‘Tree op’, pleit Cele by beamptes in gevaar

Sers. Kediemetse Masilo is die afgelope naweek op Schweizer-Reneke in Noordwes begrawe. (Foto: SA Polisie)

Bheki Cele, die minister van polisie, het Sondag tydens sers. Kediemetse Masilo se begrafnis op Schweizer-Reneke in Noordwes ʼn beroep op alle polisiebeamptes gedoen “om die eerste te wees om op te tree wanneer geweld – eweredig aan die bedreiging – gebruik moet word”.

Masilo (45) is verlede week doodgeskiet terwyl die polisie besig was om ʼn gesteelde voertuig in die omgewing van Kimberley agterna te sit. Daniel Alberts (38) is reeds in verband met die moord op Masilo en nog ʼn kollega, konst. Okaetse Mandindi (35), in hegtenis geneem.

“Die verdagte het reeds op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, een van motordiefstal en een aanklag van diefstal in die Kimberley-landdroshof verskyn,” sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

Spreker ná spreker by die begrafnis het die moord op polisiebeamptes die naweek veroordeel.

Kenny Morolong, adjunkminister in die presidensie, Nomandla Bloem, die LUR van gemeenskapsveiligheid in die Noord-Kaap, genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, en lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, het die begrafnis bygewoon.

Volgens Mathe is 31 polisiebeamptes die afgelope drie maande aan- en van diens dood.

Cele, wat deur senior polisiebeamptes en verteenwoordigers van die polisievakbond Popcru vergesel is, het polisiebeamptes gevra om nie te huiwer om in ʼn noodsituasie op te tree nie.

“Wees waaksaam en operasioneel gereed om onder enige omstandighede op te tree. Indien geweld vereis word, moet dit ten alle tye nodig, redelik en proporsioneel wees. Ek pleit by julle: Moenie sterf met die hulpbronne en gereedskap wat ons vir julle gegee het nie.”

Konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo (Foto: Verskaf/SAPD)

Mandindi sal Saterdag in Pampierstad in die Noord-Kaap ter ruste gelê word.

Albei lede was tydens hul dood verbonde aan die Kimberley-blitspatrollie.

Die herdenking van die dood van 34 polisiebeamptes vind ook Sondag by die Uniegebou in Pretoria plaas waar hulde aan polisielede wat die afgelope jaar in die uitvoering van hul pligte gesterf het gebring gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Stofdonkie ·

Dalk as daar genoeg beamptes kan wees kan hulle mekaar dalk beter ondersteun ook. Cele, skrik wakker, dis jou toedoen wat die beamptes se lewens kos. Kan hulle ooit die hulpbronne en gereedskap wat tot hulle beskikking is effektief gebruik? As mens kyk na die toestand van meeste polisie voertuie kan jy sommer sien daar is groot fout met die polisie se bestuur. Maak seker die beamptes is goed opgelei en nie oorwerk nie, dit sal al reeds help dat daar nie so baie van hulle hulle lewens verloor nie. Die helfde van beamptes hou nie van werk nie wat veroorsaak dat die ander helfde vir hulle moet instaan en dan nie meer kan byhou nie.

Anon ·

Dank al die korruptes af dan is ons al klaar een stap nader aan verbetering

Mnr De Beer ·

Tree op met wat mnr Bheki Cele? Met wat? Veral as die land se burgers en SAPD lede minder regte het as kriminele.

Frank ·

En wanneer hulle wel misdadiger doodskiet dan is dit die einste polisie en regstelsel wat hulle koppe eis

muffin ·

Watse hulpbronne, cadre hulpbronne? , korrupsie hulpbronne? , omkoop hulpbronne? , vatnet hulpbronne? , vandalisme hulpbronne?, omkoop hulpbronne?

En watse gereedskap? , crowbar, saag, kettings, plofstof, gewere, tires, groot sakke, messe en pangas.
Julle nodig n kop dokter wat n kop dokter gaan nodig he.

Jan ·

Maar as boere op plase hulle eiendom en ook hulle self beskerm word hulle toegesluit.

Baie dubble standaarde.

Anon ·

Tree op?? Hoeveel van jou mense is self misdadigers Cele?? Misdadigers is nie bang vir jou of die gereg nie want julle is almal ewe sleg!

Andre ·

Die een wat die oorsaak is van alles, is die een wat raad uitdeel….

Harley Davidson ·

Die opleiding moet verbeter word en strenger toetse vir nuwe kandidate en hou op diskrimineer teen minderhede.

Koos 100 ·

En Cele, polisiebeamptes pleit by jou om op te tree. Daar is ‘n enorme tekort aan voete op straat, maar nogsteeds kry die VIP eenheid proporsioneel ‘n grooter begroting as polisiëring. 7 blink nuwe BMW X5’e in nr.2 se konvooi en 14 in nr.1 se konvooi. Dan 4 lede per voertuig, dis 84 lede! Meer manne word gebruik om 2 mense op te pas, en die publiek te boelie, as lede op skof op groot stasie, met meer karre en toerusting

Harley Davidson ·

Stem saam,dit moet stop hopelik is die onbevoegdheid iets van die verlede na volgende jaar se verkiesing.

Onnie ·

Mnr Cele, geld dit nou vir alles gevaarlike verdagtes, of net die met ligte velle?

Christelle ·

Geen SAPD lid sal sommer waag om te skiet nie, want die gevolge is senu tergend, emosioneel uitmergelend en hulle word soos misdadigers behandel, al was dit die enigste uitweg. Ek het een van ons vriende daardeur sien gaan en sy gesondheid het n groot knou gekry, na 6 of 7 jaar is sy onskuld eindelik bewys, nou is dit die moeite werd?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.