Uitspraak voorbehou in ‘Kill the Boer’-saak

Die appèlhof in Bloemfontein. (Foto: X/AfriForum)

Uitspraak is voorbehou in AfriForum se appèlsaak en voortgesette stryd teen die EFF, Julius Malema en Mbuyiseni Ndlozi oor die sing van die “Kill the Boer”-lied.

Dié saak wat Maandag in die Bloemfonteinse appèlhof aangehoor is, volg ná die gelykheidshof se bevinding verlede jaar dat AfriForum nie voldoende bewyse kon lewer dat die lied teen ʼn spesifieke groep mense gerig is, geweld veroorsaak of op haatspraak neerkom nie.

AfriForum se saak

Adv. Jeremy Gauntlett het Maandag namens AfriForum aangevoer dat al die elemente van haatspraak wél teenwoordig is in “Kill/Kiss the Boer” asook die lied “Bizani iFire Brigade” met die lirieke “Burn the Boer”.

AfriForum se saak berus op artikel 10 van die Gelykheidswet wat bepaal geen persoon mag woorde gebaseer op een of meer van die verbode gronde teenoor enige ander persoon gebruik wat redelikerwys vertolk kan word as ʼn duidelike bedoeling om skadelik te wees, skade te berokken of haat te propageer nie.

Die verbode gronde wat in die wet ter sprake is, is ras, etnisiteit of sosiale herkoms.

Volgens AfriForum voldoen albei liedere aan die haatspraakvereistes soos uiteengesit in die artikel en toegepas in die 2021-grondwethofsaak van Qwelane vs. die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.

Dié saak het die presedent gevestig dat die subjektiewe bedoeling van die beweerde haatspraakpleger nie gebruik moet word as haatspraakmaatstaf nie, maar eerder of die redelike persoon die betwiste woorde sou kon ag spraak te wees wat ʼn duidelik bedoeling demonstreer om skadelik te wees, skade te berokken of haat te propageer.

Hierdie redelike persoon-toets bepaal volgens AfriForum die impak van die beweerde haatspraak op die redelike persoon en is dus belangriker as die bedoeling van die beweerde haatspraakpleger.

Gemeet hieraan voer AfriForum aan albei liedere voldoen aan die haatspraakvereiste deurdat dit die skade-toets soos uiteengesit in die Qwelane-saak slaag.

Een belangrike klemverskil tussen die appèlaansoek en AfriForum se saak in die gelykheidshof is die kwessie van kousaliteit. In die huidige aansoek maak AfriForum dit duidelik dat die Qwelane-saak nie enige bewyse van kousaliteit tussen die haatspraak en gevolglike skade vereis nie.

In die saak voor die gelykheidshof het AfriForum ʼn kousale verband tussen die gewraakte lied en plaasmoorde en -aanvalle aangevoer. Volgens die hof kon AfriForum in hierdie opsig nie voldoende bewyse lewer nie.

Die EFF se saak

Adv. Tembeka Ngcukaitobi het Maandag namens die EFF, Malema en Ndlozi geargumenteer dat die betrokke liedjies nie neerkom op haatspraak nie omdat dit nie voldoen aan een van die twee vereistes soos hierbo uiteengesit nie.

Volgens die EFF is die lied eerstens nie gemik op mense van ʼn spesifieke ras, etnisiteit of sosiale herkoms nie wat beteken geen van die verbode gronde soos uiteengesit in artikel 10 word oortree nie.

Ngcukaitobi het aangevoer die lied is eerder gemik op die stelsel van ongelyke grondbesit.

Verder het die EFF aangevoer dat die liedere nié neerkom op aanhitsing van geweld nie omdat dit figuurlik, eerder as letterlik geïnterpreteer moet word. Siende dat dit ʼn struggle-lied is, het dit ʼn bepaalde en algemeen aanvaarde betekenis en doel.

Selfs gemeet aan die objektiewe toets soos hierbo uiteengesit, het Ngcukaitobi aangevoer, is die breë publiek oor die algemeen en EFF-ondersteuners in besonder genoegsaam ingelig oor die historiese konteks van die lied dat hulle nie redelikerwys sal glo dat dié uitsprake tot geweld sal kan lei nie.

Gevolglik kan daar nie aangevoer word dat ʼn duidelike bedoeling bestaan van die EFF, Malema of Ndlozi om haat of geweld teen ʼn bepaalde groep aan te vuur nie.

In die lig hiervan het Ngcukaitobi aangevoer word daar nie voldoen aan die artikel 10-vereistes nie wat beteken die betrokke liedjies kom nié neer op haatspraak nie.

Die Vryemarkstigting se saak

Adv. Mark Oppenheimer het namens die Vryemarkstigting as vriend van die hof aangevoer dat die status van die EFF as party asook Malema en Ndlozi as individue ingevolge die Qwelane-saak ook in ag geneem moet word in die skadetoets.

Weens dié figure se politieke prominensie moet hulle aan ʼn hoër standaard gemeet word juis vanweë hul invloed.

So ook kom ʼn ontkenning dat die lied gemik is op Afrikaners as kultuurgroep neer op die hantering van Afrikaners as tweedeklasburgers. Die Vryemarkstigting het ook by monde van Oppenheimer aangevoer dat die hof die grondwetlike beginsel van nierassigheid ondermyn deur dubbele standaarde te skep vir die hantering van beweerde haatspraak afhangend van die ras van die oortreder en die slagoffer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

piet ·

Die regters vat tyd om die saak/feite/getuienis te evalueer bestudeer, ens. Daar sal ook meer as een Appelregter wees, elkeen lewer sy eie uitspraak en die meerderheidsuitspraak is deurslaggewend. So se nou daar was 5 Appelregters. As 3 saamstem met mekaar, vorm dit die meerderheidsuitspraak wat dan gelewer en die bindende hofbevel word.

Prikkie ·

En hoeveel plaasaanvalle en moorde sal nog plaasvind voordat daar uiteindelik uitspraak gegee word.

Ek verstaan dat dit ‘n komplekse saak is, maar kan die appélhof regters nie ten minste gesê het hoe lank hulle dink dit gaan neem voor daar uitspraak gegee word nie.

Sean ·

Ag nee man Swak berig Wat gaan nou eintelik aan??? Voorbehou beteken niks

Johan ·

Hulle sal nou dit erger maak net om “spiteful” te wees. Ek weet nie meer nie.. Ek KAN nie meer nie!

Braham ·

Net jammer die engelse wit regter is so openlik vyandig teenoor Afriforum. Sy sal seker maak dat die saak sloer

Owlie ·

Wel as men’s by al die wetlike benamings van ʼn spesifieke ras, etnisiteit of sosiale herkoms verby kyk en net na die bewoording en betekenis “kill the boer kill the farmer” kyk is dit baie duidelike haatspraak want dit sê duidelik “kill the boer kill the farmer” wat beteken maak die boer dood – dit hoef nie na n sekere ras, etnisiteit of sosiale herkoms te verwys nie – dit verwys direk na die boer van enige ras, taal, etnisiteit of sosiale herkoms Daardie boer wat vir kos sorg, daardie boere van alle tale en vel kleure. Dis regtig tyd dat hierdie politiese speletjie van ras ophou en die so called “struggle lied” is eintlik die boere wat struggle onder die wat net wil hê. Hoeveel mense het al plase grkry en maak n sukses daarvan? As hierdie lied voortgaan kan al ons sangers mos enige liedere skryf en sing solank daar nie na spesifieke mense van ʼn spesifieke ras, etnisiteit of sosiale herkoms verwys word nie.

Leana ·

Hulle het nog altyd na ‘n afrikaner as ‘n boer verwys, nie net na ‘n persoon wat boer nie.

SjN ·

Kan ons dan ook selfde sing en die woorde vervang met kill the driver, kill the taxi??

marius ·

Dan moet daar ‘n Afrikaanse lied uitgebring word wat ook nie letterlik opgeneem mag word nie soos Wis Boere Moordenaars Uit. Punt.

Aai ·

Al wat ek kan se terwyl hulle struggle liedjies gesing het ,het ons ,ons toekoms gebou dit is hoekom die Afrikaner nie struggle liedjies het hulle sal nooit gelukkig wees sing maar en bly agter in tyd.

Fontein Tannie ·

Ek verstaan nie waaroor die herrie gaan nie. As mens vat “Kill the ….” en dit volg met ENIGE ander beroeps rigting en uitsing in die strate gaan jy gou gou toegesluit word! Waarom? Want jy plaas n teiken op die rug van enige een met so n lied….

Danie ·

Dan moet ons nou maar n lied komponeer wat dalk so se. Die Afrikaner bul sien rooi. Die Afrikaner bul sien rooi, met sy kop gesak en sy horing in die lug vee die Afrikaner bul sy vyand plat.

Vonkprop ·

Hy val lekker op die tong. Ek oefen hom tydens my 4 ure beurtkrag skedule.

Sue ·

Hoe kan Enige hof sulke uitsprake duld teen die boere wat hulle burgers se kos voorsien?

Allies ·

Weer n lui regter wat nie haar besluit kan neem nie. Moet seker eers by die grootbaas gaan vra wat moet sy sê ????????

Johann ·

Ook net in die ANC se demokrasie kan jy moord op ‘n spesifieke groep Suid Afrikaners aanhits en howe moet daaroor dink of dit aanvaarbaaris?

Blikkantien ·

En dan word daar gesê die ou landsvlag is haatspraak omdat dit mense se gevoelens seermaak. Dieselfde mense wat so sensitief is daaroor dink nie tweemaal om bloeddorstige moord te pleeg nie.

Papsak ·

Alles te danke aan malema en sy kaders laat ons boere so val en hulle plase so brand niemand anders hy is oorsaak haatlik

JohanR ·

In watter ander land in die wereld sal die geduld word as iemand skree maak dood die boere. In Frankryk, Amerika, VK, Australia sal jy deur die mense gejaag word en ‘n paar lekker warm skope en klape kry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.