Tronkstraf vir vier wat saamsweer om te stroop

hof, selle, misdaad, polisie

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media).

Vier mans is tronkstraf opgelê nadat hulle vandeesweek in die Bloemfontein-streekshof skuldig bevind is aan sameswering om ʼn misdaad te pleeg. Een van die mans is bykomende tronkstraf opgelê omdat hy ook in besit van ʼn hoëkaliber vuurwapen betrap is.

Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die polisie het in September verlede jaar tydens die Eyes and Ears (E2)-inisiatief in die Vrystaat inligting oor ʼn verdagte voertuig ontvang wat op die N6 in die rigting van Bloemfontein op pad was. Volgens die inligting was daar ʼn ongelisensieerde vuurwapen in die voertuig.

“Lede van die Bloemfontein-blitspatrollie het omstreeks 22:30 ʼn Audi A4 voorgekeer, waarna hulle die voertuig deursoek het en op ʼn .458-kaliber jaggeweer afgekom het. Die reeksnommer van die vuurwapen was afgevyl.

“Die polisie het ook nege .458-patrone, een silwer knaldemper, verskeie rolle tinfoelie, ʼn koelsak en drie jagmesse gevind,” sê Earle.

Die polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies in Bloemfontein is later by die ondersoek betrek omdat die verdagtes vermoedelik renosters in die Bethulie/Smithfield-omgewing wou stroop.

Earle sê ná ʼn deeglike ondersoek deur ao. Stefan Grobbelaar, die ondersoekbeampte, het Andries Melusi Mkhabela (40), Solomon Mahlaule (48), Johannes Maluleke (60) en Daniel Bqaq (31) skuld beken op sameswering om ʼn misdaad te pleeg.

“Maluleke het ook skuld beken dat hy in besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie was.”

Die vier mans is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit elkeen tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Maluleke is tot ʼn bykomende vyf jaar vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Hoop net die regstelsel doen hulle deel om nie weer borg toe te staan nie.

Boerin ·

Maar boere mag niks doen aan stropers wat elke nag inkom met honde en hulle wild stroop nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.