Tshwane stééds sonder burgemeester

Vrydagaand se raadsvergadering in Tshwane. (Foto: Twitter)

Die Stad Tshwane het steeds nie ’n nuwe burgemeester verkies nie nadat lede van die veelpartykoalisie Vrydagaand uit ’n raadsvergadering gestap het.

Die DA en sy koalisievennote het uit die raadsvergadering gestap nadat die speaker geskorste raadslede wou toelaat om te stem.

Die DA en sy koalisievennote het egter daarop gewys dat die nuutgeskorste lede se teenwoordigheid by die vergadering onwettig is en waarskynlik ’n wesenlike impak op die verkiesing van ’n burgemeester sal hê.

Die geskorste raadslede sluit in twee raadslede wat Vrydagoggend deur ActionSA geskors is nadat hulle na bewering saam met die ANC en EFF vir dr. Murunwa Makwarela as burgemeester gestem het. Makwarela het intussen bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hy ’n vervalste rehabilitasiesertifikaat ingedien het.

Dr. Corné Mulder, voorsitter van die koalisie-toesiggroep, sê nou dit word vermoed dat die twee geskorste raadslede se teenwoordigheid by gisteraand se vergadering deel uitgemaak het van die EFF en die ANC se plan om weer hul kandidaat tot burgemeester te laat verkies.

Mulder sê die veelpartykoalisie het die speaker gisteraand die geleentheid gebied om die saak reg te stel en die geskorste lede uit die vergadering te verwyder. Die koalisie het ook voorgestel dat die vergadering tot volgende week uitgestel word sodat ʼn regsmening ingewin kan word.

Die speaker was aanvanklik ten gunste van die voorstel en het die vergadering verdaag net om van plan te verander en om 19:00 sonder ’n regsmening terug te keer. Dit is toe dat die lede van die veelpartykoalisie besluit het om uit die raadsvergadering te stap, verduidelik Mulder.

Die ANC en EFF in Tshwane word nou daarvan beskuldig dat hulle ’n staatsgreep lei teen die koalisieregering waarvoor die meerderheid van die Stad Tshwane se inwoners gestem het.

Mulder sê die ANC-EFF-koalisie het met Makwarela probeer om beheer oor Tshwane te neem en het gisteraand weer probeer om dit teweeg te bring met die stemme van voormalige raadslede wat nie eers wettiglik toegelaat word om raadsvergaderings by te woon nie, “wat nog te sê van stem vir burgemeesters”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.