Truth to Power: Geheime skuil agter De Ruyter-boek

Andre de Ruyter se nuwe boek. (Foto: Verskaf)

Suid-Afrikaners, ook politici, was salig onbewus dat ʼn besending van 50 000 kopieë van Truth to Power: My Three Years Inside Eskom, oud-Eskomhoof André de Ruyter se opspraakwekkende boek, in die geheim na boekwinkels landwyd versprei is.

Gwede Mantashe, Pravin Gordhan en Eskom se woedende voorsitter, Mpho Makwana, hoef egter nie té sleg te voel omdat die verskyning van die boek hulle so onkant betrap het nie; nie eens die personeel van die boekwinkels het dié onthullende boek sien kom nie.

“Selfs die takbestuurder van jou plaaslike boekwinkel was verras toe hy of sy verlede Sondag die toegedraaide boeke in die stoorkamer oopmaak en André de Ruyter se gesig op die voorblad sien,” sê Steve Connolly, uitvoerende hoof van Penguin Random House Suid-Afrika.

De Ruyter se boek is onder die skuilnaam Moonlight verwerk en is deur ʼn proses wat uitgewers, drukkers en ’n verspreidingstelsel behels – sonder dat ʼn enkele siel uitgelap het dat Eskom se voormalige hoof ’n onthullende boek oor die sukkelende nasionale kragverskaffer geskryf het.

“Daar is mense wat waarskynlik sou verkies dat die boek glad nie gepubliseer word nie en dit dalk sou probeer verhoed. Ons het gevoel hoe minder mense daarvan weet, hoe beter,” sê Connolly oor die groot geheimhouding.

Só ontstaan boek

Penguin Random House het De Ruyter sowat twee jaar gelede genader met die voorstel dat hy ʼn boek skryf. Die uitgewery het egter nie in daardie stadium geweet hoe lank De Ruyter eindelik as uitvoerende hoof by Eskom sou dien en wanneer die boek sou verskyn nie.

Penguin het wél geweet dat die boek eers ná De Ruyter se termyn by Eskom die lig sou moes sien.

“Ons het vir hom gesê dat hy moontlik ’n interessante storie het om te vertel en dat ons baie graag aan die einde daarvan ’n boek saam met hom wil doen,” herroep Connolly die uitgewery se aanvanklike gesprekke met De Ruyter.

Die uitdaging in daardie stadium was egter dat De Ruyter se tyd as die hoof van die nasionale kragvoorsiener uiters beperk was. Penguin het daarom voorgestel dat De Ruyter met verloop van tyd notas maak en dagboek hou van die gebeure by Eskom.

En só het die verhaal van grootskaalse korrupsie by die nasionale kragverskaffer stuk-stuk uit De Ruyter se spreekwoordelike pen begin vloei.

“André het elemente van die boek geskryf soos hy aangegaan het. Hy is ʼn goeie kommunikeerder en skryf goed. Dit was wonderlik om saam met hom te werk wanneer ons tyd kon kry om saam te werk,” vertel Connolly.

Andre de Ruyter se nuwe boek. (Foto: Maroela Media/Tania Heyns)

Penguin Random House het sowat ’n jaar gelede die aanvanklike hoofstukke van die boek in onverwerkte formaat begin ontvang. Die gedetailleerde redigering het in die tweede helfte van verlede jaar begin en die manuskrip is in fases voltooi.

“Dit was eers deur die loop van hierdie jaar dat ons verskeie hoofstukke op ʼn slag begin ontvang het. Wat my opgeval het, was hoe leesbaar dit was,” verduidelik Connolly. “Dit het goed gevloei en was maklik om te lees.

“Dit was ook so ʼn interessante storie.”

Truth to Power: My Three Years Inside Eskom is chronologies saamgestel en vertel die verhaal van hoe Tito Mboweni, voormalige minister van finansies, in 2017 reeds die saadjie oor Eskom by De Ruyter geplant het. Dan volg De Ruyter se aanstelling in Desember 2019 en die onstuimige termyn wat daarop sou volg.

De Ruyter gee ook meer besonderhede oor daardie aanslag op sy lewe op 12 Desember 2022 nadat hy sy bedanking ingedien het.

Nadat De Ruyter bedank het, is hy aangemoedig om vinniger te skryf.

Connolly sê De Ruyter het sowat twee maande ná sy bedanking gehad om voltyds aan die boek te werk. De Ruyter moes die boek proeflees en seker maak hy is tevrede met die redigering daarvan.

Amperse staatsgeheim

Andre de Ruyter se nuwe boek. (Foto: Maroela Media/Tania Heyns)

Connolly vertel net ’n handjievol mense het aanvanklik enigiets van die boek geweet. Mettertyd moes al hoe meer mense betrek word terwyl die feite in die boeke nagegaan is, die voorblad ontwerp en die boek eindelik gedruk is.

Elkeen betrokke moes ook ʼn streng nie-openbaarmakingsooreenkoms (NDA) onderteken om vertroulikheid te verseker.

Connolly was veral bekommerd oor die druk van die boek. Die druk- en bindproses is daarom tot op die nippertjie gelos en die bestuurspan by die fabriek waar die boek gedruk is, het hul werkers streng opdrag gegee om nie ʼn enkele woord daaroor te rep nie.

Nadat 50 000 kopieë gedruk en gebind is, is die boeke in bruin papier toegedraai, en verpak met die skuilnaam Moonlight. Die boeke is van daar in bondels op palette in ’n afgesonderde gedeelte van die fabriek gestoor voor dit eindelik na boekwinkels versprei is.

Byna alles moes tot op die laaste oomblik wag en Penguin het eers sowat ’n week en ’n half voor die boek se bekendstelling die hoofde van die land se groot kettingboekwinkels meegedeel dat ’n “belangrike boek” op pad is.

Dit is die eerste keer ooit dat Penguin slegs die hoofde van die groot kettingboekwinkels oor ’n boek ingelig het.

Die land se kleiner boekwinkels is selfs nog later ingelig oor Moonlight wat op pad is.

“So, jou plaaslike boekwinkel is deur hul bestuur in kennis gestel dat daar ’n groot boek getiteld Moonlight op pad is en dat niks meer daaroor gesê kan word nie,” sê Connolly oor die uiters hoë vlak van vertroulikheid wat gehandhaaf moes word.

“Daar is in alle kommunikasie, elke e-pos, van die boek Moonlight gepraat.”

Die land se boekwinkeleienaars is gevra om die toegedraaide kopieë in ʼn stoorkamer te berg en eers vroeg Sondag oop te maak en uit te pak.

“Toe eers sou hulle André de Ruyter se gesig op die voorblad sien,” sê Connolly.

Selfs daaglikse verkoopsverslae is met die hand aangepas sodat niemand vrae oor hierdie groot besending boeke wat skielik bestel is en waarvan niemand eintlik iets weet nie, kon vra.

‘Senutergend’

Connolly bestempel die ganse proses as senutergend.

Sy senuwees het teen Saterdag – ʼn dag voor die groot bekendstelling – begin bedaar. En toe breek die groot dag Sondag aan.

“Toe begin die drama,” vertel Connolly. “Dit het net begin verkoop en verkoop en verkoop …”

Voorlopige syfers wys dat 11 000 De Ruyter-boeke binne die eerste vier dae verkoop is. Suid-Afrikaanse boekwinkels se topverkoper het die vorige week maar 800 kopieë vir die hele week verkoop, wys Connolly daarop.

Hy voorspel dat tussen 16 000 en 18 000 kopieë van De Ruyter se boek teen Saterdag verkoop sal wees. ’n Bestelling vir nóg 40 000 boeke is intussen by die drukkers geplaas en sal winkelrakke na verwagting volgende week tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JvR ·

Soos gese deur my en baie ander lesers. DR het hierdie goed weggesteek. Nou weet ons hoekom. Sodat hy ‘n “blitsverkoper” kan skryf ten koste van die publiek. Mag die PDF wyd en syd versprei word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.