Tronkstraf vir dronkbestuurder ná verloofdes sterf

Ruan Coen en Jessika Kennedy. (Foto: Verskaf)

“Jy moet nou met die wete saamleef dat jy die bloed van twee jong mense op jou hande het.”

Só het landdros Kallie Bosch Donderdag in die streekshof in Pretoria gesê toe hy Andrew Kagiso Malele agt jaar direkte tronkstraf opgelê het vir die dood van Ruan Coen (26) en Jessika Kennedy (25) vyf jaar gelede. Hy mag boonop nooit weer ʼn voertuig bestuur nie.

Malele is agt jaar tronkstraf opgelê vir strafbare manslag en drie jaar vir roekelose en nalatige bestuur. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Bosch het bygevoeg weens Malele se growwe nalatigheid is sy lisensie gekanselleer.

Malele het huilend aangehoor hoe Bosch die ongeluk wat die lewe van die jong verloofde paartjie geëis het, as “gruwelik” en “tragies” beskryf het.

Bosch het aangevoer dat die vonnis ʼn sterk boodskap sal stuur vir enigiemand wat dronk, roekeloos of nalatig bestuur dat hulle “swaar gestraf sal word”.

“Ek verstaan dat geen vonnis die oorledenes sal terugbring nie, maar hopelik sal dit berusting aan die families bring,” het hy gesê.

Patrick Kennedy en Ursula Kors saam met die staatsaanklaer. (Foto: Maroela Media)

Die familie van die beskuldigde en die slagoffers het in die hof in trane uitgebars toe die vonnis opgelê is. Malele het ook na ʼn snesie gegryp.

Nadat die hof verdaag het, het Malele se huilende tannie, wat hom glo grootgemaak het, op ʼn bankie gesit toe Kennedy se broer, Patrick, haar genader en omhels het. Dié omhelsing het enkele sekondes geduur, en die twee het klaarblyklik vir mekaar om verskoning gevra.

Coen en Kennedy was twee dae voor Kersfees in 2017 op die N4 op pad terug na Pretoria vanaf Witrivier. Malele het in die teenoorgestelde rigting gery nadat hy sedert die vorige aand deurnag ʼn verjaardag gevier het. Malele was besope en het boonop een van sy vier kinders in die motor gehad toe hy beheer oor die voertuig verloor het en met die paartjie se Ford gebots het.

Albei jong mense is op slag dood en hul voertuig was byna onherkenbaar verfrommel.

“Dit is moeilik om my hartseer te beskryf. Dit voel soos ʼn voortdurende paniekaanval wat my verteer,” het Kennedy se ma, Rynet, in haar impakverklaring geskryf wat Bosch in die hof voorgelees het.

“Ek het my belangstelling in die lewe en die toekoms verloor.”

Malele het in Mei, voordat hy skuld beken het, onder andere Coen se ma, Ursula Kors, om verskoning gevra dat hy die jong paartjie se dood veroorsaak het. Kors was Donderdag in die hof saam met Kennedy se broer, Patrick.

“Die pyn vervaag nooit nie,” het Kors in haar impakverklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tante Toekie ·

Met ander woorde hy kan na 2 of 3 jaar parool kry? Wie gaan hom dan keer om weer te bestuur?

ES ·

Spyker op die kop. Hy is nou kwansuis jammer omdat hy moet tronk toe gaan. 8 Jaar is te min in my opinie.

Johann ·

8 jaar? So n lewe wat deur n dronkaard geneem word is 4 jaar per lewe werd? SKANDE! ABSOLUTE SKANDE!!!!!!

Groen-oog ·

Party kry 10 jaar vir kwaai aanranding op 1 persoon. 8 jaar vir 2 MOORDE wow dis nou n maaaaase bargain. Belaglik

Swerwer ·

Wil sien waar die skurk ophou bestuur. Hy moes lewenslank gekry het. Dat 1 van ons waag om die dood van 2 wesens te veroorsaak en boonop weg te jaag dan sien ons nooit weer die lig nie. Dit is moord op wiele en hy word gestraf vir manslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.