Uitstel van saak wys 16 dae-veldtog ‘net lippediens’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Anja van der Merwe)

Die molesteringsaak van ’n tienjarige kind wat reeds vier jaar gelede aangemeld is, is Maandag vir die soveelste keer in die Brits-streekhof uitgestel.

Die betrokke saak is nou tot Mei 2023 uitgestel sodat die staat eers alle verhore wat gedeeltelik aangehoor is, kan afhandel. Eers dán sal die dogtertjie se ouers verhoor kan word, het die staatsaanklaer verduidelik.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê nou hy het vandag weer in dié hof beleef dat die regering se sogenaamde toewyding tot die stryd teen geweld teen vroue en kinders blote lippediens is.

“In hierdie saak het een van die beskuldigdes na bewering sy vyfjarige stiefdogter verkrag en seksueel aangerand,” vertel Natasha Venter, raadgewer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Hy het haar ook na bewering met ’n belt aangerand en haar mond tydens die aanvalle toegedruk, sou sy huil. Die kind se ma was volgens bewyse bewus van die beweerde verkragting en het aand ná aand gehoor hoe haar dogter huil.”

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in Julie verlede jaar by die saak betrokke geraak nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) “ondanks oorweldigende bewyse” die klagte teen van die beskuldigdes teruggetrek het.

Die klagte is sedertdien heringestel.

“Die herinstelling van die klagte is egter ’n skrale troos as ’n mens in ag neem dat daar van hierdie tienjarige dogtertjie verwag gaan word om oor die mees traumatiese ervarings van haar jong lewe te getuig – jare nadat dit met haar gebeur het.

“Ons het ook al ervaar dat aanklaers (veral in Brits) geneig is om sake soos hierdie uit te gooi omdat die kind volgens hulle nie in staat is om te getuig nie. Dit is waar dat sake waar kinders die slagoffers is, moeiliker is om te vervolg, maar waar die staat die nodige moeite doen, is dit nie onmoontlik nie. Dit blyk egter dat hierdie toewyding ontbreek.”

Venter sê voorts die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders beteken niks indien daar geen verbetering is op die vlak waar dit eintlik tel nie – die howe.

Action Society het Maandag op sy beurt gesê die jongste misdaadstatistieke skets “’n hartseer, sieklike en onaanvaarbare prentjie van hoe die land kinders in die steek laat”.

Die drukgroep het daarom vandag ’n veldtog van stapel gestuur om druk op die ministerie van polisie én justisie te plaas om borgtog vir enige oortreder teen kinders te weier.

“Geen kind behoort ooit in gevaar te wees omdat die regstelsel hulle nie beskerm nie,” sê Kaylynn Palm, aksiesentrum-koördineerder by Action Society.

  • Luidens die jongste statistieke is 864 kinders in die eerste nege maande van 2022 in Suid-Afrika vermoor, terwyl 909 die slagoffers van poging tot moord was. Altesame 5 502 sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer is gedurende dié tydperk aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rocco ·

Siek mense wat kinders aanrand en molesteer. Wees sterk kindjie – my wens is dat jy in ‘n liefdevolle huis eindig, waar jy gekoester sal word

Nico ·

Van die ouers put genot daaruit om onskuldige kinders te molesteer, dan is die howe te pateties om iets aan die saak te doen net so is die polisie ook lamsakig.

Danie ·

Een van die dae moet klaers betaal om hul sake aan te hoor.Dept justisie onbekwaam spesialiseer slegs in uitstelle.En die kersie op die koek die meeste aanklaers is blank.

Lillian ·

Die 16 day veldtog is ‘n mors van geld, en die bewys daarvan is die hoë syfers van seksuele misdrywe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.