Twee vas oor aanvalle op Intercape-busse

Intercape het die afgelope paar jaar onder voortgesette teistering deurgeloop. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Twee mans is die afgelope naweek in die Oos-Kaap in hegtenis geneem toe hulle na bewering passasiers wat by ʼn vulstasie in Cofimvaba vir ʼn bus gewag het, aangeval en beroof het. Die mans word moontlik verbind met ʼn vlaag aanvalle op busse en passasiers van die Intercape-busdiens.

Die inhegtenisnemings kom ná Intercape al verskeie hofbevele bekom het om die polisie en die nasionale en provinsiale verkeersowerhede te dwing om aandag aan die gewelddadige aanvalle op sy busbestuurders en passasiers te gee. Intercape het selfs  die minister van polisie, Bheki Cele, toe gesleep weens die polisie se beweerde versuim om die vlaag aanvalle op sy busse stop te sit.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn ondersoekspan hiervoor aangewys en taktiese reaksiespanne asook lede van die blitspatrollie is op nasionale paaie ontplooi om soortgelyke aanvalle te voorkom.

Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, het die ingryping ʼn beduidende verskil gemaak en voorvalle van geweld het mettertyd begin verminder.

“Dit was baie moeilik om onmiddellik inhegtenisnemings te doen omdat die verdagtes gedurende die nag en op afgeleë plekke die busse aanval.

“Verskeie uitdagings het nie in die ondersoekbeamptes se pad gestaan nie en daar is onverpoosd na leidrade gesoek om die betrokkenes vas te trek,” sê Kinana.

Ondersoeke duur voort om vas te stel of die twee verdagtes, tussen die ouderdomme van 26 en 37, met ander voorvalle wat in die provinsie plaasgevind het, verbind kan word. In een van die jongste voorvalle is ʼn bus verlede maand tussen Tsomo en Ngqamakhwe aangeval en passasiers glo beroof en aangerand.

Mene het opnuut die onderneming gegee dat die aanvalle op Intercape-busse in die Oos-Kaap prioriteit geniet.

“Die objektiewe strategieë en operasionele planne wat ingestel is om hierdie aanvalle te hanteer, het uiteindelik positiewe resultate begin oplewer. Diegene wat aanhou om pendelaars met geweld te terroriseer, sal toegesluit word.”

Die twee verdagtes sal na verwagting Dinsdag op aanklagte van aanranding, roof en opsetlike saakbeskadiging in die Cofimvaba-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jack ·

Nee wat as dit my busse was sou hulle nie in die Oos Kaap gery het of ‘n diens verskaf het nie.Ook alle bus bestuurders moet opleiding ontvang om met wapens te werk en varal die hantering en skiet van ‘n vuurwapen.

Koos 100 ·

Jack. Dis ‘n besigheid en daarom moet hulle daarheen ry, om lewensvatbaar te wees. Busbestuurders kan onmoontlik nie hierdie geweld afweer nie. Dis gewoonlik 6 tot 8 aanvallers, wat moet een mens daarteen doen? Die probleem is dat die taxi bedryf soveel mag het dat hulle bo die wet is. Reken maar soos die mafia in Italië.

Johanna ·

Mooi so. Ons het n baie betroubare voertuig maar ry soms bus as die afstand ver is en ons nie meer jonk nie. Maar met die aanvalle op die busse moet ons nou maar self ry

Marcello ·

Ek ry al 16 jaar met Interkaap, en het gelukkig nog nooit sulke voorvalle beleef nie, maar ek moet ook by sê: Ek reis nie na die Oos-Kaap nie.

Althes ·

Ek is baie bly daar is arrestasies. Interkaap is bekostigbaar en veral wanneer ñ mens ver wil reis.
Passasiers verkies die busstelsel. Baie mense wantrou die taxi stelsel. Wanneer wil die taxi’s dit in hul op kry?

sterk soos n beer ·

dis tyd dat die polisie by elke stopplek van intercape moet patroleer om misdadigers af te skrik.

Pierre ·

Dreigemente van dagvaardegings teen elke liewe minister lyk of dit vrugte afpluk.

Di ·

Begin soek by die TAXI eienaars – dis HULLE wat hierdie misdaad laat pleeg. Die Regering het hierdie monster geskep en nou is dit te laat om dit om te keer. Alles in die land is net CHAOS en verwoesting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.