Tshwane waarsku wanbetalers weer kort voor Kersfees

(Foto: Eskom/Twitter)

Tshwane het wanbetalers met voorafbetaalde kragmeters kort voor Kersfees opnuut gewaarsku om hul agterstallige munisipale skuld te vereffen of die gevaar te loop dat hulle nie weer krag sal kan koop tot die uitstaande geld betaal is nie.

Wanneer klante wie se munisipale rekeninge agterstallig is dus krageenhede wil koop, gaan die geld herlei word om die agterstallige skuld te betaal. Die stad het vantevore net 60% van dié geld vir die aankoop van elektrisiteit gebruik.

Die Tshwane-metro het ʼn toegewyde span aangewys om navrae in hierdie verband te hanteer en ʼn minimum betaling van 30% van die uitstaande skuld gaan benodig word om ʼn kragmeter weer te aktiveer.

Die stad se kredietbeheerbeleid bepaal dat 60% of selfs 100% van ʼn voorafbetaalde kragmeter geblok kan word tot die uitstaande skuld vereffen word.

“Met die streng afdwing van kredietbeheermaatreëls moet klante óf die uitstaande rekening ten volle vereffen óf ʼn betalingsooreenkoms met die stad aangaan vir die voorafbetaalde meters om geaktiveer te word sodat krageenhede weer daarop gelaai kan word,” sê Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro.

Volgens hom het die metro ook agtergekom dat sommige klante doelbewus ʼn dispuut met die stad verklaar om betalings te vertraag of te vermy. Bokaba sê die verklaring van ʼn dispuut gee egter geen kwytskelding vir die betaling van die huidige lopende rekening terwyl die dispuut besleg word nie.

“Dit is die verantwoordelikheid van klante om te betaal vir dienste wat hulle gebruik het.”

Verskeie instapsentrums in die stad kan gebruik word om agterstallige skuld te betaal. Dit neem gewoonlik sowat ʼn halfuur – nadat betaling gedoen is – vir ʼn kragmeter om weer geaktiveer te word.

Kassierdienste*:

  • Middestad
  • Centurion
  • Soshanguve Blok F
  • Akasia
  • Beirut
  • Hammanskraal

*Op 22 en 29 Desember sluit die kantoor om 12:00.

Kredietbeheerdienste:

  • Akasia
  • Middestad
  • Centurion
  • Soshanguve Blok F

Werksure:

  • Vrydag, 22 Desember: 07:30 tot 17:00
  • Saterdag, 23 Desember: 07:30 tot 13:00
  • 27, 28 en 29 Desember: 07:30 tot 17:00
  • Saterdag, 30 Desember: 07:30 tot 13:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.