Twee mans is dood en een word vermis nadat hulle glo tydens ʼn dopery van kerklidmate in die see by Monwabistrand in Kaapstad deur ʼn seestroom meegesleur is.
Vaughn Seconds, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê bemanningslede is Sondag omstreeks 08:00 na die verdrinkingstoneel by die strand ontbied.
“Twee NSRI-vaarttuie en swemmers het op die noodoproep reageer. Die Stad Kaapstad se brandweer, nooddienste en soek-en-reddingseenheid sowel as die polisie en die polisieduikeenheid was reeds op die toneel,” het Seconds gesê.
“By bemanning se aankoms op die toneel was ʼn volwasse man reeds uit die water gehaal. Hy is op die strand dood verklaar. Twee mans was steeds vermis in die see.”
ʼn Volskaalse soektog is in die see en teen die kuslyn uitgevoer, waarna die polisie se duikeenheid een van die mans gevind het. Die man is ook uit die water gehaal en dood verklaar.
Die derde man was teen Sondagmiddag steeds vermis en die soektog na hom duur voort.
Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.
Geen Kommentaar
As mense nie weet hoe om die doop toe te pas nie, bly dan eerder op die kantlyn as ‘n toeskouer.