Twee vragmotors by Mooirivier aangeval

Minstens twee vragmotors is oornag in die Mooirivier-omgewing in KwaZulu-Natal aan die brand gesteek.

Twee vragmotors is laat Maandagaand op die N3 in die Mooirivier-omgewing in KwaZulu-Natal aan die brand gesteek.

Opruiming was vroeg Dinsdag nog aan die gang, het nooddienswerkers op die toneel gesê.

Dit is in dié stadium nog nie bekend of enigeen in die voorvalle beseer is nie.

Die aanvalle is vermoedelik deel van ʼn nasionale staking in die logistieke en vervoerbedryf wat klaarblyklik deur sosiale media gedryf word, maar dit is nie bekend wié agter die aanvalle sit nie. Boodskappe oor die beplande staking word al sowat twee weke lank rondgestuur. Dit sou Sondag en Maandag plaasvind.

Oor die naweek is ʼn vragmotor ook in die omgewing van Ashburton by Pietermaritzburg aan die brand gesteek en nog een naby Kokstad. Sondag het 11 vragmotorbestuurders die pad na die Richardsbaai-hawe versper, maar hulle is kort daarna in hegtenis geneem.

Die Mooirivier-gebied op die N3 is berug vir die aanvalle op vragmotors wat die afgelope 18 maande daar plaasvind. Ontevrede Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders steek die voertuie glo aan die brand uit protes teen die aanstel van buitelandse bestuurders. Die aanvalle het reeds tot verskeie moorde gelei.

Die National Truck Drivers Association (NTDA) en die All Truck Drivers Foundation (ATDF), wat besonder uitgesproke is oor die aanstelling van buitelanders en die beweerde uitbuiting van plaaslike werkers deur vragmotoreienaars, het hulle egter van die staking gedistansieer. Die vervoervakbond Satawu het dieselfde gedoen.

Satawu het dit duidelik gestel dat hy nie weet in opdrag van wie die staking plaasvind nie en het vragmotorbestuurders gemaan om versigtig te wees.

Die polisie in KwaZulu-Natal het Maandag gesê altesame 20 mense is in die provinsie in hegtenis geneem op aanklagte wat met die staking verband hou. Dit sluit die 11 vragmotorbestuurders by die hawe in.

Vier mense is naby Malvern in die provinsie in hegtenis geneem vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en 15 koeëls. Hulle het ook drie bottels met petrol, sewe selfone en ʼn paar handskoene by hulle gehad. Vyf mense is naby Estcourt in hegtenis geneem nadat die voertuig waarin hulle gereis het, glo verbind is met ʼn vorige voorval waarin ʼn vragmotor aan die brand gesteek is. Die vyf het houers met petrol by hulle gehad.

ʼn Provinsiale taakspan is vroeër vanjaar aangestel om die aanvalle te probeer stuit.

In April verlede jaar is 35 vragmotors in die Mooirivier-gebied beskadig en geplunder. Verskeie daarvan is ook aan die brand gesteek.

Die N3 is ʼn baie belangrike toegangsroete – nie net vir die provinsie nie, maar ook vir die res van die land. Die pad verbind die Durbanse hawe met binnelandse nywerheidsgebiede, asook ander Suider-Afrikaanse lande.

‘n Vragmotor versper die N2 naby Khayelitsha in die Wes-Kaap. (Foto: Wes-Kaapse verkeerspolisie)

In die Wes-Kaap is verkeer Maandag hewig ontwrig toe ʼn vragmotor verlate op die R300 naby Stellenbosch gelaat is. Die voertuig het die pad versper en daar was geen teken van die bestuurder nie. Dit is later weggesleep. Die M9 by Kaapstad was in ʼn stadium ook gesluit nadat vragmotorbestuurders sand op die pad uitgegooi het, en die Du Toitskloofpas is gesluit nadat ʼn vragmotor tussen die tolhek en die tonnel aan die brand gesteek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kerneels ·

SA is ‘n gebroke en mislukte land met ‘n disfunksionele gemeenskap. Aanvaar dit. Dit is die norm. Ja, die polisie kan skiet, maar kriminele vrees nie en skiet terug. Ons is klaar in ‘n lae intensie burgeroorlog en burgerlikes gaan nog meer in die kruisvuur beland en infrastruktuur sal vernietig word, insluitend polisie stasies, kragstasies en brûe. Dit is moeilik om sluipers te beveg want hulle is vinnig en slaan orals toe. Ons is op pad na totale anargie.

jakes ·

Daar was meer as 2 trokke gisteraand by Mooirivier aan die brand gesteek. Dit het tyd geword dat wet en orde herstel word in SA en al hoe dit kan gebeur is om met skerppunt amunisie op die sogenaamde ‘betogers’ los te brand en nie net te wond nie. Al kos dit n paar honderd lewens sal dit steeds die moeite werd wees.

Kerneels ·

Dit sal nie ‘n paar honderd wees nie, dit sal duisende wees. Buurlande sal dan militêr ingryp indien hul burgers aangeval word deur die weermag en polisie. Indien ons weer wakker word is Nigerië in Pretoria. Angola het meer en beter vegvliegtuie as SA.

Schalla ·

Hulle mag nie. Dit sal mos inbreuk maak op die kriminele se menseregte!

Pottie ·

Haha ou kerneels ons het nie eers brandstof om ons vliegtuie in die lug te kry nie die vlienrs het laas gevlieg toe ou cr president geword het dit is ook al wanneer hulle vlieg die weermag se begroting is gebruik vir eskom en die s. a. l en sauk wat n joke

marous ·

Geniet die paradys wat julle geskep het . Die maandelikse bydraes vir lede gaan nou styg na sewe klippe en 2 liter petrol per maand .

Johnna ·

Nee wat hier is geen wet en order meer nie, wanneer gaan die land se leiers ingryp eers dalk as daar niks oor is nie.Hier kom groot gemors as dinge so aangaan

Attie. ·

Daar staan geskryf dat wat jy vrees sal oor jou kom. As ons blankes net ophou vrees maar al die spul w.apers maak dinge gevaarlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.