Toelae laat gestremde kinders in steek – studie

(Foto: Unsplash)

Hoewel die regering se sorgafhanklikheidstoelaag (SAT) vir kinders met gestremdhede broodnodige ondersteuning aan ouers en versorgers bied, is dit nie naastenby genoeg om aan die behoeftes van hierdie kinders te voorsien en maatskaplike beskerming vir gesinne te verseker nie.

Dr. Zara Trafford, wat onlangs haar doktorsgraad in sielkunde by die Universiteit Stellenbosch ontvang het, het in ʼn studie bevind dat dit veral vir gesinne met min of geen inkomste nie, swaar is om die mas op te kom.

Omdat die toelaag nie bykomende koste dek om kindergestremdheid te bestuur nie, word dié gesinne dikwels net verder in armoede gedompel.

Trafford sê hoewel nie een van die Suid-Afrikaanse regering se toelaagprogramme bedoel is om as selfstandige maatskaplike beskerming te dien nie, is daar ʼn ernstige gebrek aan “verantwoordelikheid vir gestremdheid en ondersteuning vir gestremde kinders van regeringsliggame buite die departement van maatskaplike ontwikkeling”.

Verder is bitter min navorsing nog oor die toelaag as ’n navorsingsonderwerp gedoen in vergelyking met kinderonderhoudstoelae (vir armoedeverligting) en die volwasse ongeskiktheidstoelaag.

Trafford meen die SAT is nie ʼn topprioriteit vir politici nie omdat die regering gestremdheid “nie genoeg prioritiseer nie”.

‘Oop vir interpretasie’

As deel van haar navorsingstudie het Trafford onderhoude gevoer met ouers wat die SAT ontvang, asook amptenare van die Suid-Afrikaanse Maatskaplikesekerheidsagentskap (Sassa), dokters wat SAT-assesserings doen, maatskaplike werkers, aktiviste, akademici en volwassenes met gestremdhede. Sy het ook fokusgroepgesprekke met van die ouers gevoer.

Uit dié gesprekke het dit duidelik geblyk dat belanghebbendes verskillende verwagtings van die toelaag het en wat dit veronderstel is om te bied.

“Alle belanghebbendes was bewus van die buitensporige koste verbonde aan kindergestremdheid, maar het geweet die SAT word gewoonlik by ’n inkomstepoel gevoeg wat gebruik word om almal in die huishouding te versorg, en om vir ander dienste te betaal wat eintlik gratis moet wees of swaar deur die regering gesubsidieer moet word.

“Dit sluit in toeganklike vervoer, toepaslike onderwys en gestremdheidsinklusiewe gesondheidsorg.”

Sy voeg by dat belanghebbendes wel verskil het in hul begrip van die beoogde doel van die SAT.

“Omdat hulle [versorgers en ouers] dikwels van die werk af moes wegbly om hul kind behoorlik te versorg, het versorgers gevoel dat die SAT ten minste in al die behoeftes van hul gestremde kind moet voorsien.

“Dokters het die SAT as ’n fonds gesien wat gesinne in staat sou stel om in die ontwikkelingsbehoeftes van hulle gestremde kind te voorsien, maar ook besef dat staatsbegrotings onder baie druk verkeer.

“Sassa-amptenare het die SAT as ’n erkenning gesien van die voltydse sorg wat dikwels vir kinders met gestremdhede vereis word, maar het ook beklemtoon dat die SAT nie veronderstel is om inkomste te vervang nie.”

Trafford sê hierdie verskillende interpretasies spruit deels uit die vaagheid van die Wet op Maatskaplike Bystand. Dié wet definieer die SAT as ʼn toelaag wat bedoel is vir die primêre versorger van ’n persoon jonger as 18 wat permanente sorg of ondersteuningsdienste weens hul fisieke of geestelike gestremdheid benodig.

Hekwagters pootjie proses

“Die aard en omvang van die sorg en dienste in hierdie definisie word nie verder uiteengesit nie, wat ruimte laat vir botsende interpretasies en verwarring.

“Baie kinders wat by die SAT sal baat (en tegnies in aanmerking moet kom) word klaarblyklik uitgesluit, deels weens die verwarring oor doel en geskiktheid, en die hekwagtermag wat aan administrateurs en gesondheidswerkers in die voorste linie gegee is.”

Trafford se studie wys verder daarop dat talle gesinne lank – in sommige gevalle jare – gesukkel het om die toelaag te kry al het hulle in aanmerking daarvoor gekom. Dit het uiteraard ʼn groot nadelige uitwerking op hul kind se gesondheid gehad.

Probleme ontstaan ook weens foute wat inglip by die insluiting van mense wat eintlik nie vir die toelaag in aanmerking moet kom nie, maar dan voordeel daaruit trek.

“Hoewel die versorgers wat aan my studie deelgeneem het, uiteindelik toegang tot die SAT gekry het, het dit dikwels jare lank gesloer. In die meeste van hierdie gevalle het ouers eers toegang verkry ná herhaalde afkeuring deur Sassa-amptenare, hoewel hierdie amptenare tegnies nie veronderstel is om hierdie besluite te neem nie.”

Trafford sê die implementering van hierdie toelae word ook belemmer deur die assesseringsproses om te bepaal of ’n kind daarvoor in aanmerking kom.

“Die dokters met wie ek onderhoude gevoer het, was almal spesialiste in pediatriese ontwikkeling en het goed toegerus gevoel om hierdie assesserings te doen. Dit is egter nie noodwendig die geval in landelike gebiede en provinsies met minder hulpbronne nie, waar die gebrek aan beskikbare dokters tot wagtye en frustrasies oor onbillikheid in die toekenning van hierdie toelaes bydra.

“Daar is ook voortdurende vertragings in die registrasie van geboortes, wat toegang tot bronne van staatsgesubsidieerde ondersteuning kan belemmer.”

Trafford sê ouers is ook bekommerd oor hul kinders se oorgang na volwassenheid omdat die volwasse gestremdheidstoelaag nie outomaties aan diegene wat voorheen ’n SAT ontvang het, toegeken word nie.

Intersektorale samewerking en die prioritisering van gestremde kinders se regte is gevolglik nodig om te verseker dat kinders met gestremdhede ’n beter lewensgehalte het.

  • Zara Trafford is verbonde aan die instituut vir lewensloopgesondheidsnavorsing in die departement globale gesondheid aan die US.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wondermaarnet ·

Baie ouers gebruik nie eers die toelaag vir die kind nie. Dit is hartseer.

Rooi rissie ·

Die gestremde mense wat kwalifiseer om SASSA toelae te kry word sommer semier afgekeur sonder dat die dokter die pasiënt eers gesien het. Die dokters moet deeglik ondersoek gedoen word ook. Doen mens navrae by SASSA kantore dan werk niemand daar nie die telefone lui net en die eposse word net geignoreer. Ek sal bly wees as Maroela Media n berig daaroor ook kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.