TikTok, Canva steek miljard-kerf verby

TikTok se logo. (Foto: AP)

TikTok, die Chinese kortvorm-video-app, het amptelik meer as ʼn miljard aktiewe gebruikers.

Dié app wat slegs vier jaar gelede deur die Chinees gebaseerde maatskappy ByteDance geskep is, het Maandag sy jongste gebruikergetalle bekendgemaak.

Sedert Julie 2020 het meer as 300 miljoen nuwe gebruikers by die TikTok-gemeenskap aangesluit. Die videoplatform het aanvanklik video’s van net 15 sekondes toegelaat, maar die tydsbeperking is intussen aangepas. Gebruikers kan nou video’s tot drie minute lank plaas, wat die vorige beperking verdriedubbel het om voor mededingers te bly.

Google het in reaksie hierop ʼn soortgelyke inisiatief vir YouTube ontwikkel wat middel-Julie in meer as 100 lande ontplooi is. YouTube Shorts, soos dit bekend staan, ding dus met TikTok se kortvorm-video’s mee.

TikTok is voortdurend aan’t ontwikkel en het nie op hom laat wag om die advertensiemark te betree nie. Dié sosiale netwerk het einde Augustus ʼn nuwe funksie bekendgestel wat gebruikers in staat stel om produkte te koop wat deur inhoudskeppers aangebied word.

Dit lyk of die Covid-19-pandemie een van die hoofredes is vir TikTok se toenemende gewildheid.

In dieselfde asem het Canva, ʼn Australiese ontwerpplatform wat onlangs vir meer as $40 miljard (sowat R605 miljard) gewaardeer is, ook te midde van die wêreldpandemie floreer.

Dié aanlyn ontwerpplatform is in 2013 deur twee Australiërs, Melanie Perkins en Cliff Obrecht, gestig. Canva bied verskillende opsies aan gebruikers, soos die ontwerp van T-hemde, skyfievertonings, CV’s, besigheidskaartjies en inhoud vir sosiale media.

Die platform word deur talle groot ondernemings gebruik as ʼn instrument om gesamentlike ontwerpprojekte aan te pak.

Perkins het Woensdag aangekondig dat Canva nog $200 miljoen (sowat R3 miljard) deur institusionele beleggers soos T Rowe Price en Franklin Templeton bekom het. Volgens Perkins word Canva se gratis weergawe deur nagenoeg 130 000 niewinsgewende organisasies gebruik.

“Ons is opgewonde om aan te kondig dat Canva nou sowat $ 40 miljard dollar werd is,” het sy in ʼn bloginskrywing gesê.

Perkins en Obrecht is egter nie van plan om dié opbrengs in hul sak te druk nie, maar om dit eerder tot voordeel van die gemeenskap aan te wend.

“Dit het nog altyd vreemd gevoel as mense na ons as miljardêrs verwys, aangesien dit nog nooit soos ons geld gevoel het nie. Ons het nog altyd net soos kurators daarvan gevoel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Belinda ·

Wel my ma (73) het my gevra dat ek die app vir haar ook installeer. Sy wil ook graag sien wat mense aanvang.
Eks mal oor die app en kan vir ure sit en die kort vids van mense kyk. Try nog self uit figure hoe om my eie te maak.

Peter Pan ·

Wens hulle wil Tik Tok verban. Daar is al soveel mense dood agv daai gemors!

ES ·

Jip, en nog meer mense van drank en dwelms. As mens die duiwel in als soek gaan jy dit mos kry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.