Uitspraak oor blokkering van ID’s verwelkom

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die afgelope week se hofuitspraak dat die departement van binnelandse sake nie willens en wetens identiteitsdokumente mag blokkeer nie, “sal verligting vir miljoene mense in Suid-Afrika bring”.

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag beslis die blokkering van ID’s is ongrondwetlik en dus ongeldig.

Regter Elmarie van der Schyff het in haar uitspraak gesê die departement van binnelandse sake se plasing van “merkers”, wat uiteindelik lei tot die blokkering van identiteitsnommers, is in die afwesigheid van ʼn billike administratiewe proses onregverdig en onreëlmatig.

Van der Schyff het ook gelas dat enige blokkering op die identiteitsnommers van minderjarige kinders wie se ouers se status as Suid-Afrikaanse burgers of permanente inwoners nog nie finaal herroep of teruggetrek is nie, onmiddellik verwyder word.

Lawyers for Human Rights, wat deel van die hofaansoek was en in die afgelope vyf jaar meer as 500 mense met geblokkeerde ID’s bygestaan het, het gesê hy is bly dat “hierdie onregverdige praktyk” nou sal eindig.

“Niemand was bewus van hul geblokkeerde ID’s totdat hulle probeer het om toegang tot ʼn ander diens te kry, soos om aansoek te doen vir paspoorte of nuwe ID’s, bestuurslisensies te hernu, bankrekeninge oop te maak of aansoek te doen vir maatskaplike toelaes.

“Niemand het vooraf kennisgewing ontvang van die departement van binnelandse sake se voorneme om hul ID’s te blokkeer of hul status te ondersoek nie, en ook nie skriftelike redes vir die besluit om dit te blokkeer nie. Verder is niemand die geleentheid gebied om vertoë te rig voordat hul ID geblokkeer is, of voor die afhandeling van die ondersoek nie. ID-blokkering kan tot staatloosheid lei, aangesien dit wesenlik geraakte individue van hul burgerskap en waardigheid ontneem,” het Lawyers for Human Rights gesê in sy verwelkoming van die uitspraak.

Die blokkering van identiteitsdokumente het plaasgevind wanneer ʼn “merker” teen ʼn ID-nommer geplaas word om aan te dui dat daar ʼn administratiewe fout ingeglip het, óf wanneer bedrog vermoed word óf wanneer daar vermoed is dat ʼn ID gedupliseer is.

Die hof het die departement van binnelandse sake beveel om ʼn regverdige proses in te stel en bygevoeg dat “terwyl die passiewe skending van menseregte deur ʼn staat, wat versuim om stappe te doen om menseregte te bevorder, onaanvaarbaar is in ʼn grondwetlike bedeling, die aktiewe skending van menseregte deur ʼn staat wat grondwetlik menseregte verskans ook openbare vertroue in die staat en die Grondwet ondermyn”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

” n Staat wat grondwetlike menseregte verskans” en “versuim om stappe te doen om menseregte te bevorder”.
Maar die anc het BAIE te se oor hoe sekere ander lande opereer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.