Uiteindelik ʼn verhoordatum ná moord op Mokopane-prokureur

Schalk Pienaar en sy vrou, Fransie. (Foto: Facebook / Francis Pienaar)

Byna veertien maande nadat die bekende Mokopane-prokureur Schalk Pienaar vermoor is, is ’n verhoordatum uiteindelik vasgestel vir die man wat daarvan beskuldig word dat hy dié misdaad georkestreer het.

Pienaar is op 19 September 2022 vermoor kort nadat hy by die huis aangekom het. Hy is tien keer in sy oprit geskiet.

Tsholofelo Joseph Motsoane is in Oktober 2022 in hegtenis geneem en van die misdaad aangekla. ’n Tweede beskuldigde is ook in hegtenis geneem, maar die aanklagte teen hom is later teruggetrek.

Motsoane is aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg en ander vuurwapenverwante aanklagtes. Hy het glo ook die ontsnappingsvoertuig bestuur.

Die polisie probeer steeds ander verdagtes opspoor wat met die moord verbind word.

Maroela Media het vroeër berig Pienaar was langer as 40 jaar ʼn prokureur op die dorp en volgens inwoners ʼn rots in die gemeenskap. Hy was in die laat 1980’s  ʼn lid van die destydse Konserwatiewe Party en is in die tyd as parlementslid vir die destydse Potgietersrus verkies. Pienaar is beskryf as ʼn man wat nou in sy gemeenskap betrokke was en sy dood was ʼn groot verlies vir die dorp.

Tsholofelo Motsoane (Foto verskaf deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die Pienaar-gesin, wat dié eenheid genader het ná talle vertragings met die afhandeling van die saak.

In opeenvolgende hofverskynings wat strek oor maande sedert Motsoane se inhegtenisneming, is die saak uitgestel, maar vir een of ander onverklaarbare rede is ’n verhoordatum tot onlangs toe nog nie vasgestel nie,” sê Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid. “Die vertragings het baie angstigheid vir die Pienaar-gesin veroorsaak weens die moontlikheid dat geregtigheid nie sal geskied nie.”

Motsoane het Dinsdag in die Mokopane-landdroshof verskyn om aansoek om borgtog te doen, maar die saak kon nie voortgaan nie omdat sy prokureur nie die nodige dokumentasie gehad het om haar reg van verskyning te bewys nie.

Die eenheid het saam met Pienaar se weduwee, Fransie, hof toe gegaan.

“Fransie Pienaar bly getraumatiseer ná die voorval – haar man het in haar arms gesterf. Sy het Dinsdag die hofverrigtinge bygewoon om ’n beter begrip oor die status van die saak te kry, maar weens omstandighede buite haar beheer is sy weer radeloos en teleurgesteld gelaat. Die vorige vertragings met die afhandeling van die saak het die familie se vertroue in die strafregstelsel geknou en ons hoop die saak sal met haas voortgaan en tot finaliteit gebring word,” voeg Bateman by.

Pienaar se seun Benjamin sê hy waardeer die eenheid se ondersteuning. “Ons weet van die situasie in die howe. Is dit onbevoegdheid? Is daar gekonkel? Ons het AfriForum genader toe niks blyk te gebeur nie. Ons hoop is dat druk op die NVG geplaas word om hierdie saak te verhoor. Dit alleen sal egter nie vir ons finaliteit bring nie, maar iets moet gebeur. Geregtigheid moet geskied.”

Die borgaansoek is uitgestel tot 23 Februarie 2024.

Die verhoor is vir 22 tot 26 Julie 2024 in die Polokwane-hooggeregshof op die rol geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Die regstelsel is eenvoudig verrot. n Moordenaar moet nie vir borgtog in aanmerking kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.