Twee weer vas ná sewe ontsnap

Die gevangenes wat ontsnap het

Twee van die sewe gevangenes wat uit die korrektiewe fasiliteit in Makhanda (voorheen Grahamstad) ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

Die gevangenes het omstreeks 04:00 Dinsdag ontsnap. Dit is nog nie duidelik hoe hulle daarin kon slaag nie en die omstandighede rakende die ontsnapping word ondersoek.

Een van die gevangenes, Bennet Kwarrie, is dieselfde dag weer in hegtenis geneem. Hy is in Bloemfontein opgespoor.

Die tweede gevangene is laat Woensdagaand naby Makhanda in hegtenis geneem deur ʼn gesamentlike taakspan van polisielede en beamptes van korrektiewe dienste. Simba Masinga het in die bosse weggekruip toe hy vasgetrek is.

Daar word intussen nog gesoek na Nhamo Muyambo, Francis Chitho, Trymore Chauke, Lubuyo September en Abraham Moyane.

Ao. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het gesê die gevangenes is gevaarlik en dat lede van die publiek hulle nie direk moet nader nie, maar eerder die polisie moet inlig.

Al die ontsnaptes is Zimbabwiese burgers wat skuldig bevind is aan renosterstroping.

Enigiemand met inligting oor die gevangenes wat steeds op vrye voet is, word versoek om kapt. Glen Peter by 082 301 9427 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie ·

Reik jagpermitte uit met ‘n R 250 000 belong vir elke ontsnapte sot wat ingesleep word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.