Tientalle leerders hospitaal toe ná gaslek

Die nooddienste Maandagoggend buite Hoërskool Richardsbaai. (Foto: Verskaf)

Tientalle leerders aan die Hoërskool Richardsbaai is Maandagoggend hospitaal toe geneem ná ’n vermoedelike gaslek in die omgewing. Verskeie inwoners van die dorp het ook siek geword en is sedertdien opgeneem.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê dié nooddiens is omstreeks 07:45 na die skool en omliggende huise ontbied nadat kinders én volwassenes naarheid, braking en probleme met asemhaling ontwikkel het. Baie van die pasiënte het ook hul bewussyn verloor.

“Daar word vermoed dat ’n onbekende soort gas in die rigting van die skool en omgewing geblaas is,” sê Herbst. Die betrokke skool en woonbuurt is naby die Foskor-aanleg geleë hoewel die oorsprong van die gas nog vasgestel moet word.

Die nooddienste Maandagoggend buite Hoërskool Richardsbaai. (Foto: Netcare 911)

Volgens Herbst is minstens 40 leerders vanuit die omgewing na ’n veiliger gebied geneem waar hulle mediese behandeling ontvang het. Die kinders is van daar af na verskeie hospitale en klinieke in die omgewing van Richardsbaai en Empangeni vervoer.

Henning de Wet, plaaslike raadslid, sê ’n sterk gasreuk kan vanaf vroegoggend in Richardsbaai geruik word. De Wet het self ’n kopseer ontwikkel kort nadat hy opgestaan het.

“Die klagtes het vanaf 07:00 begin inkom.”

Monitors van die Richards Bay Clean Air Association (RBCAA) het glo vroegoggend hoë vlakke van gasse aangemeld en reeds in verbinding met Foskor getree.

Volgens De Wet het noodalarms vanoggend by die aanleg afgegaan. Foskor het intussen ’n noodvergadering gelas. Dit is egter nie duidelik of dit met die gasreuk verband hou nie.

’n Woordvoerder van Foskor kon nie vanoggend vir kommentaar bereik word nie.

Die nooddienste Maandagoggend buite Hoërskool Richardsbaai. (Foto: Verskaf)

De Wet het wel vertel dat ’n gasreuk al ’n geruime tyd oor Richardsbaai hang.

“Ons sukkel veral die afgelope twee weke met gaslekkasies. Ons is moeg. Openbare gesondheid ly nou al daaronder en die situasie is baie ernstig.”

Die KwaZulu-Natalse departement van onderwys sê hy is bewus van die situasie by die skool.

Die betrokke distriksdirekteur was teen Maandagoggend by die skool om meer inligting rakende die voorval te bekom en die skool by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SwartBees ·

Ag please. n Ondersoek span sal saam gestel word en dan net weer n stille dood sterf sonder enige gevolge. Die selfde ou storie oor en oor en oor…..

Miskruier ·

Is dit miskien die gas wat ek ruik hier op die R101 in Limpopo.? Baie vragmotors gaan snags hier by die huis verby oppad Noorde toe.

Misky ·

Die resultaat van BBBEE. Sipho nou weer erens vergeet om ‘n kraan toe te draai

Pieter ·

Goeie rede om die ramptoestand te verleng sodat jy jou masker moet dra.

Mariaan ·

Skrikwekkend! Sulke goed behoort nie te gebeur nie…iewers doen iemand ALWEER nie hul werk nie! Hoop almal herstel gou….kon tragies gewees het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.