Uitbetaling van voormalige Transnet-hoës se pensioen verbied

(Argieffoto: Facebook)

Die pensioen-uitbetalings van twee voormalige Transnet-hoofde is ingevolge ʼn bevel van die spesiale tribunaal verbied nadat hulle by nuttelose en verkwistende uitgawes van sowat R33,5 miljoen betrek is.

Ingevolge die bevel wat laat verlede maand toegestaan is, word Lerato Makenete, voormalige hoof van sakekontinuïteit en rampbestuur, en die voormalige bestuurder vir veiligheid, Landela Madubane, verbied om hul pensioenvoordele van Transnet te ontvang.

Dit beloop gesamentlik sowat R8,9 miljoen.

Transnet het hom tot die spesiale ondersoekeenheid (SOE) gewend om die saak te ondersoek.

Die SOE se ondersoek na Transnet se sake het gewys dat Makenete en Madubane glo met diensverskaffers saamgespan het om Transnet se noodverkrygingsprosedures tydens die Covid-19-pandemie te misbruik, lui ʼn gesamentlike verklaring van Transnet en die SOE.

In April 2020, tydens die kruin van die pandemie, het Transnet drie maatskappye – Ramoyadi Air Conditioning, Ndzalo2 Trading en Eagles Ropes – aangewys om meer as ʼn miljoen asemtoetsers te lewer.

Makenete en Madubane het glo saamgespan om Transnet te bedrieg deur die prys van die asemstrooitjies van 29 sent per strooitjie, tot R29,99 op te stoot. Dit het tot ʼn betaling van R33,8 miljoen gelei. Die SOE en Transnet het siviele stappe by die spesiale tribunaal begin om die kontrakte te laat hersien en ter syde te stel, en om die finansiële verlies wat Transnet weens die ekstra betaling van sowat R33,5 miljoen gely het, te verhaal.

Die SOE het ook aanbeveel dat dissiplinêre stappe teen Makenete en Madubane gedoen word. Transnet het dit gedoen, maar nie een van die twee het vir die tugverhore opgedaag nie. Albei is in hulle afwesigheid skuldig bevind.

Die bevel van die spesiale tribunaal vorm deel van die inwerkingstelling van die SOE-ondersoek se uitkomste en gevolgbestuur om finansiële verliese weens korrupsie of nalatigheid by staatsinstellings te verhaal.

Die ondersoek na bewerings van korrupsie, wanbestuur, wanpraktyke en betalings rakende persoonlike beskermingstoerusting wat aangekoop is, word ingevolge ʼn presidensiële proklamasie gedoen.

Die SOE is by magte om siviele stappe in ʼn hooggeregshof of by ʼn spesiale tribunaal te doen om enige wanoptrede te laat regstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Nee ‘n jaar vir elke miljoen wanbestee!Asook verbeuring van ALLE bates

domheks ·

Waar is die ou geldjies? Dan hoef hulle mos nie reddingsboeie te kry nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.