Transnet se Mzimela moet ook trekpas kry

Siza Mzimela (Foto: LinkedIn)

Nie net is Transnet se uitvoerende hoof die trekpas gegee en het sy finansiële hoof bedank nie, maar nou eis die DA dat sy laaste topbestuurslid ook haar sakke pak.

Die amptelike opposisieparty voer aan dat Siza Mzimela, uitvoerende hoof van Transnet-spoorvragvervoer, ook vrywillig moet bedank of die trekpas gegee word.

“Die skuld vir die rampspoedige mislukkings van Portia Derby, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, en haar bestuur lê by Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, toe hy hul aanstelling in 2020 afgeteken het.

“As die argitek van hierdie rampspoedige uitvoerende span, moet Gordhan die onmiddellike bedanking van Mzimela eis,” sê Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings.

“Hiermee saam is dit ook tyd dat die minister uit sy amp verwyder word. Gordhan stel die beleid op, doen die aanstellings en skep die struikelblokke – of dit nou doelbewus is of nie. As die aandeelhouer se verteenwoordiger het hy misluk.”

Die een ná die ander krisis teister die staatsbeheerde vervoerinstelling en dit het nou koppe begin eis.

Nonkululeko Dlamini, Transnet se finansiële hoof, het die maatskappy Vrydag ná ʼn kennismaand verlaat. Derby sal tot die einde van hierdie maand as hoof aanbly.

Die DA sê egter daar is gerugte dat Mzimela weier om te bedank en eerder besluit het om “te baklei teen die oproepe vir haar bedanking”.

“Haar versuim kom ondanks die feit dat sy aan die voorpunt was van die ineenstorting van Transnet se vragkapasiteit – iets wat maklik die meeste inkomste vir Transnet ingevorder het. Om nie eens te praat van die aansienlike daling in uitvoervolumes en die ooreenstemmende uitvoer-ontvangste nie,” sê Cachalia.

“Transnet benodig ʼn nuwe begin, daarom behoort Mzimela haar hoof te volg en te bedank. Enige nuwe uitvoerende hoof wat by Transnet aangestel word, sal dit moeilik vind om die maatskappy om te draai solank as wat mense van die vorige administrasie weier om plek te maak vir ʼn nuwe begin.”

Die DA is boonop bekommerd dat Gordhan weer die man gaan wees wat nuwe aanstellings by Transnet gaan moet doen.

“As hy werklik daartoe verbind was om mense gegrond op meriete aan te stel, sou hy die verantwoordelikheid van nuwe aanstellings in die parlement se hande oorgelaat het.”

Die DA het ʼn versoek aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings ingedien waarin gevra word dat die krisis by Transnet op ʼn dringende grondslag ondersoek word. Die doel is eindelik om ʼn plan te beraam om die instelling te help stabiliseer, die ekonomie te red en werksgeleenthede te beskerm.

“Die parlement het ʼn verpligting om in te tree en die leierskapsvakuum te vul voordat Transnet die ekonomie oor die krans stuur en ʼn sosio-ekonomiese krisis veroorsaak wat nog nooit vantevore gesien is nie,” sê Cachalia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Ek glo Gordon word omderwerp aan Politieke Opdragte…maar met sy hantering van SAA & Denell het ek alle vertroue verloor.

Kokerboom ·

Ek wonder altyd waar die slim kaderdames vandaan gekom het en met toestemming van ANC kader regime die land se SOO’s in die grond in bestuur het?

Papsak ·

Hulle almal skelms en moet liewers weg flip van transnet af hulle het transnet waar hy vanmiddag le klomp skelms sluit toe

Jakes ·

Na 26 Jaar diens in Transnet is dit werklik n skande om te sien hoe die eens vooruitstrewende maatskappy in 5 de rangse entiteitveragter het. Dit was reeds vroeg in 2000 duidelik dat Transnet se bestuur onbevoeg was om die wa deur die drif te sleep. Ek beskou dit as hoogveraad teen die land en sy mense. Dit begin by die minister van vervoer en water af tot op grondvlak. Nie solank as wat die ANC regeer sal Transnet ooit weer n mededingende maatskappy kan word nie. Wat nou nodig is om strafregterlike stappe te neem teen die skuldiges.

Jakes ·

Wat is die dame se ondervinding in logistiek? Geen, niks lutu. Maar word miljoene betaal om vragvervoer te bestuur. So wentel dit af na onder. Dank die hele Transnet bestuur en die minister af en stel bevoegde mense aan wat weet hoe n treinwiel of n spoorlyn lyk.

marius ·

Hoe is dit moontlik dat ‘n staatsamptenaar R8.5 miljoen per jaar salaris kry ?????? Geen wonder hierdie hool is bankrot nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.