Twee aanvalle kort na mekaar buite Brits

Argieffoto

Die polisie in Noordwes ondersoek ’n saak van poging tot moord asook twee sake van huisroof nadat aanvallers Maandagaand op ’n kleinhoewe en ’n plaas in die omgewing van Skeerpoort duskant Brits in Noordwes toegeslaan het.

Die aanvallers het na bewering spesifiek plaaswerkers geteiken en ’n plaaswerker is in die proses verskeie kere geskiet.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ’n 50-jarige man en sy 55-jarige vrou was omstreeks 21:00 in die bed in hul huis op ’n hoewe toe ’n venster van die huis gebreek het.

Die verdagtes het van buite die huis vir die egpaar geskree om uit die huis te kom waarna nog ’n venster gebreek is. Die verdagtes het na bewering toe verskeie skote afgevuur en die man is verskeie kere gewond.

Die eienaars van die hoewe het ’n geraas gehoor en die egpaar gebel om ondersoek in te stel. Die verdagtes het vermoedelik die oproep gehoor en laat spaander.

Volgens Romano van der Spuy, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Hartbeespoort, is die man in die proses vyf keer geskiet. Hy is ná die voorval na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Nog ’n aanval is later omstreeks 23:00 op ’n plaas in die omgewing aangemeld. Dié plaas is enkele kilometer van die hoewe, het Van der Spuy gesê.

Myburgh het bevestig dat ’n 55-jarige vrou en haar seun ook al in die bed was, toe hulle ’n geraas buite hul plaashuis gehoor het.

“Verdagtes het aan die deur geklop en gesê hulle is op soek na iemand. Die vrou het aangedui dat die persoon na wie hulle op soek is nie daar woon nie waarna hulle probeer het om die deur oop te forseer. Die vrou het toe die deur oopgemaak en drie mans het buite gestaan.”

Een van die mans het ’n vuurwapen op die vrou gerig terwyl ’n ander een met ’n mes gewapen was.

Die verdagtes het op kontant en ’n selfoon aangedring waarna hulle vort is.

Sowat 15 minute later is daar by nóg ’n huis op die plaas ingebreek. “’n 30-jarige man het in sy bed gelê en slaap toe hy iemand op die dak hoor loop. ’n Hand het toe deur die dak ’n pistool op hom gerig en die man is aangesê om die deur oop te maak.”

Twee verdagtes het die man aangerand voordat hulle met geld, selfone, klere en koeldrank te voet laat spaander het.

Myburgh het gesê dat dit nie in dié stadium duidelik is hoeveel verdagtes betrokke was en of die voorvalle op die hoewe en die plaas verbind kan word nie.

Volgens Van der Spuy het tussen 30 en 40 lede van die gemeenskap gisteraand op die aanvalle gereageer en die plaaswerkers te hulp gesnel.

Niemand is egter nog in verband met die aanvalle in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Thea ·

Hulle het spesifiek na iemand kom soek…. Dit is nogal verdag. En intussen word ander mense skade aangerig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.