Tshwane vra kwytskelding van loonverhogings

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, en die stadsbestuurder, Johann Mettler, het vakbondverteenwoordigers Vrydag ontmoet en werkers op die trappe van Tshwane House toegespreek oor die stad se finansiële posisie rakende salarisverhogings (Foto: Mayor Cilliers Brink/Twitter)

Die Tshwane-metroraad neem kennis van die nakomingsbevel wat Donderdag deur die bedingingsraad vir plaaslike regerings (SALGBC) uitgereik is. Hierin word die metro ingelig van sy nienakoming van sekere klousules van die raad se kollektiewe ooreenkoms rakende dissiplinêre prosedures vir die versuim om die laaste verhoging ingevolge ʼn driejaarsalaris- en loonverhogingsooreenkoms vir werkers in te stel.

Honderde lede van die munisipalewerkersvakbond Samwu in die hoofstad staak sedert Maandag oor die loon- en salarisverhoging van 0% wat die stadsraad in Junie goedgekeur het.

Volgens Selby Bokaba, woordvoerder van die munisipaliteit, is die vakbonde Imatu en Samwu in ʼn onlangse vergadering met die stadsbestuurder, Johann Mettler, en by ʼn daaropvolgende plaaslike arbeidsforumvergadering ingelig dat die stad eenvoudig nie die salaris- en loonverhogings kan bekostig nie.

“Die stad het dit duidelik gestel dat hy nie die verhogings kan bekostig nie en bevestig dat hy besig is met ʼn aansoek by SALGBC om van die verhogings kwytgeskeld te word. Die vrystellingsaansoek sal teen 10 Augustus ingedien word,” sê Bokaba.

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, sowel as Mettler het vakbondverteenwoordigers Vrydag ontmoet en werkers op die trappe van Tshwane House toegespreek oor die stad se finansiële posisie rakende salarisverhogings.

Honderde lede van die munisipalewerkersvakbond Samwu in die hoofstad staak sedert Maandag oor die loon- en salarisverhoging van 0% wat die stadsraad in Junie goedgekeur het (Foto: Mayor Cilliers Brink/Twitter)

Mettler het die werknemers gemaan om nie diegene wat wel werk, te intimideer nie. Hy het ook gesê hy is vol vertroue en hoop dat alle kwessies uitgestryk kan word.

Brink het sy waardering aan die werkers te kenne gegee en redes verskaf oor hoekom die stad nie nou in ʼn posisie is om verhogings te betaal nie.

Weens die stakings is verskeie munisipale kliëntedienssentrums tans gesluit, wat inwoners wat hul munisipale rekeninge wil betaal, raak.

Inwoners word herinner aan die volgende alternatiewe betaalopsies wat gedurende hierdie tydperk gebruik kan word:
• e-Tshwane-platform
• Poskantoor
• Elektroniese fondsoorplasing
• Spar
• Pick n Pay

Volgens Peter Sutton, burgemeesterskomiteelid vir finansies, sal die stad ondanks die protesaksie, voortgaan om sy kredietbeheerbeleid te implementeer en uitstaande skuld in te vorder.

“Stakende werknemers word weereens gemaan om terug te keer werk toe en op te hou om in te meng met bestuursaspekte wat inkomste en kontantinvordering raak,” sê Sutton.

Stakers het vandeesweek probeer om ons kantore te sluit, dienslewering vir elektrisiteit- en wateronderbrekings te stuit en stadseiendom te beskadig. Al hierdie aspekte beïnvloed die inkomste- en kontantinvorderingsvermoë van die stad. Alhoewel hierdie individue dink dat hulle ‘n spesifieke uitkoms sal afdwing, vererger hulle in werklikheid moontlik ons finansiële situasie.”

“Ons moet die finansies van die stad verbeter. As ons voldoende vordering maak in die insameling van geld en die arbeidsmag ons help in die stryd teen korrupsie, sal ons die metro se posisie oor die betaling van salaris- en loonverhogings heroorweeg.

“Dit is nie ʼn geslote deur nie. Kom ons werk hard en stabiliseer eers ons finansies”, het die burgemeester gesê.

Maroela Media het vroeër berig die metro het sy stakende werkers tot Vrydag om 10:30 gegee om hul onwettige staking op te skort en terug te keer werk toe – of verdere stappe sal teen hulle gedoen word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

Dank die stakers af. Daar is baie werkloses wat graag daardie poste wil hê en dit tien teen een beter sal doen.

Harley Davidson ·

Pretoria sal regkom en weer floreer, gee die man ‘n kans dit wat hy doen is finansieel die korrekte ding om nou te doen.

Koos 100 ·

En net so het die staatsdienswerkers 3 jaar terug ook moes opvreet. Snaaks genoeg het die unies net gedreig en toe gebuig. Daar was geen staking nie. Terwyl Eskom werkers 7% gekry het. Dis ‘n politiekery van voor tot agter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.