Twee in hof oor roof by burgemeester se huis

(Argieffoto: Kent Williamson)

Joao Antonio Lucas (38) en Portia Kgama (34), het Donderdag in die Phalala-landdroshof in Ellisras verskyn in verband met ʼn rooftog by die burgemeester se huis.

Lucas, wat nog in verskeie landdroshowe in KwaZulu-Natal moet verskyn op soortgelyke aanklagte, se borgtog is van die hand gewys, het kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, gesê. Sy saak is tot 31 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

Kgama bly ook in aanhouding tot 21 April vir die aansoek om borgtog en verdere ondersoek.

“Die verdagtes is aangekeer ná ʼn huisroof op 14 Februarie 2021 omstreeks 20:00 by een van die munisipale burgemeesters in die Waterberg-distrik in Limpopo.”

Vier gewapende mans en twee vroue, wat in drie motors gery het, het by die burgemeester se hek stilgehou en die veiligheidswag gevra om die burgemeester te sien. “Voor hy egter kon reageer, het hulle hom aangeval, die huis betree en almal binne die huis vasgebind. Hulle het die huis deursoek en ʼn Toyota Legend 45 gesteel. Die voertuig is later verlate aangetref in Lebuweg in Tomburke-polisiëringsgebied buite Ellisras.”

Die verdagtes het met ʼn wit Toyota Fortuner, donkerblou Volkswagen Polo en ʼn onbekende motor van die toneel gevlug.

Die veiligheidswag is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.

Beamptes het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op die Volkswagen Polo.

Die soektog duur voort na hulle medepligtiges.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Mens wonder waar kom Joao Antonio Lucas vandaan, klink so Portugees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.