TLU SA soek vergoeding vir SA’ners wat self beveilig

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Calvin Ma/Unsplash)

TLU SA ondersoek maniere oor hoe Suid-Afrikaners wat belasting betaal, voordeel kan trek uit die uitgawes wat hulle moet aangaan om hulself teen misdadigers te beveilig.

“Die regering faal hopeloos om Suid-Afrikaners teen misdaad te beskerm en selfbeveiliging is lank nie meer ʼn luuksheid nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Die land se misdaadsyfers het in Desember verlede jaar weer ʼn styging in kontakmisdaad soos moord, aanranding en roof aangedui en die syfer het verlede jaar op die hoogste vlak in vyf jaar gestaan.

“Met 75 moorde, 180 verkragtings, 63 rooftogte en 454 huisbrake per dag, is misdaad in die land inderdaad ʼn epidemie, selfs ʼn pandemie as mens die uitwerking op oorsese familielede in gedagte hou,” sê Van Zyl.

“Anders as met die Covid-19-pandemie, word dit nie amptelik as sodanig beskou nie, maar die omvang van misdaad laat ons glo dat die rampbestuurwetgewing wat tydens Covid-19 vergunning gemaak het om op finansiële vergoeding vir sekere uitgawes aanspraak te maak, ook hier van toepassing moet wees.”

TLU SA het vandeesweek ʼn petisie van stapel gestuur om die omvang van ondersteuning vir só ʼn proses vas te stel.

Van Zyl sê hulle wil met die petisie solank steun werf sodat wanneer TLU SA die beste moontlike roete vasgestel het, dit met oorweldigende openbare steun aan die relevante liggame en departemente voorgelê kan word.

“Soos met baie van die regering se take, misluk hy in die nakoming van sy pligte. Mense moet hulself en hul geliefdes beskerm,” sê hy.

“Dit is dan mos net vanselfsprekend en regverdig dat ʼn mens vergoeding ontvang wanneer jy die regering se verantwoordelikhede oorneem.”

TLU SA sê dit is veral sy lede – kommersiële boere – wat groot onkoste aangaan om te verseker dat hulle én die omliggende gemeenskap veiliger is.

“Elke sent wat op veiligheid spandeer word, is ʼn sent wat nie op produksie spandeer kan word nie en dit het ʼn uitwerking op die volhoubare voorsiening van voedsel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Althes ·

Dis ñ baie goeie idee en moes al lankal geopper het. Eintlik al onsbelastingbetalers, maar ek sal terugstaan vir ons boere.
Die belastingbetaler verloor heelpad finansieël.
Die privaat sekuriteitsmaatskappye wat ons betaal, bied ñ sterk ondersteunende rol vir die SAPD.

Hendrik ·

Gemeenskappe moes hulle al lankal selfbeveilig het en almal was mos verblind deur die superryk besigheidsman wat president geword het van RSA. Daar is geen hefboom wat gebruik kan word om enige iets in SA te verander en ons kyk met leepoe dat die meerderheid maar tog nie vir die ANC of EFF stem in die verkiesing nie. Ons het ons self gesnoeker met ons slimgeid en linksheid.

Amelia ·

En kom ons kyk wie pleeg die moorde wie pleeg huisinbraak ens ??? Is ek reg as ek se daar word meer mense in sa per dag vermoor as wat mense sterf in oorlog

Danie ·

Ek ondersteun die voorstel en siening daar net een probleem hoe meer ons self doen om ons geliefdes en eiendom te beskerm hoe minder doen die polisie.Dis amper soos die slaggate wat ons regmaak die staat staan al hoe meer terug en kyk vir ons.Ons moet ophou om belasting te betaal en die staat te ondersteun.

TruthDealer ·

Maar hoe weerhou jy belasting as dit van jou salaris afgetrek word nog voor jou salaris in die bank inbetaal word? Daarby kan mens nou maar nie verby kom nie.

SjN ·

Alle uitgawes en kostes ten opsigte van beveiliging en sekuriteit moet as n belasting aftrekking geeis kan word by Jan taks.

E ·

Ja, of as ‘n begin maak sekere items BTW vry soos sekuriteitsdeure, diefwering ens wat ALLE suid afrikaners nodig het om hulself daagliks te beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.