Uitspraak oor Kieswet-saak binnekort verwag

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Uitspraak in ʼn saak oor onafhanklike kandidate se deelname aan die komende algemene verkiesing word binnekort in die Konstitusionele Hof verwag nadat betrokkenes sê dit al te lank sloer.

Gegewe die openbare belang wat die saak inhou, het hoofregter Raymond Zondo bevestig dat Suid-Afrika se hoogste hof nie later nie as 12:00 Maandag uitspraak sal lewer in dié deurslaggewende saak.

Pres. Cyril Ramaphosa het in April vanjaar die wysigingswetsontwerp op die Kieswet bekragtig, wat beteken Suid-Afrikaners kan voortaan hul kruisies agter onafhanklike kandidate se name trek.

Die Vereniging vir Onafhanklike Kandidate en Build One SA het hulle egter na die hof gewend oor die wet glo ongrondwetlik is omdat dit onafhanklike kandidate se deelname aan die verkiesing en hul kans om ʼn setel in die parlement te kry, onregverdig beperk vergelyke met ander politieke partye se kandidate.

Die aansoekers het beweer die speelveld is nie gelyk nie en onafhanklike kandidate sal meer stemme benodig om ʼn setel te kry.

Die aansoek is deur die parlement en die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, teengestaan.

Die Konstitusionele Hof het reeds in Augustus die saak aangehoor, maar sommige onafhanklike kandidate sê die uitspraak vat veels te lank en kan die verkiesingsproses in gevaar stel as daar nie binnekort uitspraak gelewer word nie.

Mosotho Moepya, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het ook onlangs aan die parlementêre komitee oor binnelandse sake gesê dit maak hom angstig dat geen uitspraak nog gelewer is nie.

Die OVK kan eers die reëlings vir die verkiesing finaliseer wanneer die uitspraak gelewer is.

Moeti Kanyane, prokureur van die OVK, het vandeesweek in ʼn brief aan die hoogste hof dit duidelik gemaak hoe belangrik dit is om vroegtydig ʼn uitspraak te hê “om te verhoed dat sy voorbereiding vir die verkiesing wesenlik benadeel word,” berig GroundUp.

“Die OVK verstaan ​​dat dit ʼn moeilike saak kan wees waarin die uitspraak nie afgerammel moet word nie,” het hy geskryf.

“Maar gegewe die vensterperiode vir die algemene verkiesing, wat vinnig nader kom en die OVK se voorbereidings vir daardie verkiesing – wat dalk verander moet word na gelang van die hof se besluit – kan die belangrikheid van ʼn dringende uitspraak nie oorbeklemtoon word nie.”

  • Bykomende bron: GroundUp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.