Tronkstraf vir motorverkoopsman wat beleggers bedrieg

Argieffoto.

ʼn Bekende motorverkoopsman van Kaapstad is Maandag in die handelshof in Kaapstad tot 18 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van geldwassery en bedrog nadat hy beleggers uit miljoene rande geswendel het.

Ryan Courtney (33) is ʼn bekende motorhandelaar in die Kaap. Hy het tweedehandse voertuie gekoop en verkoop.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê Courtney het beleggers gewerf om geld te belê in die koop van motors en het dit daarna aan handelaars vir hul vertoonlokale verkoop. Die motors is dan teen ʼn groot wins verkoop.

“Die meeste van die 28 klaers wat Courtney bedrieg het, is mense wat reeds voorheen met hom sake gedoen het,” het Ntabazalila gesê.

Courtney het die beleggers se vertroue weens die vorige suksesvolle onderhandelinge uitgebuit.

Tussen Oktober 2018 en Februarie 2019 het Courtney geld van beleggers geneem en hulle beloof dat hy motors daarmee gaan aankoop. Hy sou dan dieselfde motors aan verskeie beleggers verkoop.

“Hy sou ʼn motor van ʼn verkoper vat en beloof om dit teen ʼn goeie wins te verkoop. Die verkoper sou nooit daardie geld sien of die motor terugkry nie.”

Hy het sy beleggers uit nagenoeg R16,8 miljoen bedrieg.

“Hy het die geld onder meer gebruik om sy skuld by ander beleggers te vereffen, vir persoonlike voordele of vir sy dobbelverslawing.”

Adv. Juan Agulhas het in die hof aangevoer dat beleggers ʼn merkwaardige groot bedrag geld verloor het weens die beskuldigde se oneerlikheid.

“Die buitensporige bedrag geld in hierdie bedrogsaak dien as verswaring. Die aard en erns van die misdade is ernstig. Hierdie soort misdade het nie net ʼn invloed op die slagoffers nie, maar ook op die ekonomie van die land,” het Agulhas gesê.

Courtney is tot 13 jaar tronkstraf gevonnis op 28 aanklagte van bedrog. Ses jaar van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort. Hy is ook tot vyf jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van geldwassery. Dit is in geheel opgeskort.

Courtney se effektiewe tronkstraf is dus sewe jaar.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ES ·

En oor 7 jaar kom die mannetjie uit die tronk en reguit terug na sy dobbel verslawing…

domheks ·

Ek sal ook 7 jaar tronk toe gaan vir R16,8 miljoen. Goeie salaris vir 7 jaar!!!! Dan sorg die voos belastingbetalers ook nog vir my vir 7 jaar, indien ek nie vroeer op parool kan uit gaan nie.
Voordelige bedryf!

JohanEtz ·

Kleinvissie!! – kan nie wag dat dié wat die R500bilj (wat vir COVID-19 hulp bedoel was) en geplunder het aan die kaak gestel word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.