver om hondjie te red

(Foto: Verskaf)

ʼn Tienjarige kind van Khayelitsha in die Wes-Kaap is deur personeel van die Mdzananda-dierekliniek as ʼn heldin vir diere bestempel, nadat sy etlike kilometer gestap het om ʼn babahondjie se lewe te red.

Marcelle du Plessis, fondsinsameling- en kommunikasiebestuurder van die dierekliniek in Khayelitsha, sê Andiswa Kwele het van die skool af huis toe gestap toe sy ʼn klein hondjie op die sypaadjie gesien het.

“Baie mense sou net verbystap, maar hierdie jong kind het die hondjie opgetel en tot by die Mdzananda-dierekliniek geloop om hulp vir hom te kry.”

Die hondjie, wat maar slegs drie dae oud was, is dadelik in ʼn kombers toegedraai, by ʼn warmwaterbottel gesit en formulemelk ingegee.

Sr. Heidi May, hoofbestuurder van die kliniek, sê sy is geweldig trots op die jong meisie.

“Om hierdie soort optrede by kinders te sien wys vir my dat ons opvoedingsprogramme werk.”

Die kliniek het in Julie opvoedkundige sessies in Macassar en Gugulethu gehou en drie keer per week deur-tot-deur-onderrig aan inwoners van Khayelitsha gegee.

“Ons glo dat ʼn gemeenskap wat lief is vir diere, ʼn gesonde gemeenskap is en dat ons deur ons opvoedkundige en gesondheidsorginisiatiewe help om ʼn gemeenskap te skep met deernis en omgee vir elke dier,” sê Du Plessis.

Die hondjie, wat intussen Jelly Bean gedoop is, is gesond en vaar goed danksy Kwele se goedhartigheid.

Jelly Bean word deur een van die kliniek se veeartse versorg totdat hy gereed is om aangeneem te word.

 

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Blom ·

Andiswa Kwele, baie dankie vir die mooi daad en vir Mdzananda-dierekliniek wat nou omsien na die pragtige klein woef! Hoop sy kry sommer gou ‘n baie goeie huis. Dankie MM vir die mooi nuus brokkie!!

Skappie ·

Hierdie is nuus wat ons moet lees. Dankie klein dogtertjie dat jy aan die klein hondjie gedink het. Jou ouers het jou goed grootgemaak.

Wondermaarnet ·

Dankie aan hierdie dogter wat bewys daar is kinders wat oplet wat om hulle aangaan.

TO ·

Jy is vandag ook my hero. Eks sooo trots op jou. Ek het juis net vanoggend gal gebraak oor diere in townships wat so mishandel word. As ek nog in die Weskaap gebly het het ek vir jou n mooi koek gebak uit dankbaarheid.
Dankie dat julle haar gehelp het shelter. En dat julle inligting sessies doen

Nadine ·

Andiswa jy is ‘n engel wat vir Jelly Bean gered het as dit nie vir jou was nie wie weet wat sou van hom geword het. Mag daar meer sulke mense wees soos jy. In my oë is jy n ster en ‘n heldin. Baie dankie vir jou omgee :)

Delia ·

Hendrik. Die kind is van Kayalitsha. Hemel, wees net dankbaar. Ons land is lankal nie meer net Afrikaans.

Franz ·

So lekker om so n pragtige berig te lees.Andiswa Jy is n voorbeeld vir ons almal.

daarsdit ·

Daar is nog goeie mense daar buite. Hy is so oulik ek gaan neem hom sommer aan.

Papsak ·

Baie mooi vir daai helde daad wat die kind aan gedurf het jy n heldin baie dankie puik werk waardeur jou hou so aan

Elmarie ·

Dankie meisiekind maar ook báie dankie aan hierdie kliniek wat regtig uitstekende werk doen. Ondersteun hul gerus as jul kan mense. Ek is ‘n pensionaris en help hul elke nou en dan. Hulle sukkel baie met befondsing net soos hope ander diereskuilings. As mens ‘n paar rand het, regtig, help!

Onnie ·

Pragtig! Maak my hart sommer baie bly. Mag meer kinders in ons land so liefdevol wees teenoor diere.

Nella ·

Mooiste Gesiggie. So bly daar is nog mense met goeie harte. En meeste is kindertjies.

Martie ·

Sy moet nou haar mede inwoners, want dit is een van hulle se hond, leer om na hulle diere te kyk. Dit is tragies soos dit in Khayalitsha lyk van rondloper honde.

isabelle ·

Andiswa Kwele dis mense soos jy wat my hoop gee vir die toekoms van ons land en wereld Dankie prag kind

Karina ·

Ek beaam 100% met almal wat Andiswa geluk gewens het. Dit gee ‘n mens sommer weer moed. Ek hoop hierdie “furry baby” kry sommer gou ‘n vir altyd huis en ‘n gesin wat vir hom gaan lief wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.