TV-boer (36) sterf skielik

Ignus Ferreira. (Foto: Facebook/Ignus Ferreira)

Ignus Ferreira, ʼn boer van Delareyville in Noordwes, wat in 2015 aan die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ʼn vrou deelgeneem het, is Sondag oorlede.

Hy was 36 jaar oud.

Ignus se suster, Cornél, asook sy swaer, Roean Bezuidenhout, het die nuus aan Maroela Media bevestig.

Volgens Roean lyk dit of Ignus ʼn hartaanval gehad het.

“Die inligting wat op hierdie stadium beskikbaar is aan die familie, wys daarop dat Ignus ʼn hartaanval gehad het,” het Bezuidenhout aan Maroela Media gesê.

Cornél het aan Maroela Media gesê haar broer se afsterwe is ʼn groot skok vir die familie en daar lê ʼn hartseer tyd vir hulle voor.

“My boetie is in die hemel; hy het Sondagoggend omstreeks 08:45 sy vlerke gekry,” het sy emosioneel gesê.

“Dit is ʼn bietjie moeilik op die oomblik, maar ons is dankbaar vir al die goeie tye wat daar was en al die mooi herinneringe. Hy was ʼn gewilde man wat diep spore getrap het in baie mense se harte en ʼn verskil gemaak het waar hy gegaan het.

“Ons sal dit altyd koester en dit voortvat, ʼn deel van hom is steeds by ons, en dit is ons verantwoordelikheid om ʼn verskil te maak waar hy klaargemaak het. Hy het klaargemaak op aarde, God het hom nodig gehad.”

Begrafnisreëlings vir Ignus is nog nie bekend gemaak nie.

Ignus het in 2015 aan die agtste seisoen van Boer soek ʼn vrou deelgeneem. Hy was die boer wat tydens dié seisoen die meeste briewe ontvang het.

Ignus Ferreira. (Foto: Facebook/Ignus Ferreira)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Skappie ·

So jammer om te hoor. Hy was nog so jonk. Sterkte aan sy gesin en vriendekring. Mag onse Liewe Jesus julle deur hierdie moeilike tyd dra wat nou vir julle voorle, en elkeeen styf in Sy arms vashou.

Di ·

Dis skokkend om te lees hoeveel jong mense skielik aan hartaanvalle sterf! Innige meegevoel aan sy familie en vriende

Blompot ·

Daar moet ondersoek ingestel word na hierdie hartaanvalle onder soveel blakend gesonde jongmense. Dit gebeur al meer en meer na Covid en verg deeglike navorsing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.