Tshwane-metro waarsku oor cholera-uitbreking in Zim

Foto: Pieter Cloete/Maroela Media

Die nasionale departement van gesondheid het Suid-Afrikaners gewaarsku om paraat te wees en die nodige voorsorgmaatreëls te tref ná voortdurende uitbrekings van cholera in buurlande, veral Zimbabwe, aangemeld is.

Rina Marx, die Tshwane-metro se burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, sê ook inwoners moet seker maak dat hulle die nodige voorsorgmaatreëls tref, “aangesien oorgrensreise na verwagting oor die feestyd sal toeneem”.

“Cholera word deur water oorgedra of voedsel wat met die cholera-bakterieë (vibrio cholera) besmet is. Simptome sluit in waterige diarree, naarheid, braking, dehidrasie en spierkrampe. Dit kan met binneaarse vloeistowwe om te hidreer en antibiotika behandel word. Vroeë behandeling is kritiek noodsaaklik,” sê Marx.

“Indien jy onseker is oor die gehalte van water, kook die water voor jy dit gebruik.

“Was vrugte, groente en vleis met water wat gekook is voordat jy dit gebruik. Goeie higiëne is belangrik om die verspreiding van cholera te voorkom.”

Sy sê die departement het reeds maatreëls ingestel om die spoedige behandeling van moontlike cholera-gevalle te verseker.

  • Kliniese personeel is gewaarsku om waaksaam te bly en relevante riglyne te volg indien gemeenskapslede met waterige diarree by klinieke teenwoordig is.
  • ʼn Kommunikasiespan sal cholera-voorkomende e-kaarte op sosialemedia-platforms deel.
  • Nuut aangestelde portuuropvoeders is in die proses om indiensopleiding te ontvang, insluitend verskeie gesondheidsbevordering- en opvoedkundige boodskappe.
  • Munisipale gesondheidsdiensspanne is gereed om op versoeke vir watergehaltemonitering te reageer.

Marx sê hoewel die departement se pogings op voorkomende maatreëls gefokus bly, is uitbrekingsreaksiespanne gereed indien nodig.

“Cholera is hoogs voorkombaar en behandelbaar as dit vroeg opgespoor word. Wees asseblief waaksaam,” sê Marx.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marous ·

Hierdie hool se uitbreek van siektes agv besoedeling is om die draai.

ronel ·

Ironies dat Tshwane metro homself begeef in ‘n opinie oor ander plekke se swak water gehalte, asof hulle nou nie self besig is om met reuse tree self te verval in net nog n munisipale gebied wat se hele dienslewering en infrastruktuur verrot is nie. Dalk moet Tshwane hom bepaal by sy eie probleme.

hpven ·

Een regime waarku teen ‘n ander regime se drinkwater! Ons kan al lankal nie meer ons eie water drink nie. Waar is Ramaphosa se ANC met al hul “wysheid” in pag?

houopkruip ·

Dis duidelik dat jy nie ‘n benul het van wat buite jou woonplek aangaan nie ronel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.