Tydelike Pta-skuiling ‘broeiplek vir misdaad’

Die diewe het in die donker weggekom.

Die Lyttelton-polisie het Vrydag in die vroeë oggendure tydens ʼn ondersoek na ʼn brand by ʼn Covid-19-skuiling vir haweloses in Centurion twee kabeldiewe op heter daad betrap terwyl hulle die plastiekomhulsel van gesteelde koperkabels afgebrand het.

Hulle het egter in die donkerte in tente op die terrein verdwyn waar sowat 170 haweloses gehuisves word. Volgens berigte was die agt wagte op die terrein almal aan die slaap.

Koper wat uit die transformator gesteel is.

Die polisie het ook beslag gelê op elektriese transformators wat elk sowat 90 kg koper bevat en dieselfde nag in die omgewing gesteel is. Dít is tans in veilige bewaring by die polisiestasie.

Dit was die derde keer binne enkele dae dat groot hoeveelhede gesteelde koperkabels by dieselfde tydelike skuiling op die Sportpark-terrein in Lyttelton gevind is. Die kabels is hoofsaaklik afkomstig van die spoorlyn tussen Pretoria en Johannesburg wat langs die skuiling verbyloop.

Tydens die tweede klopjag wat Woensdag uitgevoer is, het die ondersoekers op ʼn sloot van sowat 80 m afgekom wat al langs die treinspoor uitgegrawe is. Kapt. Dave Miller, die woordvoerder van die Lyttelton-polisiestasie, sê ʼn gat in die betonheining langs die spoorlyn het hulle na die sloot gelei. Oorhoofse kabels het ook los gehang en dit was duidelik dat die misdadigers dae lank onverstoord voortgegaan het met hulle onwettige bedrywighede.

Die kabels wat Woensdag by die Sportpark-skuiling gevind is.

Drie verdagtes is Woensdag by die skuiling in hegtenis geneem terwyl hulle koper uit die kabels gestroop het. Nog twee verdagtes is Donderdag in hegtenis geneem en al vyf staan ​​tereg op aanklagte wat verband hou met die besit van gesteelde goedere en gereedskap wat gebruik word om ʼn misdaad te pleeg wat verband hou met noodsaaklike infrastruktuur.

Die multidissiplinêre optrede teen misdaad in die omgewing word gesamentlik deur die polisie, die weermag, die Tshwane-metropolisie en ondersoekers van die Passasierspooragentskap (Prasa) uitgevoer.

Die sloot wat langs die treinspoor gegrawe is.

Maroela Media het verlede naweek berig oor die drie skuilings vir haweloses wat met die aanvang van die staat van inperking ʼn paar honderd meter van mekaar af in Lyttelton opgerig is, onder meer ook in die stadsaal en die biblioteek. Laasgenoemde twee word streng beheer deur Tebogo Mpufane van die Centurion Haven of Hope.

Die groep by Sportpark het egter die afgelope tyd skade van duisende rande aan die sportgeriewe op die terrein aangerig. Die wiele van Tshwane-metropolisievoertuie wat daar geparkeer was, is afgesteel en ʼn masjien wat sowat R50 000 kos en gebruik word om die rolbalbaan in stand te hou, is gestroop. Selfs die dakplate van die ablusiegeriewe het voete gekry.

Die haweloses is aanvanklik op die terrein toegesluit en deur wagte opgepas, maar sedert die aanvang van vlak 2 van die staat van inperking kom en gaan hulle soos hulle wil, veral ná die Tshwane-amptenare in beheer van die skuilings na bewering geskors is.

“Niemand weet wie is nou daar in beheer of wat daar aangevang word nie,” sê Johan van Buuren wat die DA-raadslid in die betrokke munisipale wyk was voor Tshwane onder administrasie geplaas is. “Wat aanvanklik as ʼn heenkome vir haweloses bedoel was, het nou ontaard in ʼn broeiplek vir misdaad.”

Die gesteelde koper by die polisiestasie waar dit gestoor word.

Vir die permanente inwoners van die voorstad het die Sportpark-skuiling ʼn onaanvaarbare seer oog geword; hulle is nie vooraf in kennis gestel dat dit opgerig word nie en weet ook nie hoe lank die haweloses nog daar gehuisves gaan word nie. Verder is hul sportveld grootliks verwoes en niemand kan dit tans meer gebruik nie.

Van Buuren sê die gemeenskap het nie daarvoor gevra nie, maar sit nou met die gevolge van ʼn swak deurdagte plan. “Dit laat ʼn mens wonder waar hulle hierna gaan intrek, want duidelik het die munisipale amptenare beheer oor die sentrums verloor.”

Navrae deur belanghebbendes oor wat met die skuilings beoog word, is tot dusver met ʼn merkbare stilte begroet en geen feitelike inligting word bekend gemaak nie. Skriftelike vrae aan die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Nomathemba Mokgethi, het ook slegs vae antwoorde opgelewer.

“Dit kan nie langer op so ʼn onbeheerste wyse aangaan nie en daar word ʼn dringende beroep op die verantwoordelike bestuur en amptenare gedoen om beheer én wet en orde te herstel,” sê Van Buuren.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

VIVA ANC par excellance!!!DA jul moet harder praat en doen.. Ironies sloot word langs aktiewe treinspoor gegrawe en NIEMAND merk op!!!Bewaking????? Hou PRASA bestuur aanspreeklik.
Skuilings: SLUIT ASB!!!!

4ntj13 ·

Vier polisiëringsagentskappe en niemand was verantwoordelik genoeg nie? Op watter punt raak hulle fasiliterend of medepligtig? Hulle het seker te veel comrades as lede…

Chris dupreez ·

Koper diefstal moet n minimum van 20 jaar tronkstraf kry sonder parool.

Pampoen ·

Die enigste oplossing is om die herwinning van koper onwettig te maak. Die mense rig miljoene se skade aan en hewin dan ‘n paar rand se koper.

Helgard ·

….in veilige bewaring in die polisiestasie….. Wie kul vir wie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.