Uittog van speurders wek kommer

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Twitter)

Genl. Fanie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het Woensdag in antwoord op ʼn vraag van die DA in die parlement onthul dat die polisie 8 400 speurders sedert die 2016‑’17‑ finansiële jaar verloor het.

Ses jaar gelede het die speurmannekrag op ongeveer 26 000 gestaan​, die syfer staan egter vandag op sowat 17 600.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, sê die DA het voorheen die uitputting van speurders binne die polisie blootgelê, maar Masemola se onthulling het die volle omvang van die krisis oopgevlek.

“Die verlies van duisende bekwame speurders word vererger deur die feit dat diegene wat in die speurdiens agterbly, ook ʼn tekort aan voertuie het. Die DA het voorheen aan die lig gebring dat tot 26% van speurvoertuie in sekere provinsies buite werking is.

“Tydens die aanbieding van die polisie se jaarverslag vir 2022‑’23 het die DA op die krisis in die speurdiensprogram gefokus, waar daar bevind is dat alhoewel die polisie 99,8% van hul begroting bestee het, hulle net 43% van hul teikens in die program bereik het,” sê Whitfield.

“Nog erger, sleuteldepartemente soos die kriminele rekordsentrum en die forensiese wetenskap-laboratoriums het nie enige van hul teikens in die boekjaar behaal nie.”

Whitfield sê ʼn voorbeeld van onderprestasie waarna daar in die jaarverslag verwys word, is die vermoë om georganiseerde kriminele groepe hok te slaan.

Hy sê die polisie het hopeloos gefaal in hulle teiken om 70% van geïdentifiseerde georganiseerde misdaadgroepe te neutraliseer.

“Waar die teiken 70% was, het die polisie slegs in 22,9% van die gevalle (11 uit ʼn totaal van 48) inhegtenisnemings gemaak. Altesaam 51 verdagtes is in hegtenis geneem.

“Die afwyking van die teiken onderstreep die werklike krisis binne speurdienste. Daar word selfs gesê daar is ʼn gebrek aan kapasiteit wat betref eenhede wat georganiseerde misdaad moet hanteer en dat die ontwikkeling van daardie lede wat binne die georganiseerde misdaadomgewing werksaam is, onvoldoende is.”

Whitfield meen speurders is hoogs bekwame polisiebeamptes wat van kritieke belang is om ʼn gehalte‑ondersoek te verseker wat tot die suksesvolle vervolgings van misdadigers lei.

“Ongelukkig het talle toesigbesoeke aan die lig gebring dat speurders oorwerk is en onderbetaal word, wat ʼn realistiese kans vir sommige slagoffers om geregtigheid te vind onmoontlik maak.”

Hy sê hy het tydens 2022 se SONA-debat pres. Cyril Ramaphosa uitgedaag om spesialisvaardighede in die polisie te werf.

“Ek is bly dat daar gehoor gegee is aan hierdie oproep deur ʼn herinskrywingstrategie om ervaring en vaardighede na die polisie terug te bring. Dié strategie het egter volgens die nasionale kommissaris net die heraanstelling van 68 speurders opgelewer, wat minder as 1% is van die totale getal wat die polisie verloor het.”

Whitfield meen lae moraal, swak vaardighede en ervaringsverlies, tesame met die hoë vakaturekoers, lei tot ondersoeke van ʼn swak gehalte, wat weer lae skuldigbevindingskoerse tot gevolg het.

“Speurders is noodsaaklik vir geregtigheid en hierdie krisis moet dringend deur die minister van polisie, Bheki Cele, hanteer word,” sê Whitfield.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

henno ·

dit is ‘n krisis, ek is laas jaar deur gewapende mans oorrompel, op agterste sitplek gegooi en om lang storie kort te maak laat gaan na 90 minute van hel. saak gemaak, polisie het gebel en gevra of ek die rowers ken, ek het gese nee en hul het doodeenvoudig toe gese dat hul ongelukkig dan die saak sal moet toemaak….daar is niemand wat meer sake ondersoek en uitgaan om boewe te vang nie

Suzette ·

Die belanstelling om sake te ondersoek en die skelms te vang is nie in die beste belang van vandag se speurders nie. Net solank hulle elke einde van die maand betaal word is hulle gelukkig. Ongelukkig is van die beste speurders wat die langste diens jare gehad het nooit bevorder nie want hulle het hulle werk gedoen en kon nie studeer soos die nuwes nie.

Delia ·

Jy het n punt beet. En die met kwalifikasies en min ondervinding word in hoër poste aangestel

Saint ·

Ek was ook daar. Met kwalifikasies 39 jaar ondervinding en alles. Maar kantoorpolitiek, gebrek aan bevordering en vele ander struikelblokke het ek maar ook totsiens gese.

Heinrich ·

Lyk my die ‘hooggeplaastes’ het nog nooit gehoor van ‘n toksiese werksomgewing nie. En die ANC het die bloudruk van hoe om ‘n werksomgewing totaal ondraaglik te maak. Maar nou ja, Oom Jan v R moet seker maar pa kom staan vir die een ook.

Peter ·

Kan hulle blameer word terwyl die “titanic” halfpad onder water is?

Althes ·

Om ñ speurder in SA te wees is geen grap nie.

Party ondersoeke is lewensbedreigend vir hul familie en hulself. Hul kry minimum ondersteuning van SAPS. Kyk nou maar na Charl Kinnear en daardie gewese Valke speurder wie se pa doodgeskiet is, toe hy die teiken was.

Verder glo ek word speurders letterlik onder klomp sake wat hul moet ondersoek begrawe

Niklaas ·

Fanie se stelling sal beslis nie dien as afskrikmiddel vir die kriminele nie.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Cele is die probleem, hy kan nie deel van die oplossing ook wees nie.

Anel ·

Behalwe die tekort aan voertuie word die wat beskikbaar is gebruik om lede huis toe en terug te vervoer! Ek weet ook van verskeie lede wat heraansoek gedoen het, maar vir geen rede nie aanbeveel is nie, mense wat beteid was om hul ervaring weer terug te plorg. Masr hulle was seker van die verkeerde bevolkings groep. En dan die korupsie! Jy kan nie ‘n behoorlike operasie reël nie want die inligting lek uit, deur srkere lede wat vriende is met die kriminele. So, ja, dasr is werklik nog hardwerkende speurders, van alle bevolkingsgroepe, wat ook keelvol is vir misdaad maar geen ondersteuning kry nie. Sal maar niks verder sê nie.

Andre ·

Die huidige speuderskorps is nnie bevoeg om misdaad-ondersoeke behoorlik te doen nie,en daarom misluk die sake in die Howe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.