Twee van TMPD in die pad gesteek oor afpersing

Argieffoto bloot ter illustrasie van die Tshwane-metropolisie. (Foto: TMPD/Twitter)

Twee Tshwane-metropolisiebeamptes het nou elkeen eindelik ʼn afdankingsbrief van die metro ontvang nadat hulle aan ernstige wangedrag skuldig bevind is.

Vyf van hul kollegas het skriftelike waarskuwings ontvang, sê Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metroraad.

Die afdankings en waarskuwings kom nadat die Tshwane-metropolisie (TMPD) verlede jaar talle klagtes van motoriste ontvang het dat metropolisiebeamptes hulle intimideer en afpers, ten einde duisende rande in hul eie sakke te steek.

Die twee afgedankte metropolisiebeamptes is elkeen ná lang dissiplinêre prosesse skuldig bevind aan onder meer afpersing – die een beampte se tugproses het in Februarie verlede jaar reeds begin en die ander een sʼn in Augustus.

Theunissen erken die feit dat die een metropolisiebeampte se tugproses ʼn volle jaar lank geneem het om afgehandel te word en die ander een ses maande, moontlik die wenkbroue kan laat lig.

Hy wys egter daarop dat verlede jaar se onwettige staking in Tshwane ekstra las op die metro se mensekapitaalbestuur “wat die sleutel tot die verrigtinge was” geplaas het.

Theunissen sê hoewel die afdankings en waarskuwings maar soos ʼn “druppel in die see” mag voel, dit eindelik die einde van ʼn era van straffeloosheid binne die TMPD beteken.

Einste Theunissen het einde verlede jaar ook aangekondig dat dit voortaan “reg of weg” by die TMPD gaan wees.

Hy sê dat hy met Cilliers Brink, die burgemeester, en Kingsley Wakelin, LUR vir korporatiewe en gedeelde dienste by die stadsraad, se ondersteuning gereeld met die metro se verskillende afdelings vergadering om te verseker dat wangedrag en kriminele dade in Tshwane gestraf word.

Die slagoffers van misdade aan die hand van Tshwane-metropolisiebeamptes word versoek om die misdade by die polisie of die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) of die TMPD se integriteitseenheid by 083 657 2998 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Danie ·

J nou is hulle afgedank,maar niks verhoed hulle om by n ander munisipaliteit te gaan werk en voort te gaan met hul bedreiwighede nie. Hul bevoegdheid kwalifikasie diploma moes teruggetrek word sodat hul nerens weer kan werk as verkeers beamptes.

Elméne ·

Die spreekwoord lui, “sien is glo maar voel is wragtag”. Ons gaan NIKS voel nie want hulle lê net windeiers sovêr die anc gebroedsel se “verklarings” gaan. So speel hulle vir tyd, die klomp WE’s!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.