‘Toebroodjie-generasie’ moet aftrede prioritiseer

geld spaar spaarvarkie pensioen

(Argieffoto: Stevepb/pixabay)

Syfers wys dat net sowat 6% van Suid-Afrikaners eendag gemaklik sal kan aftree; die res sal van hul kinders, die staat of ander moontlike inkomstebronne afhanklik wees wanneer hulle die dag ophou werk.

Onlangse peilings en navorsing het ook opnuut gewys dat die sogenaamde toebroodjie-generasie – diegene wat nie net kinders onderhou nie, maar ook ouers en ander volwasse afhanklikes – jaarliks toeneem. Dit onderstreep ook die belangrikheid om vroegtydig vir aftrede voorsiening te begin maak.

“ʼn Geslag wat eintlik vir twee finansieel afhanklike generasies moet voorsien, kan maklik nalaat om genoeg voorsiening vir hul eie aftrede te maak weens die finansiële druk om hul kinders en ouers te onderhou,” sê Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth.

“Mense leef boonop al hoe langer.

“Dié bose kringloop kan egter gebreek word deur vroeg reeds vir aftrede te beplan en slim te werk te gaan met beleggings vir aftrede.”

Van Zyl sê dit is noodsaaklik om ʼn duidelike omvang van jou finansiële situasie te hê.

“Dit sluit in al jou skuld en spaargeld sowel as die al die spaaropsies wat jy reeds gereed het vir aftrede. Stel vas of jy tot ʼn pensioenfonds, voorsorgfonds of aftree-annuïteit bydra, of meer as een.

“Die volgende stap is om met die hulp van ʼn finansiële beplanner vas te stel hoeveel jy vir aftrede gaan benodig aangesien mense dikwels onderskat hoeveel hulle nodig het om mee af te tree.

“Dit word bepaal met inagneming van jou persoonlike omstandighede, die ouderdom waarop jy beplan om af te tree en die leefstyl wat jy by aftrede sal wil handhaaf. Dit is ook belangrik om te weet watter bedrae onmiddellik tot jou beskikking sal wees by aftrede, watter maandelikse inkomste jy gaan kry en watter belastingimplikasies daar is.”

Meeste SA pensioentrekkers is arm

Die internasionale batebestuurder Allianz Group het in sy jongste Global Pension Report bevind Suid-Afrika het van die armste pensioentrekkers. Van Zyl sê dit lei tot groeiende kommer vir nie net afgetredenes nie, maar ook aktiewe werkers. Dit is belangrik dat mense weet watter opsies tot hul beskikking is wanneer dit kom by aftrede.

“Finansiële adviseurs kan mense help met die opsies wat beskikbaar is ten einde spaargeld vir aftrede te prioritiseer en ʼn omvattende finansiële plan daar te stel om dit te bereik.”

Veranderinge aan wetgewing ten opsigte van aftrede moet ook in gedagte gehou word, sê Van Zyl.

“Die voorgestelde tweepot-pensioenfondsstelsel kan moontlik al in Maart volgende jaar in werking gestel word. Die opsie om aftreegeld te onttrek sal in tye van geldnood moontlik vir talle mense dadelik broodnodige verligting bring, maar sal dit met groot omsigtigheid gedoen moet word in terme van die langtermynuitwerking op aftreespaargeld.”

As geld te gereeld onttrek word, sal dit beteken ʼn werker het oor ʼn lang tydperk baie minder geld gespaar as iemand wat dié geld onaangeraak gelaat het. Die geld wat onttrek is kon oor die spesifieke tydperk nog aansienlik gegroei het en dit kan ʼn wesenlike verskil maak in die bedrag wat uiteindelik beskikbaar is vir aftrede, waarsku Van Zyl.

“Om dus gereeld jou spaargeld te onttrek sal met verloop van tyd ʼn saamgestelde uitwerking hê. Dit is beslis nie iets wat jy moet aanhou doen of eers gereeld moet doen nie.”

Van Zyl sê werkers wat geld uit hul aftreefonds onttrek, gaan waarskynlik nie later in die posisie wees om die geld wat onttrek word weer terug te sit sodat dit verder kan groei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

RS ·

Mense se inkomstes krimp elke maand. Hulle kan nie eens oorleef met dit wat hul inkry nie. Wat nog te se van spaar? Daar is nie geld vir spaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.