Twee vroue, agt geslagte uitmekaar by VTM

Karla Burger voor die fries waar Retief met Dingaan onderhandel. (Foto: Verskaf)

ʼn Matriekleerling aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het nie net haar matriekafskeidfoto’s by die Voortrekkermonument laat neem omdat dit mooi is nie, maar vir ʼn merkwaardige ander rede.

Karla Burger is ʼn afstammeling van Johanna Magdalena Retief (voorheen getroud Greyling, gebore De Wet), Piet Retief se vrou.

Karla – wat “sterk vrou” beteken – wou ʼn klein oomblik in haar lewensreis gebruik om dit met die stories van haar voorgeslagte te verweef.

“Die matriekafskeid is ʼn klein deeltjie van my storie, maar die storie begin nie by my nie, dit begin by al die ander sterk vroue voor my,” sê sy.

“Dit was vir my belangrik om op só ʼn spesiale dag nie net ʼn mooi plek te hê om foto’s te neem nie, maar ʼn plek wat meer betekenis het as dit. Die Voortrekkermonument het my laat nader voel aan my oumagrootjie van agt generasies terug – ʼn sterk vrou wat deur so baie moes gaan vir my om vandag hier te kan wees.”

Karla se ouers is ook 20 jaar gelede by die Voortrekkermonument getroud.

Sy het op die dag van haar matriekafskeid spesiale toestemming gekry om ʼn paar foto’s voor die Retief-plate af te neem. Sy sê haar fotograaf, Daniel West, het hom goed van sy taak gekwyt deur die spesiale oomblikke vas te vang.

Karla gaan volgende jaar BSc Bedryfsanalise aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer. Haar grootouers het albei in Potchefstroom hul studies voltooi en dit is ook hier waar Johanna Magdalena Retief oorlede is.

Hoewel sy volgende jaar ver van haar ouerhuis gaan woon, sê sy dat die Voortrekkermonument steeds ʼn spesiale plek in haar hart sal hou.

“Ek het al minstens 10 keer die monument besoek. Die koor waaraan ek behoort, die Blou Engele, se afsluiting was in 2021 by die monument gehou en dit was ʼn onvergeetlike ervaring,” sê sy.

“Ek was ook bevoorreg genoeg om by die Voortrekkermonument te wees met Geloftedag, dit was vir my ongelooflik dat so baie mense daar was om die Gelofte na te kom.

“Daar staan in die Gelofte ‘Dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte’. Die Voortrekkermonument is daardie huis en ons is die opkomende geslag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ronél ·

Merkwaardige herinnering en geskiedkundige toekoms om op voort te bou.

Riette ·

Dankie Karla, ons vergeet so maklik van die sterk vroue van ons geskiedenis. Jou ouma groottjie was voorwaar ‘n sterk vrou. Saluut.

Tienie ·

Nou hierdie “huis” is mos nou dieselfde huis waar daar so n paar weke gelede n “helde vereering” aan n dooie zoeloe koning gebring is.

Vir my as Boerseun skreeu dit ten hemele.

Hendrik ·

Dankie Karla. Jy is ‘n inspirasie vir baie. Jy gee mens moed vir ons Afrikaners in die toekoms hier in ons pragtige land. Kom ons wees almal Positief, Gelowig en Fluks.

Yolanda ·

Ek is so trots op die meisiekind wat jy is my kind. Hierdie dag was inderdaad spesiaal en sal vir jou nageslagte ook nog spesiaal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.