Uitgebreide werkloosheid nou op 42%

(Foto: Facebook)

Suid-Afrika se werkloosheidskoers staan in hierdie stadium op ʼn skrikwekkende 42% vir die tweede kwartaal van 2020.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag die jongste kwartaallikse syfers bekend gemaak. Daarvolgens het die getal mense wat werk met 2,2 miljoen tot 14,1 miljoen gedaal in vergelyking met die vorige kwartaal.

“Die ongekende verandering is die grootste kwartaal-op-kwartaal-verandering sedert die opname in 2008 begin is,” het StatsSA gesê.

“Strydig met wat jy sou verwag met so ʼn groot daling in indiensneming, het werkloosheid ook beduidend afgeneem – dit het met 2,8 miljoen tot 4,3 miljoen gedaal in vergelyking met die eerste kwartaal van 2020 en het gelei tot ʼn afname van vyf miljoen (ʼn daling van 21,4%) in die getal mense in die werksmag.

“Ten spyte van die enorme afname in indiensneming, het die getal ontmoedigde werksoekers, soos die getal werkloses, met 447 000 afgeneem. Die getal mense wat nie ekonomies aktief was nie – vir redes anders as dat hulle ontmoedig is om werk te soek – het tussen die twee kwartale met 5,6 miljoen toegeneem. Dit het gelei tot ʼn netto toename van 5,2 miljoen mense van die bevolking wat nie ekonomies aktief is nie.”

Die veranderings het gelei tot ʼn beduidende afname van 6,8 persentasiepunte in die amptelike werkloosheidskoers wat in die eerste kwartaal op 30,1% gestaan het. Dit staan in die tweede kwartaal op 23,3% – die laagste opgetekende koers sedert 2009.

“Die skerp daling in die werkloosheidskoers in die tweede kwartaal is nie ʼn weerspieëling van ʼn verbetering in die arbeidsmark nie, maar eerder die uitwerking van die landwye afsonderingstydperk.”

StatsSA sê die amptelike definisie van werkloosheid vereis dat mense werk moet soek en daarvoor beskikbaar moet wees. Tydens die afsonderingstydperk kon mense egter nie werk soek nie.

“Die werkloosheidskoers volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid het met 2,3 persentasiepunte toegeneem tot 42% in die tweede kwartaal in vergelyking met die eerste kwartaal van die jaar.”

 

StatsSA sê dit is ʼn weerspieëling van die feit dat mense beskikbaar was om te werk, maar nie aktief na werk gesoek het nie.

“Byna elkeen van die 5,2 miljoen mense wat nie na werk gesoek het nie – anders as omdat hulle ontmoedig is– het die ‘landwye afsondering’ as die rede aangedui vir hoekom hulle nie na werk soek nie.”

StatsSA sê die verskynsel is nie uniek aan Suid-Afrika nie en is met die uitsondering van die VSA en Kanada in talle lande wêreldwyd gesien.

Volgens die jongste opname het indiensneming in die tweede kwartaal in alle sektore gedaal.

Indiensneming in die formele sektor het met 1,2 miljoen (10,8%) afgeneem; die informele sektor is 640 000 werksgeleenthede (21,9%) kwyt; in private huishoudings is daar nou 311 000 (23,6%) minder werksgeleenthede, terwyl werksgeleenthede in die landbousektor met 66 000 (7,6%) verminder het.

StatsSA sê alle sektore het in die tweede kwartaal werksverliese ondervind.

Die bedrywe met die grootste werksverliese was:

  • Gemeenskap- en maatskaplike dienste (515 000)
  • Handel (373 000)
  • Private huishoudings (311 000)
  • Finansies (283 000)
  • Boubedryf (278 000)
  • Vervaardiging (250 000)

Op ʼn jaar-op-jaar-grondslag het alle bedrywe ook ingekrimp.

Weens die afsonderingstydperk het StatsSA-respondente onder meer gevra of hulle van hul gewone werkplek of van die huis af werk, of hulle steeds ʼn salaris ontvang het, of dié salaris ten volle of gedeeltelik betaal is, of hulle ná die afsonderingstydperk na dieselfde werk gaan terugkeer en of hulle dink hulle kan dalk binnekort hul werk of sakeonderneming kwyt wees.

StatsSA sê van die 14,2 miljoen mense wat in die tweede kwartaal werk gehad het, is daar van meer as die helfte – 58,1% – verwag om tydens die inperking te werk. Die meeste mense het van hul gewone werkplek gewerk, terwyl sowat 17% aangedui het dat hulle van die huis af gewerk het.

Meer mense in Gauteng en die Wes-Kaap het van die huis gewerk.

StatsSA het ook bevind die meeste mense met werk het tydens die afsonderingstydperk steeds ʼn salaris ontvang, hoewel omtrent een uit vyf aangedui het dat hulle minder betaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

En as stem tyd kom dan stem hulle weer vir die ANC kommuniste daar is ongelukkig nie medisyne wat vir hulle gaan help nie.

Wilhelm ·

Slegs 14.1 miljoen mense in SA het werk, so basies 23% van die bevolking. Ek wonder hoeveel van hierdie mense werk vir die staat, en ek wonder hoeveel van die 23% betaal belasting.

Anoniem ·

Korrek Wilhelm, ek weet nie hoe 14.1 miljoen die ander 45.9 miljoen mense kan dra nie. Geen staat kan funksioneer met slegs 23.5% werkende mense nie. Dis ‘n geval van wie eerste gatvol gaan raak, die werkendes of die werkloses wat van die staat afhanklik is en nie meer hul toelaes gaan kry sodra die werkendse gesê het genoeg is genoeg nie.

ooknetmens ·

Net oor 20 miljoen Suid Afrikaners is kinders onder 18. So hulle tel nie. Jou berekening moet 14.1mil deur 39.6 mil wees. Wat 35.6% is.

Anoniem ·

Korrek, as ons minderjariges en oues uitsluit sal die syfers uiteraard verander, aangesien hulle nie kan werk nie, maar die feit bly nog steeds dat net 14.1 miljoen mense uit ‘n bevolking van 60 miljoen tans werk het.

Misky ·

@ooknetmens ek dink wat Wilhelm probeer sê al is daai 20 miljoen kinders onder 18 nie werkend nie, moet daar steeds vir hulle gesorg word. So indirek betaal die werkende klas vir hulle ook. Almal wil mos n geldjie en SASSA grant hê

Kokerboom ·

Dis ‘n ramp. As mens bytel die wat uit moedeloosheid ophou werk soek staan syfer volgensIRV digby59%!!En steeds hou die regime vol met sy sosialistiese/Marxistiese beleide

My siening ·

Moenie huil julle stem die ANC in en julle weet wie dit is. Wit mense kry geen hulp van ANC!

Wielspore ·

Ek twyfel baie sterk aan die 42% werkloosheids syfer en vermoed dit is heelwat minder. In SA is daar heelwat buitelanders wat vals ID dokumente bekom het en wat SASSA geld trek en daar is ook heelwat werkende ouers wat ook vals ID dokumente bekom het en trek SASSA terwyl hulle permanente werk het. Persoon werk as ‘n algemene werker by ‘n besigheid en werk ook naweke in mense se tuine, sy inkomste is R5500 pm en hy is gerregistreer as werkloos en trek SASSA. Hy kry ook befondsing van die staat af vir sy kinders wat op skool is. Mosambieker bly en werk in SA, hy ondergaan mediese behandeling en operasies in SA sonder dat hy daarvoor betaal. Lekker!

Dries ·

Die land se bevolking is om en by 60 miljoen (ek mag verkeerd wees). Net 14 miljoen werk, en nie eers al daardie mense betaal belasting om die land te onderhou nie. Kan die regerende party nie die skrikwekkende prentjie raaksien en daadwerkliks begin met veldtogte om iets aan bevolkingsgroei te doen, eerder as om dit aan te moedig met toelae nie?

Dirk Mostert ·

Die oorsaak van ons onderpresterende ekonomie is wanbestuur op alle vlakke weens onbevoegde amptenare (“everybody rises to the level of his own incompetence”). As arbeidswetgewing drasties verminder word en vakunies verban word, sal meer mense kan werk, al is dit teen laer salarisse. Die staat moenie werk verskaf nie, maar ‘n gunstige klimaat skep vir privaat-industriee. Dan sal daar ekonomiese groei en meer werksgeleenthede wees.

Kosie ·

Nuwe SA statistiek. 2.2e6 verloor hulle werk, maar die werkloosheidskoers daal na 23%. So, met die klas logika as almal hulle werk verloor is die werkloosheidskoers seker 0%. Dalk is die koers eintlik die mense met werk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.