Tweede RBM-baas in ‘sluipmoordaanval’ dood

Drie gewapende mans het op Nico Swart se voertuig losgebrand. (Foto: Verskaf deur RBM)

Dit blyk dat Nico Swart (47), die bedryfshoof van Richards Bay Minerals (RBM), wat Maandag in sy motor doodgeskiet is, nie die eerste hoë van dié maatskappy is wat onder soortgelyke omstandighede dood is nie. Ronny Nzimande, destydse menslikehulpbronbestuurder van RBM, is in 2016 in sy motor voor sy huis in Pipe Fishweg geskiet. Hy het  ʼn dag later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Verskeie skote is op Swart se motor afgevuur. (Foto: Jeandré Fourie / Medcare24EMS)

Maroela Media het berig dat Swart gisteroggend op pad werk toe was toe drie gewapende mans op sy voertuig losgebrand en te voet gevlug het. Dit word vermoed dat dit moontlik ’n sluipmoord was.

Volgens Jeandré Fourie, woordvoerder van Medcare24EMS, het hy Swart op die toneel dood verklaar.

Hy sê dat niks tydens die voorval gesteel is nie en dat Swart se Toyota-dubbelkajuitbakkie nog gesluit en in rymodus was toe nooddienswerkers by die toneel aangekom het.

“Dit blyk dat die verdagtes eerste sy motorband geskiet het. Hy is ook onder meer deur die venster aan die bestuurskant en deur die windskerm van die motor geskiet.

“Ek het twee skietwonde in sy nek, bo sy lip, op sy bene en ook in sy arm gekry.”

Volgens Fourie blyk dit dat die aanvallers op ’n kort afstand met 9 mm-pistole losgebrand het.

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie die voorval ondersoek en dat die motief nie bekend is nie. Gwala het nie op navrae oor Nzimande se dood gereageer nie, maar het destyds aan News24 gesê Nzimande is in die kop, maag en regterarm gewond. Geen motief is destyds bekendgemaak nie.

Zanele Zunghu, woordvoerder vir RBM, het aan Maroela Media bevestig dat Nzimande ten tyde van sy dood die menslikehulpbronbestuurder by RBM was, maar het nie verder oor die voorval uitgebrei nie.

’n Ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat hy in 2016 vir besigheid in die Duneside-gastehuis, in Pipe Fishweg oorkant Nzimande se huis, gebly het toe die voorval plaasgevind het. Hy was vir sowat ’n week in Richardsbaai om saam met ʼn taakspan aan ’n Transnet-helikopter te werk.

“Ek het 21:00 se kant in die bed geklim en net toe ek my oë toemaak, was daar ongelooflik baie geweerskote.

“Ek het vir so vyf minute stil gelê omdat ek aanvanklik gedink het dit is in die gastehuis.”

Die ooggetuie het later besluit om ondersoek in te stel en tot voor by die gastehuis se hek geloop waar hy die kar vol gate gesien staan het. “Ek kon die persoon, wat op dié stadium nog gelewe het, in die motor sien. Hy het die toeter begin druk en ek het terug gastehuis toe gehardloop om hulp te ontbied.”

Hy sê toe hy weer uitgegaan het, was daar reeds iemand by die motor, vermoedelik sy vrou of dogter. Nooddienste was glo ook kort daarna op die toneel.

“Dit was erg en ek het sy gesin baie jammer gekry.”

Sahlulele Luzipo, voorsitter van die parlementêre komitee oor minerale bronne, het Swart se dood in ’n verklaring veroordeel en beroep op die polisie gedoen om genadeloos in hul ondersoek te wees. Hy het ook gesê dat die polisie volgens sy kennis ’n saak van moord ondersoek.

“’n Misdaad soos dié beroof die land nie net van goeie mans en vroue nie, maar bedreig ook broodnodige buitelandse investering in die ekonomie.”

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Harry ·

Wie gee iemand die reg om ‘n gesinsman se lewe te neem net so dat hulle finansieel daarby kan baat? Mag hierdie mense hulle dag kry. Sterkte aan die familie. Mag ons Liewe Vader julle troos in hierdie donker tyd. Mag julle Sy insig en liefde ervaar.

Thea ·

Wat vir my baie erg is, is altyd die fotos wat geplaas word van die toneel. Daai bakkie…. Dit sou my vreeslik ontstel het as dit my pa, of iemand na aan my moes gewees het. Ek ken die persoon nie eers nie maar daardie foto maar my ril tot in my siel. Sterkte aan die man se familie.

Cindy ·

stem saam. Weet nie hoekom daar altyd foto’s geplaas MOET word nie, genugtig, die man se familie is klaar stukkend

Vrijburger ·

Jy kan nie die ANC Marxiste met die doodstraf vertrou nie.

Saartjievandiebosveld ·

Ons bly in land wat deur ”Gangsters” beheer word….
Sterkte aan die familie

Blikke ·

Bitter hartseer!!! Ongelukkig is daar net mooi niks wat hierdie insident onklaar gaan maak nie. Die skade is gedoen!!!

Tanya ·

Hulle het onvoorwaardelik gekom met die doel om hom dood te skiet, 8 skote deur die bestuurder venster, kop en nek hoogte. Hy het heel moontlik nie kans gehad om dit te sien kom nie of enigsins te vermy nie. Dis ongelooflik tragies, my hart gaan uit na sy vrou en kinders! Baie sterkte in die moeilike tyd.

marius ·

Genadeloos in ondersoek help niks as die howe so pateties is nie

Blikkies ·

Kry asb vir Adele Kirsten van (Gun Free SA) om haar mening en voorstelle te kry? Ek voel jammer vir die familie en vriende van hierdie man wat deur deur dit moet gaan. Ek sal bid vir julle.

Korrelkop ·

Ek veroordeel dit natuurlik, maar verstaan dit ook heeltemal goed. Baie van hierdie hoë koppe kry al klaar buitensporige salarisse en dan dank hulle baie maklik mense, wat klaar ‘n sukkelbestaan voer, af. Dis dan wat diesulkes wraakgedagtes kry.

Jack ·

Wonder wat guns free sa se kommentaar op die moorde is. Wat is hulle oplossing? Miskien om die ak,s te konfiskeer of vrywillig te laat inhandig.

Danie ·

Wat help dit om Adele Kirsten vir kommentaar te vra.
Volgens haar sal die aanval nie met vuurwapens gebeur het indien die land vuurwapenloos was.
Meneer Swart sou wel steeds dood wees agv n bom of petrolbom onder sy kar of n honderd messteekwonde maar gelukkig sou hy nie deur n vuurwapen geskiet wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.